Lees ’n uittreksel uit Omdat jy jy is deur Elsa Winckler

Omdat jy jy is deur Elsa Winckler is ons September boek van die maand:

Kathleen en haar susters erf elk vyf miljoen rand van hul tante Peet, mits hulle elkeen ’n maand in haar huis op Greyton bly. Kathleen is eerste aan die beurt, maar sy het nie kon raai dat ’n mooi man met viooltjieblou oë die kothuis agter die huis sou huur nie. Gou broei meer as goeie buurmanskap tussen haar en Steyn Erasmus . . .

Lees ‘n uittreksel:


Sy doen haar bes om nie na sy bykans ontblote bolyf te kyk nie, maar die prentjie van ’n baie sexy six-pack gaan sy nog lank onthou.

“Steyn?” vra sy en raak versigtig aan sy arm. Hy voel warm. “Steyn!” roep sy en dié keer skud sy sy arm.

“Wat de hel?” kreun hy en laat sak sy arm. Sy oë is bloedbelope en die donker kringe onder sy oë meer prominent as gisteraand.

Sy druk ’n hand teen sy voorkop. Hy is vuurwarm. Leen is nie ’n dokter nie, maar sy het nie ’n mediese graad nodig om te weet die man het koors nie.

“Het jy pyn?” vra sy. “Het jy iets in jou sak wat jy kan drink?”

Hy staar verdwaas na haar.

“Ek is Kathleen. Jy is in die kothuis van my . . . agter die huis waar ek bly. Op Greyton?”

“Die mooi girl,” prewel hy, steek sy hand uit en vat aan haar poniestert wat oor haar skouer hang. Hy glimlag skeef. “Gedink dis sag.” Sy hand val terug en sy oë gaan weer toe.

Sy trek haar asem vinnig in en staan regop. Lawwe skoenlappers fladder op haar maag. Die man yl, hy dink seker sy is iemand anders. Die mooi girl? Sy is nie onaardig nie, maar beslis nie die tipe oor wie digters odes sal skryf nie. Ja-nee, hy verwar haar beslis met iemand anders.

“Steyn, het jy pille in jou sak?” vra sy weer, maar sy arm het weer oor sy oë geval.

Sy draai weg en gaan haal die sak op die stoep. Terug langs hom, rits sy die sak oop.

“Steyn, ek gaan in jou sak krap, oukei?” gesels sy terwyl sy soek na pille of iets wat soos medikasie lyk.

’n Selfoon lui. Dis nie hare nie. Kathleen staak haar soekery na die pille en kyk rond waar die foon is wat lui. Onder die bank waarop Steyn lê, kry sy die selfoon. Dit moes uit sy sak geval het toe hy op die bank gaan lê het.

Dis “Ma” wat bel. Sy huiwer net ’n oomblik voordat sy antwoord. Sy ma sal hopelik weet of hy pille het wat hy kan drink.

“Hallo,” groet sy.

Dis stil aan die ander kant van die foon.

“My naam is Kathleen Mulder. Is u mevrou Erasmus?”

“Ja,” sê ’n vrouestem onseker. “Ek het my seun probeer bel? Is hy oukei? Het iets met hom gebeur? Waar is hy?” Die stem klink al meer bekommerd met elke vraag.

“Hy huur die kothuis agter my tante . . . agter die huis waarin ek bly. Op Greyton?”

“Greyton? Hoekom sou hy soontoe gaan? Waar lê Greyton nou weer? Is hy oukei?”

Kathleen kyk af na waar Steyn nog doodstil lê.

“Greyton is in die Overberg, so ’n uur of wat uit Kaapstad. Ek . . . dink u seun is oukei, maar hy het dalk koors . . .”

“As ek my sonde nie ontsien nie!” roep die vrouestem aan die ander kant gefrustreer uit. “Tipies! Hy is deur twee operasies. Daai ellendige fiets van hom! Ek het voorgestel hy kom bly by my totdat hy weer op die been is, maar nee. Hy is so hardekwas. Gerard, sy goeie vriend en huisdokter, het gesê hy is ook heeltemal oorwerk en moet homself ’n maand kans gee om heeltemal te herstel. Maar wat doen hy? Klim met sy seer arm in ’n motor en ry na Timboektoe. Hy het nou wel ’n outomatiese motor, maar hoe stom-onnoselik kan ’n mens wees? Oe, mansmense maak my so kwaad, hulle . . .”

