Luister na Malene Breytenbach se onderhoud op RSG Skrywers en Boeke

Malene Breytenbach is een van Afrikaans se mees bedrewe skrywers met meer as 30 liefdesverhale en 6 romans op haar kerfstok. Sy het onlangs op RSG se Skrywers en Boeke-program met Suzette Kotzé-Myburgh gesels oor haar skryfwerk.

Sy beantwoord onder meer die volgende vrae:

  • Wat is die verskil tussen ’n romanse en ’n roman?
  • Waar kom haar skryflus vandaan?
  • Hoe lyk haar skryf-werkswyse?
  • Waar kom haar storietemas vandaan?
  • Hoe vind haar studies neeslag in haar werk?
  • Wat is die moeilikste van skryf?
  • Hoe doen sy haar navorsing?

Die onderhoud begin by 5:40. Luister na die potgooi:

 

(Of luister op RSG )


Van sorg na liefde deur Malene Breytenbach was NB-Liefdesverhale se Mei boek van die maand. 

Koop dit nou!  Raru | Graffiti Takealot (eboek) | Amazon (eboek) |

 

 

Lees ’n uittreksel uit Droomman aan boord deur Elsa Hamersma

Ná ’n motorongeluk herstel Victoria Vermaak op ’n luukse bootreis saam met haar ouers en vriendin Belle. Maar Belle herdoop dit gou na die manvang-vaart. Victoria loop vir Bartho Krüger raak wat ook op die reis herstel ná ’n ski-ongeluk hom tydelik aan ’n rolstoel gekluister het. Is hy Victoria se droomman? Wat van sy broer, Lukas, wie se aanraking haar vel byna aan die brand laat slaan …?

Lees ‘n uittreksel uit ons November boek van die maand, Droomman aan boord deur Elsa Hamersma:


wedding-cruises-ship-sunset-1

Toe hulle op twee behoorlike stoele regop langs mekaar sit en na die horison kyk waar die oranje stadig in purper vervloei, voel Victoria steeds of haar binnekant bewe. Die glas wyn wat hy vir haar aangee, vat sy versigtig sodat hulle vingers nie raak nie.

“Op ’n wonderskone aand op die Queen Mary. Ek is weer bevoorreg om te kan klink met die mooiste vrou aan boord.”

Sy verstaan nie waarom hy haar soveel komplimente gee nie. Dit is die derde keer wat hy haar vertel dat sy vir hom mooi is. Kan dit werklik wees dat hy haar só sien? ’n Bottersagte gevoel van geluk streel deur haar. Sy lig haar oë na syne om die heildronk te erken en haar glas teen syne te klink. “Op vrede en vreugde,” sê sy sag.

“Ja, dat die wêreld ’n beter plek sal wees vir ons kinders se kinders.”

“Ons kinders.” Sy proe-proe aan die woorde. “Wil jy eendag kinders hê? As jy groot is?” Sy probeer die geselskap op ’n ligter noot kry, maar besef te laat dat hulle nou op selfs ernstiger terrein is.

“Nee,” sê hy en kyk oor die see. “Daarom is ek die geswore oujongkêrel van my familie.”

“O! Hoe so?”

“Omdat die wêreld in so ’n gemors is. Dit gaan nie goed op moeder aarde nie en een probleem is klaar oorbevolking. Natuurlik kan ’n mens trou sonder om kinders te hê, maar selfs al kom ek met ’n vrou só ooreen, voel sy dalk later anders . . . Boonop is geen voorbehoeding een honderd persent doeltreffend nie.”

Sy sluk swaar. Dis nogal ’n jammerte. ’n Verlies vir die vrouegeslag. “Kyk net hoe mooi het die water na pienk verkleur.” Sy wys oor die oseaan voor hulle.

“Ek het mos gesê dis mooier buite as binne.”

“Waar’s Bartho? Is hy by die skemerkelkie? Of weet jy al weer nie waar hy is nie? Ek sou gedink het dat hy ook die sonsondergang sou wou geniet.” Sy moet op Bartho konsentreer.

