Nuut: Satyn Omnibus 6

Drie sexy liefdesverhale deur drie gewilde skrywers verskyn hierdie maand in Satyn Omnibus 6:

satyn-omnibus-6-cov_finalIn Om minder lief te hê deur Ettie Bierman is Arabel ná net ’n jaar van getroude lewe van Henning geskei. Hy het padgegee en ’n pos as vlieënier by ’n Australiese lugredery aanvaar. Maar nou, ses jaar later, ontmoet hulle weer op ’n Hongkong-vlug. Hierdie keer is sy lugwaardin en hy haar kritiese bevelvoerder. En die aantrekkingskrag smeul nog net so sterk tussen hulle.

In Margot en die meerman deur Anita van Tonder gaan hou Margot vakansie in Zanzibar – stoksielalleen. Daar is niemand wat haar ken nie. En ook niemand om dit saam met haar te vier wanneer sy uitvind dat sy haar M.A. in Musikologie cum laude verwerf het nie. Dan verskyn Konrad op die toneel: diepseeduiker, eksoties, atleties. En jonger as sy.

En in Hartstog in Malawi deur Lizet Engelbrecht word Rochelle deur haar baas gestuur om die enigmatiese Sir J.C. Auther op te spoor, voordat die publiek óf die pers besef dat hy in Malawi wegkruip. Maar vandat sy in Malawi land, ontspoor haar goeddeurdagte plan. Sy ontmoet ene kaptein Costa en die vonke spat onmiddellik.

Koop dit nou! Van Schaik | Loot | Takealot | Graffiti | Amazon Kindle

Lees ’n uittreksel uit Die nimmer-nimmer-berge soos in Tryna du Toit Omnibus 11

In Tryna du Toit se liefdesverhaal Die nimmer-nimmer-berge, wat oorspronklik in 1953 verskyn het, moet Sarie de Klerk ná haar ma se dood na hul plaas terugkeer om vir haar pa en broer te kom huishou. Sy voel vasgevang in haar eensame bestaan, totdat die buurplaas ’n nuwe eienaar kry …

Lees ‘n uittreksel uit hierdie nostalgiese verhaal:


Op die dorp ry Sarie eers by die motorhawe aan om te hoor of die onderdele wat haar pa vir die bakkie bestel het, gekom het. Gelukkig is dit daar en nadat sy dit laat inlaai het, ry sy reguit poskantoor toe, waar André se brief wel op haar wag. Daar is ook ’n brief van Louise, haar skoonsuster. Sy bêre die briewe in haar handsak en tel die tydskrifte op toe ’n jong man langs haar kom staan.

Dis hulle buurman, Herman Bouwer, die nuwe eienaar van Uitkyk.

“Goeiemôre, juffrou,” groet hy beleef.

“Gaan dit goed?” “Goed, dankie,” antwoord sy skamerig en wonder waar- om sy altyd so jonk en verleë in sy geselskap voel. Is dit sy  koel, amper ongenaakbare houding of is dit maar net omdat hy, ten spyte van hulle buurskap, nog feitlik ’n vreemdeling vir haar is?

Hy vra na haar pa en nooi haar dan tot haar verbasing om ’n koppie tee saam met hom te gaan drink.

Hulle stap saam na die kafee daar naby en terwyl hy die tee bestel, bestudeer sy hom ongemerk. Herman Bouwer is omtrent dertig jaar oud, lank en skraal met sterk, breë skouers, donker hare, helderblou oë en ’n ferm mond. Die swaar, donker wenkbroue gee sy gesig ’n streng voorkoms.

Hy draai skielik sy kop en sy bloos, vies en verleë dat hy haar betrap het.

“Is jou pa ook op die dorp?” vra hy.

“Nee, Pa is besig om te ploeg. Ek het alleen gekom.”

“Is jy nie bang om alleen rond te ry nie?” vra hy en sy kyk verbaas op.

“Nee, ek is nie bang nie,” antwoord sy geamuseer. “Dis net ongerieflik as die ou Chev die dag vol nukke is.”

Hy frons, maar antwoord nie. Die kelnerin bring die tee en Sarie skink vir hulle in. Toe sy sy koppie aangee, vra hy: “Wanneer begin jou pa skeer?”

“Volgende week.”

“Hoe lank verwag julle om besig te wees?”

“Ek weet nie. Seker so drie, vier weke.”

“Ek kry die skeerders na julle. Ek sal maar later weer hoor hoe dit vorder.”

“Dit sal die beste wees,” sê sy koel. Is dít waarom hy haar genooi het om saam met hom tee te drink, om oor die skeerders te gesels?