En die stem klim weer ’n paar oktawe terwyl sy mans se baie tekortkominge lys. Kathleen is nie heeltemal seker hoe om die situasie te hanteer nie. Wat sy wel weet, is dat die man voor haar so gou moontlik iets moet inkry vir sy koors.

“Mevrou Erasmus,” onderbreek sy die tirade. “Uhm, dis Greyton, nie Timboektoe nie. Ek wil in sy sak kyk of hy iets het vir koors. Ek . . . ek sal hom sê u het gebel.”

“Jy kan ook vir hom sê ek en die meisiekinders kom so gou moontlik. Ons ry van die Kaap af en ek is nie presies seker hoe lank dit gaan neem nie. Sal jy asseblief intussen kan kyk dat hy vloeistof inkry? Hy het so ’n stokou blou badkamersak van sy pa waaraan hy steeds vasklou, kyk of jy dit kry. Hy het baie swaar gekry ná my man se dood en . . . Ek dwaal al weer af. As hy enige medikasie by hom het, behoort dit daarin te wees. Ek sal in elk geval weer ’n voorskrif by die dokter kry. Ek moes geweet het daar is moeilikheid toe hy nie gister my oproep beantwoord nie. Hy stuur toe net ’n boodskap vir sy ma, bid jou aan.”

Kathleen kan nie help om te glimlag vir die vrou nie. Sy is baie verontwaardig en dis duidelik sy is baie betrokke by haar seun. Wie die “meisiekinders” is wat gaan saamkom, sal sy moet wag om te sien.


Omdat jy jy is deur Elsa Winckler is ons September boek van die maand.

Koop dit nou! MySubs | Takealot | Loot | Raru | Amazon (Kindle)

September boek van die maand: Omdat jy jy is deur Elsa Winckler

Omdat jy jy is deur Elsa Winckler is ons September boek van die maand:

Kathleen en haar twee susters erf elkeen vyfmiljoen rand na hul geliefde tante Peet se afsterwe, mits hulle ’n vreemde bepaling nakom: Hulle moet elkeen eers ’n maand lank in ta’ Peet se huis op Greyton gaan bly.
In hul gejaagde lewens het nie een van die drie werklik hiervoor tyd nie, maar Kathleen stem in om eerste te gaan, want sy moet in elk geval aan ’n sakeplan vir haar aanlyn-onderneming werk.

Sy het egter nie daarmee rekening gehou dat iemand die kothuis agter ta’ Peet se huis sou huur nie. Beslis nie ’n aantreklike man met viooltjieblou oë nie. Sake-konsultant Steyn Erasmus se arm is in ’n hangverband en Kathleen ontferm haar oor hom. Maar wat tussen hulle broei, is veel meer as net goeie buurmanskap . . .

Koop dit nou! MySubs | Takealot | Loot | Raru | Amazon (Kindle)

Oor die skrywer:

Elsa Winckler is ’n gewilde skrywer van liefdesverhale. Sy het al die gesogte ATKV-Woordveertjie vir romanses gewen vir Tussen jazz en rock (LAPA) in 2010, Te eenders, te anders(Satyn) in 2014, en Liefde in laslap (Satyn) in 2016. Sy woon op Bettysbaai.

 

Lees ’n uittreksel uit Pad na Geluk deur Moryn Hanzen

Nina, ‘n stadsmeisie in murg en been, sou nooit kon raai dat die pad na die plaas Geluk haar ook na oom Chris se kleinseun, Ian, sou neem nie – die aantreklikste man wat sy nog ooit gesien het. Vir die eerste keer in haar lewe kry ’n man dit reg om haar voete onder haar uit te slaan. Maar ’n verhouding tussen hulle sal tog nooit werk nie . . . of hoe?