Victoria skrik amper toe Lukas aan die lag gaan.

“Jy’s ’n snaakse mensie, weet jy dit? Jy is absoluut oortuig dat Bartho my saamgebring het op die boot om hom op te pas. En jy laat geen ander variasie daarvan toe nie.”

“Ek is nie snaaks nie.” Van mooi na snaaks. Sy verstaan glad nie wat hy so amusant vind nie.

“Nie snaaks, ha-ha, nie,” stel hy haar gerus. “Vreemd snaaks omdat jy besluit het dat Bartho my hulp nodig het en my ‘gehuur’ het om hom op te pas.” Sy vingers maak die aanhalingstekens in die lug.

“Seker nie gehuur nie. Doen mens nie sulke goed vir jou broer of suster uit liefde nie?” vra sy ietwat verward. Sy het skielik besef dat sy seker nie ’n ekspert is op verhoudings tussen sibbe nie. Maar sy en Belle sou mekaar versorg het soos Belle inderwaarheid nou doen. Miskien nie daadwerklik nie, korrigeer sy haarself, want sy is darem nie in ’n rolstoel nie, en dit was ook nie die veronderstelling dat Belle haar dag en nag sal oppas nie.

“Oor Bartho hoef jy jou nie te bekommer nie. Hy is groot en sterk genoeg om na homself om te sien. Hy verwag ook niks meer van my as wat ek reeds doen nie.”

Sy sit haar glas neer, want sy wil nie met hom stry nie. “Ons sal moet ingaan. My ouers, Bartho en Belle wag seker al almal in die restaurant vir ons.”

“Of ons kan hier bly en die aand in stilte geniet.”

“Nee, eh . . . ek kan nie. Belle sal my kom soek en my ma-hulle wil ten minste een keer per dag sien dat ek nog lewe.”

Sy gesig kry ’n nadenkende trek. “Hulle is baie beskermend teenoor jou.”

“Ja.” Dit help nie om dit te ontken nie. Sy haat die gevoel dat hulle haar oppas. Op die boot waar hulle haar daagliks sien, is dit erger. Sy staan op uit die stoel, maar swik effens op haar hoë hakke.

Lukas was in die proses om op te staan en spring vorentoe om haar te help. Toe Victoria haar kom kry, staan sy in die kring van sy arms, hulle lywe feitlik teenmekaar.

“Jou skoene is mooi, maar die hakke is gevaarlik hoog.” Sy stem is naby haar oor. Onverwags lig hy sy hand en druk haar hare agter haar oor in. Van haar oor af trek sy vinger ’n brandende streep oor haar wang en dan laer, oor haar nek.

Dit voel asof die laaste druppel bloed in haar lyf na haar kop toe stroom. Logika en rede vlieg op gretige vlerke weg. Al wat sy sien, is dat Lukas se mond skaars sentimeters van hare af is en dat die effense donker skadu oor sy bolip baie manlik en aantreklik is.

Sy hou op dink toe sy lippe liggies oor hare vee.

“Jy is vreemd snaaks en baie mooi,” sê hy grof en staan gou terug, amper asof hy haar gedagtes kan lees. “Miskien is jy reg en moet ek nou dadelik gaan kyk wat my broer doen en of hy regkom.”

“Dankie vir die wyn.” Haar mond gaan oop om nog iets te sê, maar sy kan aan niks dink nie. As sy nie nou loop nie, gaan sy ’n gek van haarself maak. Hom om sy nek gryp en daardie warm mond van hom soen totdat sy uitasem is en te moeg om ’n voet te versit.

Hy laat haar sonder kommentaar gaan.


 

droomman-aan-boord-covDroomman aan boord deur Elsa Hamersma is NB-Liefdesverhale se boek van die maand in November!

Koop dit nou! Takealot Reader’s Warehouse | Raru | Graffiti Amazon Kindle

Boek van die maand in November: Droomman aan boord deur Elsa Hamersma

droomman-aan-boord-covDroomman aan boord deur Elsa Hamersma is NB-Liefdesverhale se boek van die maand in November!