“Wanneer gaan jy terug plaas toe?” vra hy onverwags en weer kyk sy verbaas op.

“Sodra die skool uitkom. Pa wil hê Hannes moet hom nog vanmiddag met die ploeëry help.”

“Jou broer skryf vanjaar matriek, nie waar nie?”

Sy knik, verbaas oor die skielike belangstelling.

“En dan?” vra hy. Sy antwoord nie dadelik nie en hy sien die skaduwee wat oor haar gesig val.

“Ek weet nie,” sê sy uiteindelik. “Hannes wil ’n dokter word, maar my pa sê hy moet kom boer.”

Hy is stil, dan sê hy: “Gelukskraal is ’n mooi plaas. Waarom wil hy weggaan? Omdat die wêreld daar buite vir hom blinker en mooier lyk?”

“Elke mens het die reg om oor sy eie lewe te besluit,” sê sy styf.

“As ’n man jonk is, weet hy nie altyd wat hy wil hê nie, of wat die beste vir hom is nie. Stem jy nie met my saam nie?” vra hy toe sy nie antwoord nie.

“Nee, ek stem nie saam nie, meneer Bouwer,” sê sy koel.

“Geen ouer het die reg om sy kind op te offer om sy eie ideale te bereik nie.” Sy drink haar tee klaar en stoot haar stoel agteruit. “Ek moet gaan, my tante wag vir my. Dankie vir die tee.”

Tant Anna ontvang haar hartlik en glimlag net toe Sarie vra of sy eers haar briewe kan lees. “Gaan jou gang,” sê sy. “Ek is in die spens besig as jy my soek.”

Sarie maak dadelik André se brief oop. Sy is so uitgehonger vir nuus van hom dat sy nie ’n oomblik langer kan wag nie.

Dis ’n lekker geselsbrief, vol allerhande nuusbrokkies oor homself, sy werk en sy vriende. André skryf sulke lewendige, interessante briewe dat dit haar laat voel of sy ook so ’n bietjie deel in sy lewe daar op universiteit. Marietjie Botha se naam kom ’n paar keer in die brief voor. Hulle was saam na ’n opvoering en ’n ander keer het hulle saam in ’n tennistoernooi gespeel. Verder skryf hy dat hulle nou in alle erns begin blok vir die eksamen, maar dat hy weer van hom sal laat hoor.

’n Tweede keer lees sy die brief noukeurig deur, ingeval sy iets gemis het, dan vou sy dit op en sit dit in haar handsak terug.

’n Lekker, interessante brief, en tog laat dit haar onbevredig. Hy sê dat hy haar mis en dat hy in dié dae so dikwels terugdink aan die een lente toe hulle saam in die Boland was. Maar sy lewe is so vol en besig en interessant dat sy twyfel of hy werklik weet wat verlange is. Dis in ieder geval ’n ander soort verlange as hare, wat soos ’n silwer draad deur die patroon van haar dae vleg en altyd maar daar is. Ook die gedagte dat daar gawe, aantreklike meisies soos Marietjie Botha is na wie hy hom kan wend wanneer hy behoefte aan geselskap het, laat haar nie meer getroos voel nie.


tryna-du-toit-11

Tryna du Toit Omnibus 11 bevat vier uiteenlopende stories deur ‘n immergewilde en baie geliefde skrywer.

Koop dit nou! Graffiti | Takealot | Amazon Kindle

Nuut: Tryna du Toit Omnibus 11

In Tryna du Toit Omnibus 11 word die liefde in vier uiteenlopende stories gevier, heel gepas vir Februarie:

tryna-du-toit-11n Ruiker in die herfs: Paul Wagner was Margaret se eerste liefde, maar elkeen is met iemand anders getroud. Jare later is hulle weer alleen. Het Paul haar nog lief of speel Magda Jooste nou ’n belangriker rol in sy lewe?

Vakansie op Kromrivier: Niek Jordaan nooi vir Anna Pauw saam na Kromrivier en daar leer sy hom beter ken. Nou wonder sy: Is Niek nog lief vir Coralie, sy eks-verloofde, en hoekom het hy Anna saamgebring vir die vakansie?

Die nimmer-nimmer-berge: Sarie de Klerk moet ná haar ma se dood na hul plaas terugkeer om vir haar pa en broer te kom huishou. Sy voel vasgevang in haar eensame bestaan, totdat die buurplaas ’n nuwe eienaar kry . . .