Vir ‘n voorsmakie van Moryn Hanzen se heerlike plaasromanse, lees ‘n uittreksel uit Pad na Geluk:


“Hoe het jy geweet ek is hier?” vra sy tussen stywe lippe deur. Die koel water voel skielik yskoud teen haar grotendeels ontblote liggaam.

“In die eerste plek het ek jou klere al van ver af oor die windpomp sien hang. Jy weet, as ’n mens die veld en jou omgewing goed ken, trek iets wat nie daar hoort nie, soos daardie wit klere byvoorbeeld, onmiddellik die aandag. En selfs al het jy jou klere beter weggesteek, is ek bevrees Tjoppie sou steeds jou teenwoordigheid verraai het.”

Nina kyk vraend na Ian.

“Sy kom nooit alleen hiernatoe nie en meestal ook net saam met iemand waarvan sy besonder baie hou, so jy kan nogal regtig geëerd voel dat ons troetelvark jou vergesel het.”

Nina beweeg so ongemerk moontlik al verder van Ian af weg terwyl sy wonder hoe lank sy nog sal moet watertrap. Vervlaks, haar hart kan gerus bedaar.

Ian bly staan aan die vlakker kant, die water tot net bokant sy middellyf. Die son blink op sy nat, bruingebrande bolyf. Sy weet nie wat hy alles uitgetrek het terwyl haar rug gedraai was nie. Vir al wat sy weet, is hy ook net in sy onderklere. Sy hoop in elk geval dat hy minstens dít aanhet.

Nina het ’n stryd om haar oë van Ian af te hou. Sy bevind haar nou aan die diep kant waar die water ver oor haar kop sal wees. Sy bly egter dapper watertrap terwyl hy haar met ’n onpeilbare uitdrukking in die oog hou.

“As ek geweet het jy wil kom swem, het ek vroeër huis toe gekom om by jou aan te sluit,” terg hy haar. “Jy moet my laat weet wanneer jy weer sulke planne het. Die dam daar naby die huis is eintlik baie groter en skoner as hierdie een.”

Die volgende oomblik kramp Nina se kuit met mening sodat sy met ’n uitroep onder die water verdwyn. Sy kan hoor hoe Ian met sterk hale nader swem. Nina se asem raak gevaarlik min. Hoekom help hy haar nie? Haar skamele onderklere is op hierdie oomblik ’n bysaak.

Ian kry haar aan die arm beet en trek haar geleidelik saam met hom na die oppervlak. Die volgende oomblik vat hy haar met mening vas en druk Nina se lyf teen hom vas.

Die sensasie wat sy harde liggaam so skielik teen haar eie veroorsaak, laat haar ophou spartel. Nina is maar net te bewus van Ian se gespierde bene rakelings teen hare.

Uiteindelik is hulle koppe bo die water en swem hy met haar na die vlak kant terwyl sy na haar asem hyg.

“My kuit . . . kramp.” Sy klou om lewe en dood aan hom vas toe hulle eindelik styf teen mekaar aan die vlak kant staan.

“Ontspan, meisie, ontspan. Alles is oukei.” Met sy een arm nog om haar lyf, vat hy haar been met sy ander hand vas en trek dit langs sy lyf op sodat hy haar kuit kan bykom om dit te masseer. “Dié een?”

Sy byt op haar tande en knik net woordeloos.

Na ’n rukkie voel Nina hoe die ergste spanning en skok begin skietgee. Ian se warm hand het die kramp uitgevryf. Die hitte van sy liggaam so intiem teen hare dring gloeiend tot haar deur.

“Dankie, dis . . . dit is nie meer seer nie,” kry sy uit, en hy laat haar been stadig terugsak.

Ondanks haar netelige situasie, stu ’n gevoel van algehele veiligheid deur Nina waar sy in Ian se stewig omhelsing staan. Haar knieë is erg bewerig. As hy van haar af moet wegstaan, sal hy haar in haar nat onderklere sien en sal sy sowaar sterf!

Haar vingers klou nog stywer om sy rug vas.

“Nina?” kom dit sag bokant haar kop.

“Ja?” antwoord sy onseker terwyl sy na sy ritmiese hartklop onder haar oor luister.

“Waarom was jy vanoggend ontsteld? Jou ouma het vertel van die pofadder wat julle in die veld gekry het. Was dit die skok?”