Victoria Vermaak se ouers nooi haar saam op ’n luukse bootreis om te herstel ná sy in ’n motorongeluk betrokke was. Haar lewenslustige vriendin Belle, wat saamreis, het egter nie net herstel in gedagte nie: Sy het die bootrit na die MVV – die manvang-vaart – herdoop en is vasberade dat sy en Victoria voor die einde van die vakansie elk ’n nuwe manlike bewonderaar moet hê.

Op die boot loop Victoria vir Bartho Krüger raak, die sakeman wat sy die aand van die motorongeluk ontmoet het. Hy herstel ook op die vaart ná ’n ski-ongeluk hom tydelik aan ’n rolstoel gekluister het. Hoewel die besonderhede van hul eerste ontmoeting vaag is, onthou Victoria dat hy vir haar presies gelyk het soos sy haar droomman voorstel.

Is Bartho werklik als waaroor Victoria nog altyd droom? Is dit net sy afhanklikheid van die rolstoel wat hom so nukkerig maak? Wat van sy broer, Lukas, wie se blote aanraking haar vel byna aan die brand laat slaan …?

Oor die skrywer:

Elsa Hamersma het grootgeword in Pretoria, waar sy skool en universiteit toe is. Ná haar huwelik met André werk en leef hulle twee-en-dertig jaar in Johannesburg. Ná aftrede trek hulle Stellenbosch toe en bou ’n vakansiehuis op Jakkalsfontein aan die Weskus.

Die lewe by die see wen hul harte en tans woon hulle voltyds op Jakkalsfontein. Elsa het al verskeie tydskrifverhale, romanses en ’n bekroonde jeugverhaal die lig laat sien.

Koop dit nou! Takealot Reader’s Warehouse | Raru | Graffiti Amazon Kindle

Boek van die maand in September: Onbeteuelde liefde deur Susan Pienaar

Onbeteuelde liefde deur Susan Pienaar is NB-Liefdesverhale se boek van die maand in September!

Isabella Santarelli keer uit Italië terug na haar geboorteland, Suid-Afrika, om haar pa op sy Vrystaatse plaas by te staan nadat hy sy been gebreek het. Sy het haar internasionale modelloopbaan laat vaar en droom daarvan om ’n opleidingskamp vir saalperdruiters op hul plaas te begin.
Haar pa betrek die hulp van die buurplaas se eienaar, Nicholas Burger, ’n veearts en renperdteler. Die einste Nicholas vir wie Isabella die leviete voorgelees het toe sy hom vir ’n agtelosige vulstasie-eienaar aangesien het.
Ondanks dié eerste ontmoeting kan die vuurwarm Nicholas skaars sy oë én hande van Isabella afhou as hulle alleen saam is. En sý vaar nie veel beter nie, want Nicholas se ruwe manlikheid is darem net té aanloklik. Is dit die begin van ’n verhouding wat veel dieper as bloot fisieke aantrekking gaan? Of lê Nicholas net by Isabella aan om haar familieplaas te bekom?

Koop dit nou! Takealot | Loot | Reader’s Warehouse | Leserskring | Amazon Kindle

Vier lentedag met ’n inkleurprent!

Vier lentedag met ‘n inkleurprent geïnspireer deur die voorblad van Anita du Preez se wonderlike liefdesverhaal, Letitia en die lektor! Die skrywer het dit self ontwerp – is dit nie wonderlik nie?

Druk die prent uit en deel jou kunswerk op ons Facebook-blad en jy wen dalk ‘n getekende kopie van die boek:

Hygblomme

Letitia en die lektorLetitia en die lektor deur Anita du Preez was NB-Liefdesverhale se boek van die maand in Augustus.