Ons ken almal vir Hermina: Hermina Greef moet ’n onderhoud voer met die beroemde skrywer Paul Walters. Maar Paul is sku vir publisiteit. Hermina beraam ’n slinkse plan om met hom kennis te maak. Maar slim vang sy baas …

Oor die skrywer: 

Tryna du Toit is een van die bekendste name in die genre van Afrikaanse liefdesverhale. In haar leeftyd is meer as veertig romans en twaalf omnibusse gepubliseer. Groen koring is Tryna du Toit se bekendste verhaal en is verfilm as Debbie. Tryna is in Oktober 2005 oorlede op die ouderdom van 95 jaar.

Koop dit nou! Graffiti | Takealot | Amazon Kindle

Lees ’n uittreksel uit Boeie van goud deur Ena Murray

Drie van Ena Murray se heel beste liefdesverhale verskyn vandeesmaand in een omnibus, Ena Murray Keur 12.

In Boeie van goud, een van die verhale, vra Charmain haar af: Hoekom het Quintus de la Harpe met haar getrou as hy haar nooit werklik sy vrou wou maak nie? Sy het hom lief, maar moet toekyk hoe sy skoonsuster en niggie wedywer om sy aandag. Wanneer Marius de la Harpe en Jacques Taute haar pad kruis, raak die situasie nog meer onverstaanbaar …

Lees ‘n uittreksel uit hierdie verhaal:


em-keur-12-cov

Charmain kyk verbaas op toe die eienares van die losieshuis haar kom roep vir ’n besoeker. Sy is nie gewoond daaraan dat sy besoek kry nie. Dan frons sy. Miskien is dit daardie lastige klerk wat sy in haar nuwe werk leer ken het. Eers wil sy die hospita vra om namens haar verskoning te maak. Dan stap sy maar tog voordeur toe.

Haar hart spring in haar keel toe sy die imponerende gestalte in die voorportaal sien staan en sy steek viervoet vas; dis hý wat nader stap.

“Ek is jammer ek kom sommer so sonder afspraak hier aan, maar ek is toevallig in die stad en het toe gedink om net te kom hoor hoe dit gaan,” sê hy nadat hulle gegroet het. “Hoe gaan dit?”

Sy kyk met blink oë na hom op. Dis die oë van ’n kind, vol onverbloemde, opregte vreugde. Charmain is nog te jonk en onervare om nou al die kuns aan te geleer het om nie haar hart so te ontbloot nie.

“Dit gaan goed, dankie, meneer De la Harpe. O, dis wonderlik om u weer te sien!”

Hy knik, sy oë ernstig, bestuderend. “Ek is bly om dit te hoor.” Hy kyk vlugtig om hom heen in die portaaltjie, wat duidelik verraai dat dit nie een van die beste losieshuise in die stad is nie. “Sal ons ’n entjie gaan ry?”

Weer blink en skitter die oë onbeskaamd, en hy hoef nie op ’n antwoord te wag nie. Vir die tweede keer in haar kort, saai lewetjie voel sy hoe sy in die luukse motor wat voor die deur staan, ingehelp word, en dit voel vir haar asof sy sweef. Hy het weer gekom! Hy het haar onthou! So dink sy deurentyd.

“Waar is jou kwaai vriendin?” vra hy glimlaggend toe hy langs haar inskuiwe en die masjien aanskakel.

Charmain lag. “Sy is weg op ’n toneeltoer. Sy is nie regtig so kwaai nie. Klara is ’n dierbare mens, en vir my soos ’n suster. Van die eerste oomblik af het sy my onder haar vlerk geneem en beskerm. Dit was maar deur haar dat ek die twee klein rolletjies gekry het. Ek is nie ’n goeie toneelspeelster nie,” erken sy met kinderlike eerlikheid, en die man glimlag weer.

“Vertel my meer van jouself. Jou vriendin het daardie aand, toe ek julle uitgeneem het vir ete, gesê jy is ’n weeskind. Is jy werklik heeltemal alleen op die aarde?”

“Ja. En as ek verlangse familie het, het hulle in elk geval jare gelede al van my vergeet.” Sy sê dit sonder enige verbittering en op ’n manier wat die gehardste hart sal aangryp, en die man frons diep. Hy bring die motor tot stilstand by een van die mooi uitkykpunte oor die stad en draai skuins na haar. Sy gesig is net ’n vae, donker vlek. Subtiel word haar powere lewensverhaaltjie uit haar getrek.

“Ek wil nog dankie sê vir die geld wat u vir my by Klara gelaat het. Ek het ’n briefie geskryf om dankie te sê . . .” sluit sy af.

“Ek het dit gekry, dankie.”

“Ek sal, sodra ek kan, dit aan u terugstuur. Ek het werk gekry in ’n boekwinkel.”