“Ek . . . Seker, ja,” antwoord sy, skielik self nie meer seker hoekom alles haar so oorweldig het nie. Sy voel hoe sy arms nog ’n aks stywer om haar span. So salig moet dit wees om iemand te hê wat jou vreugde en jou kommer met jou deel.

Onverwags laat Ian vir Nina gaan en keer hy sy rug op haar. Met ’n sagte, skor stem beveel hy haar om uit te klim en aan te trek.

Nina laat nie op haar wag nie. Bewerig, maar so gou as moontlik kry sy die rand van die dam beet en klouter daaroor.

“Gebruik my hemp om jou mee af te droog,” kom dit sag vanuit die dam.

Sy sluip om na waar hy sy hemp uitgetrek het en klem dit soos ’n kleinood teen haar bors vas terwyl sy Ian se nou reeds bekende skoon, manlike reuk inasem. Vinnig droog sy die ergste nattigheid daarmee af terwyl sy wonder waarom hy so stil geraak het.

Sy trek blitsig aan en loer oor die rand. Haar oë speel ’n paar sekondes oor die man wat nou rustig met geslote oë op sy rug dryf. Hoe dankbaar is sy dat hy nie ’n paar minute vroeër opgedaag het terwyl sy dieselfde gedoen het nie. Sy kan nie anders as om sy perfekte liggaam te bewonder nie. Hy het darem sy kortbroek aangehou, sien sy. Maar dit is steeds genoeg om haar pols gevaarlik te laat versnel. Wat doen hierdie man aan haar?

Natuurlik is dit niks anders as fisieke aantrekkingskrag nie.

Sy skud Ian se hemp ’n paar keer uit om van die ergste water ontslae te raak en hang dit oor die dam se rand.

Op die ingewing van die oomblik spat sy speels ’n paar druppels na sy ontspanne gesig, met die lippe effens oop. Is dit hoe hy lyk wanneer hy slaap?

Hy skrik en lag toe hy in haar gesig bokant die rand van die dam vaskyk.

Vir ’n oomblik het sy mond so weerloos gelyk.


Pad na Geluk  deur Moryn Hanzen is NB-Uitgewers se Augustus boek van die maand.

Koop dit nou! Takealot | Loot | Leserskring | Graffiti | MySubs (digitaal) | Raru | Amazon Kindle 

Augustus boek van die maand: Pad na Geluk  deur Moryn Hanzen

Pad na Geluk  deur Moryn Hanzen is NB-Uitgewers se Augustus boek van die maand:

Nina neem ’n blaaskansie van haar besig lewe as haarkapper en -stilis in Pretoria om haar ouma Anita Kalahari toe te neem waar sy by haar jarelange vriend, oom Chris, wil gaan kuier. Maar Nina sou nooit kon raai dat die pad na die plaas Geluk haar ook na oom Chris se kleinseun, Ian, sou neem nie – die aantreklikste man wat sy nog ooit gesien het.

Vir die eerste keer in haar lewe kry ’n man dit reg om haar voete onder haar uit te slaan. Maar ’n verhouding tussen hulle sal tog nooit werk nie. Nina is ’n stadsmeisie en Ian is ’n boer in murg en been. Sy sal nooit op ’n plaas in die halfwoestyn aard nie.

Nina moet maar liewer teruggaan na die standvastige Carl wat haar gesoen het voor sy uit Pretoria weg is – al is hy so koel en korrek. Buitendien blyk dit dat Ian steeds vir sy vriendin Zanelle gevoelens het . . . Watter ander rede kan daar tog wees dat Zanelle se verloofde agterdogtig is oor hom?

Oor die skrywer:

Moryn Hanzen woon buite Upington. Sy het al tydskrifartikels, kortverhale en kinderstories geskryf. Pad na Geluk is die eerste liefdesverhaal uit haar pen. Jeugevangelisasie lê haar na aan die hart, en sy put groot vreugde uit haar gesin, boeke, musiek, vriende en diere.