Koop dit nou! TakealotVan Schaik | Raru | Amazon Kindle | Graffiti

Anita du Preez beantwoord ’n paar vrae

Ons hartsvriendin het vir Anita du Preez, skrywer van Letitia en die lektor, so ‘n paar vrae gevra om die persoon ágter Augustus se ‘Boek van die maand’ beter te leer ken:

Anita du Preez

  1. Wat het die sappige storielyn van Letitia die lektor geïnspireer?

ʼn Insident op die kampus waar ek klasgee.  Toe ruk dit heeltemal handuit in die storie en soos karakters maar dikwels doen, besluit die vark in die verhaal toe hy wil liewer die sexy held in die verhaal wees. Toe is hy.

  1. Margot en die meerman, Die wet van liefde, Bambi en die boef, Hermien en die hartedief … Waar kom hierdie lekker titels vandaan?

Sommer uit my kop. Ek hou van rymelary en alliterasie en so het dit so half my “thing” geword om die heldin se naam met dieselfde letter te laat begin as die bynaam van die held. Ek hou van my taal en dis lekker om daarin te mag speel.

  1. Vertel ons van jou skryfproses – waar, wanneer, vir hoe lank?

Sedert 2007/8. Eers in Port Elizabeth, toe in die Kaap en altyd voor my kamervenster. Ek begin met die  eerste sin en daar gaat ek. Lees alles honderd keer oor en oor en is nie sommer tevrede nie. Vol fiemies. Maar dis lekker!

  1. As inspirasie laag daal, waar gaan soek jy die muse? Of is die muse ’n mite?

Ja! Sy bestaan wel, maar sy besoek jou net as jy werk. Sy val nie uit die lug nie. Sy woon in jou sleutelbord, daar waar jou karakters ook sommer so onder jou vingerpunte uitspring en sê “hei! Skryf my!”

  1. Wat kan jou aanhangers volgende verwag?

Aanhangers? Het ek aanhangers? Sjoe dankie julle! Hang net nog ʼn bietjie aan daar gebeur dalk nog ʼn liefdesverhaal teen Desember.

  1. Enige raad vir die wat ook graag liefdesverhale wil skryf?

Skryf hom. As hy in jou kop woon sal hy nooit weggaan en jou uitlos voor jy hom skryf nie, dus het jy nie juis ʼn keuse nie. So skryf hom dat die sop spat! En moet hom nie in ʼn file wegsteek nie. Wys dit vir iemand. Jy weet nooit!

  1. Wat lees jy op die oomblik?

Pamela Jooste People Like Ourselves (weer nou net klaar), Tyne O’ Conell Sex< Lies and Litigation (besig mee), Praba Moodley The Ties That Bind, Henning Mankell se Kennedy’s Brain (wag altwee op die bedkassie) en ʼn hoofstuk uit my Holy Bible New International Version, saans voor ek slaap. Ek het ook so pas my oë toegeknyp en my beursie oopgemaak en Deon Meyer se KOORS gekoop. Dus lê dit nou bo op al die ander boeke op my bedkas!

DSC_0203

 

Letitia en die lektor

Letitia en die lektor deur Anita du Preez is NB-Liefdesverhale se boek van die maand in Augustus!

Koop dit nou: TakealotVan Schaik | Raru | Amazon Kindle | Graffiti

Lees ’n uittreksel uit Letitia en die lektor deur Anita du Preez

Letitia, die hoofkarakter in Anita du Preez se nuwe liefdesverhaal, het ’n lysie dinge wat sy wil doen om haar lewe reg te ruk ná haar egskeiding; ‘n lysie wat dien as katalisator vir opwindende nuwe dinge.

Lees ‘n kort uittreksel uit Letitia en die lektor om te sien wat staan op dié lysie:

list1


Dalk is Roelof reg. Dalk moet sy ’n lys maak. Ja. Sy moet haar lewe orden en ’n mens kan dit net doen as jy alles neerskryf en die kwessies konfronteer. Die blote gedagte laat haar kop ongenadig klop. Gelukkig lê die pakkie Panado’s nog net waar sy laas daarvan gedrink het en vieserig sluk sy twee saam met die laaste van haar koffie af. Toe plak sy die beker op die toonbank neer en trek die stapeltjie vasgekramde papiertjies wat as haar notaboekie dien nader. Sy vat die stomp potloodjie vas wat met ’n toutjie daaraan geheg is en skryf:

My lys:

1) Word fiks? Nee. Sy oefen genoeg. Sy krap dit dood.

