Uittreksel: Wat die hart begeer deur Amelia Strydom

Wat die hart begeer, Amelia Strydom se jongste Satyn-liefdesverhaal, speel af in die skilderagtige ruimte van Noetzie naby Knysna. Lees ’n lekker uittreksel waar Mienke Langeveldt die kastele in Noetzie vir die eerste keer sien . . . terwyl sy in Franco Greeff se arms is:  

Wat-die-hart-begeer-cov_finalHulle stap in stilte see toe. ’n Houtbruggie lei oor ’n strook rotse tot op die privaat strand. Toe haar voetsole in die sand wegsak, vloei die spanning uit Mienke. Vitamien See. Beter as enige chill-pil, selfs op ’n grou en mistige oggend.

“Ons haal jou band af,” sê Franco vir Kaptein, “ma’ jy gaan nie huis toe nie, verstaan?”

Sy rol haar broekspype op en drentel vooruit. Miskien kry hy die boodskap dat sy eerder alleen wil wees met haar chaotiese gedagtes. Net duskant die soom van die water val hy egter weer langs haar in. Hulle stap tot waar skuimborrels in die blink sand oopbars.

Toe die eerste golfie oor haar tone kabbel, moet sy haar verrassing deel: “Haai, dis warm.”

“Sal dit nou nie warm noem nie, maar dit ís darem die Indiese Oseaan. Moenie skrik vir die weer nie, ons swem somer en winter in die riviermond.”

“Gaan jy my wys waar?”

“Sure. Mens kan daarso oor die rotse klim, maar die paadjie is makliker vir Kaptein.”

Hulle stap terug oor die bruggie. Af met die voetpad wat sy vanuit haar kamer gesien het, tussen boomvarings en oorhangende takke deur. Die lug ruik na klam grond en verrottende plantmateriaal.

Die hoofstrand is groter as wat sy verwag het, hoewel die grense in die mis vervaag.

“Gety is ver terug.” Franco buk om ’n stok op te tel, en slinger dit water se kant toe. “Hei, Kaptein, gaan haal!” Die brak kyk anderpad. “Pft, patetiese verskoning vir ’n hond.”

“Lekker jok jy nou, jy sal hom nie verruil nie. Wanneer ek teruggaan Pretoria toe, gaan ek vir my ook ’n boelhond kry.” As voorsorgmaatreël teen allenigheid, net ingeval sy ’n raps té geheg aan Bellavista se inwoners raak.

“Huistoegaan-praatjies? Ek moes laas nag luister na Audrey se planne met jou en jou silwer nail polish.”

“Ek dink maar net vooruit.”

“’n Girl vir reëls én langtermynbeplanning.”

Presies hoekom verstaan sy nie, maar sy aanmerking het die effek van ’n vuurhoutjie by ’n gasvlam.

“En dis ’n helse karakterfout?” ontplof sy voor sy haar kan bedink.

Continue reading

Jongste liefdesverhale: Wat die hart begeer, Sag fluister my hart en Geheime liefde

Hallo, liewe lesers, ons jongste liefdesverhale is beskikbaar in ’n oulike nuwe handsakgrootte teen ’n ongelooflike nuwe sakpasprys. Kliek op die skakels onderaan elke boek se beskrywing om jou kopie by een van ’n groot verskeidenheid handelaars te koop. Lekker lees! – Van jou hartsvriendin xxxx

Wat die hart begeer – Amelia Strydom

9780624076681---Wat-die-hart-begeer-cov_finalMienke Langeveldt het ’n tweede kans op die lewe ná sy ’n skenkerhart ontvang.
Sy vind per abuis uit dat die skenker aktrise Sheralize Myburgh was en wil haar dankbaarheid teenoor die wewenaar, Franco, en sy kind, Audrey, bewys sonder dat hulle uitvind wie sy is.
Daar word gegis dat Sheralize se dood nie ’n ongeluk was nie. Mienke is lugtig vir Franco, maar ook sterk tot hom aangetrokke. Is dit sellulêre geheue? Voel sy net wat Sheralize gevoel het? Of is Franco die man wat Mienke wil hê?

Koop dit nou! Takealot | Kobo e-boek | Loot | Bargain Books | Graffiti | Exclusive BooksRaru | Amazon Kindle

Sag fluister my hart – Schalkie van Wyk 

9780624076742---Sag-fluister-cov-_finalAs prinsipale moet Sandri Blanchet haar waardig gedra. Maar toe Marko Waalstra beskuldigings rondslinger, vergeet sy van protokol terwyl die vonke spat. Hy is besorg oor sy susterskind wat met Sandri se halfbroer uitgaan en stel voor hulle moet mekaar beter leer ken ter wille van dié tweetjies, maar Sandri skop teë. Mettertyd sien sy ’n sjarmante sy van Marko. Maar toe ’n anonieme brief Marko se identiteit in twyfel trek, is Sandri nog meer onseker oor haar gevoelens vir hom . . .

Koop dit nou! Takealot | Kobo e-boek | Loot | Bargain Books | Graffiti | Exclusive BooksRaru | Amazon Kindle

Geheime liefde – Malene Breytenbach

9780624076711---Geheime-liefde-cov-_finalToe digter AA Sutherland se verlore joernaal ontdek word, kan PhD-student Diana Malan nie wag om dit te bestudeer nie. Dalk vind sy uit wie die vrou is na wie hy in sy gedigte verwys. Maar ai, die joernaal moet eers gerestoureer word. Boonop daag Sutherland se agterkleinseun, Alex Erskine, daar op en dring aan om dit te sien. Dié fassinerende Skot trek Diana soos ’n magneet aan. Maar hy kuier blykbaar by die beginsellose Beryl, terwyl Diana se eks haar met ’n seer hart wil terughê . . .

Koop dit nou! Takealot | Kobo e-boek | Loot | Bargain Books | Graffiti | Exclusive BooksRaru | Amazon Kindle