Koop dit nou! Takealot | Loot | Leserskring | Graffiti | MySubs (digitaal) | Raru | Amazon Kindle 

Nuut: Ena Murray Keur 14

Drie van Ena Murray se heel beste liefdesverhale is in Ena Murray Keur 14 saamgebind: Weerklank van ons liefde’n Tyd om te ween en Die oujongnooi van Polkadraai.

Wanneer ’n wildvreemde meisie in Weerklank van ons liefde per ongeluk in dr. Rudolf van der Merwe se lewe – én sy woonstel, sy bed en sy slaapklere – beland, raak hy onherroeplik betrek by ’n tergende raaisel. Want dié naamlose meisie ly aan geheueverlies, en al leidraad is ’n koerantberig oor ’n onopgeloste moord waarvan die sleutelverdagte spoorloos verdwyn het . . .

Madie, noem Rudolf sy “nuwe vrou” (hy moet die skyn ter wille van sy reputasie bewaar) en hy weier om te glo sy kon haar stiefpa vermoor het. Maar waarom het sy gevlug? En vanwaar die duidelike tekens van aanranding aan haar liggaam? En die trouring aan haar vinger?

Net ’n groot skok sal haar verlede weer kan oopruk. En dis presies wat die verleidelike joernalis met die rooi kop, Catherine, besluit om te doen. Want sy wil Rudolf inpalm, al kos dit wat.

In ’n Tyd om te ween moet Paul Henning se hartaanval moet Rietspruit ‘n ander dokter kry. Maar Hybre, dokter Paul se dogter, vertrou nie die briljante dokter Ewald Waltmann nie. Wat kom soek so ‘n suksesvolle geneesheer op so ‘n klein plekkie? Die atmosfeer is van die begin af gelaai; reeds by hul eerste ontmoeting spat die vonke. En dit te midde van werklike hartseer en pyn in die dorp. ‘n Tyd om te ween is ‘n diep roerende verhaal waarin mense mekaar leer om te gee en waarin hulle besef: die lewe verloop selde soos ‘n mens dit beplan.

En in Die oujongnooi van Polkadraai gebruik Silpa haar besonderse grimeertalent om haarself ’n volle twintig jaar ouer te laat voorkom – sy beeld ’n middeljarige oujongnooi uit wat aansoek doen om die pos van huishoudster vir twee jong kinders. Maar sy het nie rekening gehou met die streng dog aantreklike pa van die kinders nie.

Oor die skrywer:

Ena Murray is op die klein Karoodorpie Loxton gebore, die middelste van drie dogters. Haar pa was die plaaslike geneesheer, en dis hier waar haar groot belangstelling in die geneeskunde ontstaan het. Verskeie van haar verhale het dan ook ’n hospitaal as milieu. Sy het op Mosselbaai afgetree en is in Junie 2015 oorlede.

Koop dit nou! MySubs CNA Raru Loot Graffiti Amazon (Kindle)

Junie boek van die maand: Wierook van verlange deur Annelize Morgan

Wierook van verlange deur Annelize Morgan is NB-Liefdesverhale se Junie boek van die maand:

Dit is die agtiende eeu in Frankryk. Al wat Liliane Beaudelaire van haar ouers het, is ’n hangertjie met ’n onverstaanbare inskripsie en ’n brief waarin haar pa verduidelik dat hy in Arabië na Liliane se ma gaan soek om haar na Frankryk terug te bring. Hy het egter nooit weer sy verskyning gemaak nie en Liliane het in die weeshuis grootgeword.

Toe ene monsieur Laurent vir die twintigjarige Liliane ’n werk in sy huishouding in Arabië aanbied, gryp sy die kans om na die land te gaan waar haar ouers hul moontlik bevind. Maar in Arabië beskuldig die forse sjeik Dawud vir Laurent daarvan dat hy ’n slawehandelaar is en Liliane maak die angswekkende ontdekking dat haar nuwe werkgewer inderdaad beplan om haar as die slavin Farhah te verkoop.
Durf sy hoop dat die enigmatiese sjeik Dawud haar sal help? En wat weet hy omtrent haar ware identiteit?

’n Historiese liefdesverhaal deur die immergewilde skrywer Annelize Morgan, propvol avontuur en hartstog.