1) Verloor gewig? Nee. Diëte maak haar net honger. Sy krap dit ook dood. Nou wat dan? Sy frons diep, knaag aan die potloodjie.

Begin weer teken. Ja. Ja. Ja. As almal net wil ophou karring, sal sy dit dalk regkry. Jeesh! Inspirasie laat haar nie opkommandeer soos mens ’n lig aanskakel nie. Skielik sien sy haar beeld glurend en fronsend in die sykant van die broodrooster weerkaats.

2) Make-over (self) skryf sy vinnig. Ja, oukei. Sy kyk om haar rond vir nog inspirasie.

3) Make-over (huis).

En net daar droog haar gedagtes op. Alles wat sy gelys het, klink onmiddellik so … wel, eintlik so beuselagtig. Verspot. Kleinighede. Sy kan om die dood nie dink aan een enkele ander aktiwiteit wat op so ’n lewensveranderende lys pas nie.

Wag, dink Letitia, sy het tog immers al dikwels na uitsendings gekyk waar skoonheidskoninginne en politici sê wat hulle sal doen indien hulle wen? Goed wat saak maak. Soos … red die aarde? Sy kou weer aan die punt van die potloodjie.

4) Herwinning. Hmmmm. Ja. Die groen ding.

Bewaar die aarde, skryf sy. Sy kan dit doen. Sy gebruik immers reeds die agterkante van ou vraestelle vir hierdie notaboekie. En sy gebruik haar tablet om met haar studente te kommunikeer. Goed. Sy vorder. Hierdie lysieding kan dalk net werk. Sy tel spoed op. Dalk iets omtrent haar lewensuitkyk?

5) Wees vriendelik en verdraagsaam. Sy sug. Dit gaan nie maklik wees nie, veral nie nou nie . . . maar nou ja, ’n lys is ’n lys is ’n lys. En sy is nou eenmaal aan die gang, is sy nie? En dis nie asof mense toustaan om met haar maatjies te wees nie. In elk geval nie dié wat met haar en Gunther vriende was nie. Nee, skielik is sy ’n sosiale melaatse. Vyfde wiel aan elke wa. Maar dit kan seker nie skade doen om net effens meer genaakbaar voor te kom nie?

6) Reik uit na ander mense, skryf sy volgende. Soort van dieselfde ding as nommer 5, maar nou ja. Die lys moet vol kom.

7) Gaan kuier meer vir Ma. Definitief. Sy kou weer aan die potlood.

8) Kry nuwe man in my lewe? Nee. O, nee. Sy krap dit so heftig dood dat die potloodjie se punt tot op die hout afbreek en die papiertjie skeur.

Genoeg vir eers. Sy gaan staan weer voor haar hangkas. Nou toe, nommer twee op die lys is mos make-over. So, staal jouself, daar sal dan seker maar gemake-over moet word?

Die een aaklige, lang romp met bruinerige Persiese patrone na die ander word van die hangers afgeruk, summier verwerp en op die bed neergesmyt. “Weg met julle!” raas sy binnemonds. As ’n mens soos ’n mat lyk, moet jy nie kla as daar oor jou geloop word nie. Die leersandale met die verweerde kurksole beland volgende op ’n hopie op die vloer. Die gier dat ’n kunstenaar soos ’n frieken bag-lady moet lyk, is lankal verby.

Letitia draai ergerlik om. Skielik is dit asof sy iets vir die eerste maal in maande geniet. Sy moes lankal beheer geneem het. Roelof was reg. Hierdie lysieding werk.


Letitia en die lektorLetitia en die lektor deur Anita du Preez is NB-Liefdesverhale se boek van die maand in Augustus!

 

Koop dit nou! TakealotVan Schaik | Raru | Amazon Kindle | Graffiti