“Dit was ’n geskenk, nie bedoel om terugbetaal te word nie.” Hy kan haar ongemak aanvoel en vervolg: “Dis ’n groter kuns om te ontvang as om te gee, Charmain.” Sy is stil, en ’n rukkie lank is net hul asemhalings hoorbaar. Dan, skielik, lê sy vingers onder haar ken, word haar gesiggie na hom opgelig. “Jy is ’n pragtige ou meisietjie. Jy verdien . . .”

Hy bly skielik stil en sy kyk met groot oë na die gesig so naby hare. Toe sy lippe meteens saggies op hare druk, roer sy nie, sit net bewegingloos onder sy aanraking, en in die lig van ’n flou maan kan hy die wit boog van haar nek duidelik sien – sien hoe die kuiltjie in haar nek onreëlmatig klop . . . nes ’n wilde voëltjie wat hom skielik in ’n koutjie bevind . . .


Koop dit nou! Graffiti | Amazon Kindle | Loot

 

Nuut: Ena Murray Keur 12

Drie van Ena Murray se heel beste liefdesverhale verskyn vandeesmaand in een omnibus, Ena Murray Keur 12:

em-keur-12-covIn Diena van Die Eike bedryf Diena die losieshuis op Burgershoek – buite bereik van die skaduwee wat oor haar verlede hang. Tot die dag dat Melt Fouché op haar drumpel staan. Toe wéét sy: die verlede, in die persoon van dié briljante geneesheer, het haar ingehaal.

In Boeie van goud vra Charmain haar af: Hoekom het Quintus de la Harpe met haar getrou as hy haar nooit werklik sy vrou wou maak nie? Sy het hom lief, maar moet toekyk hoe sy skoonsuster en niggie wedywer om sy aandag. Wanneer Marius de la Harpe en Jacques Taute haar pad kruis, raak die situasie nog meer onverstaanbaar …

En in Kaalvoet Katryntjie dring Katryn Klem se hovaardige voog, Festus Dumas, daarop aan dat sy ná haar pa se dood by hom moet kom bly. Sommer vir die grap gee Katryn voor sy is ’n giggelende tiener, nie ’n verpleegster van twintig nie. Maar dié grap boemerang toe sy, met ’n hart wat pyn van haar onverklaarbare liefde, moet toekyk hoe die listige Shirley Rossouw haar voog probeer verlei …

Oor die skrywer:

Ena Murray is op die klein Karoodorpie Loxton gebore, die middelste van drie dogters. Haar pa was die plaaslike geneesheer, en dis hier waar haar groot belangstelling in die geneeskunde ontstaan het. Verskeie van haar verhale het dan ook ’n hospitaal as milieu. Sy het op Mosselbaai afgetree en is in Junie 2015 oorlede.

Koop dit nou! Graffiti | Amazon Kindle | Loot

Nuut: Christine le Roux Keur 1

Christine le Roux Keur 1 bevat drie liefdesverhale vol deernis en humor:

christine-le-roux-keur-1Bosnimf: Aanvanklik veroorsaak die huis wat hy by sy tante erf vir Etienne Bernard net ergernis. Dan besef hy dat die huis dalk met voorbedagte rade aan hom bemaak is. Wie is die sorgelose nimf wat in sy fontein baljaar? En waarom voel hy nou skielik verantwoordelik vir haar?

Verwarde liefde: Nicky is uit die staanspoor vies vir die man wat oor haar en haar broer as voog aangestel word ná haar pa se dood. Hoe durf Andrew vir haar oor die liefde preek? Hy maak haar irrasioneel. Maar hy sal binnekort van haar ontslae wees wanneer sy mondig word . . .

Bitter hartstog: Reneé en dokter Richard Wessels besef gou dat hulle nie net toevallig uitgenooi is na vriende se strandhuis nie. Maar Reneé se vorige kêrel het haar gruwelik bedrieg, en sy het wraak gesweer teen alle mans. Sy sal hulle misbruik soos hulle haar misbruik het. Die liefde laat homself egter nie voorskryf nie.

Oor die skrywer:

Christine le Roux was ’n skuilnaam van Eleanor Baker. Tydens haar loopbaan het sy 15 romans, twee draaiboeke en verskeie jeugboeke geskryf. Die kwart-voor-sewe-lelie is in 1991 vir die Old Mutual-prys vir letterkunde benoem, terwyl Verbeelde werklikheid in 1996 op die kortlys was vir die M-Net-boekprys. Sy is op 1 Julie 2002 oorlede.

 

Koop dit nou! Raru | Graffiti | Loot