Oor die skrywer:

Annelize Morgan is ’n ou hand wat liefdesverhale betref. Sy het meer as 40 titels agter haar naam en is bekend vir haar verhale vol spanning en intrige, asook verhale wat in die woestyn afspeel. Sy en haar man woon op Ladismith.

Koop dit nou!  MySubs | Raru | Loot | Graffiti | Amazon (Kindle)

Lees ’n uittreksel uit Van sorg na liefde deur Malene Breytenbach

Van sorg na liefde deur Malene Breytenbach is NB-Liefdesverhale se Mei boek van die maand:

Ná ’n liefdesteleurstelling gaan werk Mia de Villiers as ’n versorger op die eiland van Jersey. Sy kom goed met haar werkgewer, die weduwee Sarah de Lisle, oor die weg, maar met dié se seun, Jean, sit sy vas. Jean insinueer dat sy gekom het om ’n ryk man te vang en Mia vererg haar. Dink hy sy is ’n trofeemeisie wat deur rykdom beïndruk word? Hy is uiters aantreklik, maar sy swig nie voor ’n rokjagter nie. Al wys hy gaandeweg sy sagter kant ….

Lees ‘n uittreksel uit hierdie lekkerlees-liefdesverhaal:


Die Bentley hou voor die huis se deur stil. Mia is verlig dat John nou die rolstoel uit die kattebak kan haal en Sarah help om daarin te klim. Sy wou dit nooit laat blyk nie, maar dit was altyd besonder swaar om op te tel. Die werksmense wat die voorbereiding vir die fees moes doen, is reeds weg. Mia wonder of Jean al gekom het. Teen dié tyd behoort hy darem hier te wees.

Toe hulle by die huis ingaan, kyk sy verwonderd rond. Oral is vase met blomme en die meubels is geskuif. Daar is versierings en dit lyk feestelik. Hulle gaan kyk na die groot eetkamer en sien dat dit reggemaak is vir baie mense. Op die tafels is eetgerei en servette uitgepak. Net die kos moet nog kom. Skitterblink glase is al uitgepak, maar die drank is nog nie daar nie. Assistente en kelners wat Etienne gehuur het, loop heen en weer van die kombuis na die eetkamer. Oral is stoele in groepe uitgesit.

Die groot salon lyk asof dit reggemaak is vir mense om te dans. Die orkeslede is reeds daar op ’n verhogie. Almal dra swart pakke met wit strikdasse. Twee is besig om viole in te stem, een toets die klavier en ’n ander een sit by die tromme. Hier word nie sommer opnames of ’n deejay gebruik nie, dink Mia. Nee, die orkeslede kom in lewende lywe, met instrumente en bladmusiek. Dit is ouwêrelds elegant.

Barnes loop daar rond met ’n kritiese gesig asof hy alles moet goedkeur. Hy kom nader gehaas. “Lyk dit goed, mevrou?”

“Absoluut,” sê Sarah. “Dit lyk asof alles onder beheer is. Kom ons gaan boontoe, Mia. Ek moet eers ’n rukkie rus voordat die partytjie begin.”

Sy ry met die hyser op en Mia volg. Eers help sy Sarah om gemaklik met ’n nekkussing op haar bed te gaan lê, sodat sy nie haar hare druk nie, toe gaan sy na haar kamer. Sy is net binne, toe steek sy vas. Nie oor Sylvester lekker uitgestrek op haar bed lê nie, maar oor die langwerpige boks met ’n silwer lint en strik om, wat langs hom lê.

“Hallo, weet jy wie het dit gebring?” vra sy vir die kat, wat met lui skrefiesoë na haar kyk. “Ek wens jy kon praat.”

Daar is ’n kaartjie met die woorde: Vir vanaand. Met geen naam by nie.

Hierdie geskenk kom sekerlik van Sarah af. Wat kan dit wees? Sy maak die silwer strik los, verwyder die lint en maak die boks oop. Mia snak na asem. In sneespapier is iets opgevou. Dit is smaraggroen en lyk asof dit van sy gemaak is. Met bewende hande tel sy dit uit. Dit is ’n rok in haar grootte met ’n eenvoudige, dog uiters elegante snit.

Sy hou dit voor haar en kyk in die spieël. Dit is so mooi dat sy lank daarna staar. Watter goeie smaak het Sarah tog! Sy het ook die grootte reg geraai. Fairy godmother, dink sy, en glimlag. Hoe dierbaar van haar werkgewer om aan so iets te dink. Sy het juis gewonder of sy enigsins na die partytjie gaan.

Nou weet sy, sy is tog genooi. Normaalweg sou sy nie sommer so ’n geskenk kon aanvaar nie, maar sy het reeds agtergekom dat dit vir Sarah lekker is om vir haar goed te gee.

Die mense word vanaf sewe-uur verwag. Sarah het ’n uur lank gaan rus, maar daarna moet Mia haar help aantrek en voorberei. Sy gaan bad eers, versigtig om nie haar hare nat te maak nie. Daarna grimeer sy liggies, kam deur haar hare en trek die rok aan. Sy staan voor die spieël en staar na haar beeld. Die rok pas haar soos die spreekwoordelike handskoen. Vlei eintlik haar figuur. Dit is ongetwyfeld ’n baie duur boetiek- rok en die etiket is Frans. Dit laat haar oë groen skitter en steek treffend af teen haar hare. Sy het nie gedink sy kan ooit so mooi lyk nie.

“Hallo, wie is jy?” lag sy. “Aspoestertjie in haar balrok wat die goeie fee vir haar getoor het?”

Gelukkig het sy ’n paar swart hoëpolvy-blink- leersandale saamgebring vir die wis en onwis. Dit pas by haar een swart aandrok wat sy ingepak het. Nou pas dit darem by dié rok wat net bokant haar knieë eindig. Haar kuite vertoon mooi as sy sulke stiletto’s dra.

Sy gaan na Sarah se suite. Toe sy inloop, klap Sarah haar hande. “Jy lyk beeldskoon, Mia.”

Mia bloos, maar sy voel gevlei. “Baie dankie, mevrou. Ek waardeer dit regtig.”

Sy help Sarah om ’n splinternuwe silwergrys rok en silwer skoene aan te trek. Sarah grimeer haar eie gesig. Daarna spuit sy parfuum aan haar self.

“Kom hier,” sê sy, en spuit van die parfuum aan Mia ook.

Sy maak haar laai oop en haal ’n juweelkissie uit. Mia moet haar help om diamante aan haar ore vas te maak, ’n eenvoudige diamanthalssnoer om haar nek vas te maak en ringe en ’n diamantarmband aan te sit.

“My man het vir my al dié juwele gegee,” sê sy. “Jean het dit uit die kluis gaan haal. Daar is iets wat ek wil hê jy moet dra. Jy kan dit vanaand leen om by jou mooi rok te pas. Dit het aan Bienne behoort.”

Sy haal ’n paar fyn diamantoorkrabbers uit en ’n goue kettinkie waaraan een diamant vas is.

“Toe, sit dit aan. Ek wil sien hoe dit lyk.”

Mia is skoon oorstelp. Wat ’n pragtige gebaar om haar lieflingdogter se juwele vir haar te gee om te dra. Sy kry eintlik trane in haar oë wat sy vinnig moet wegknipper. Sy maak die diamante aan haar ore vas en die hanger om haar nek.

“Nou lyk dit perfek afgerond,” glimlag Sarah. Mia sien dat sy ook trane in haar oë het. Sy druk haar skouer en sê hees: “Dankie dat mevrou so goed is vir my.”

“My liewe kind, jy is goed vir my. Nou toe, ons mag nie ons grimering afhuil nie. Neem my af, sodat ek kan help om die mense te ontvang.”

Jean verjaar en sy sal hom moet gelukwens, dink Mia. As sy aan hom dink, raak haar arme hart en lyf skoon oorstuur. Sy mag nie een oomblik vergeet dat hy ’n arrogante ryk man is nie, met ’n beeldskone trofeemeisie aan wie hy waarskynlik binnekort verloof sal raak.


Koop dit nou!  Raru | Graffiti Takealot (eboek) | Amazon (eboek) | MySubs