Lees ’n uittreksel uit Omdat jy jy is deur Elsa Winckler

Omdat jy jy is deur Elsa Winckler is ons September boek van die maand:

Kathleen en haar susters erf elk vyf miljoen rand van hul tante Peet, mits hulle elkeen ’n maand in haar huis op Greyton bly. Kathleen is eerste aan die beurt, maar sy het nie kon raai dat ’n mooi man met viooltjieblou oë die kothuis agter die huis sou huur nie. Gou broei meer as goeie buurmanskap tussen haar en Steyn Erasmus . . .

Lees ‘n uittreksel:


Sy doen haar bes om nie na sy bykans ontblote bolyf te kyk nie, maar die prentjie van ’n baie sexy six-pack gaan sy nog lank onthou.

“Steyn?” vra sy en raak versigtig aan sy arm. Hy voel warm. “Steyn!” roep sy en dié keer skud sy sy arm.

“Wat de hel?” kreun hy en laat sak sy arm. Sy oë is bloedbelope en die donker kringe onder sy oë meer prominent as gisteraand.

Sy druk ’n hand teen sy voorkop. Hy is vuurwarm. Leen is nie ’n dokter nie, maar sy het nie ’n mediese graad nodig om te weet die man het koors nie.

“Het jy pyn?” vra sy. “Het jy iets in jou sak wat jy kan drink?”

Hy staar verdwaas na haar.

“Ek is Kathleen. Jy is in die kothuis van my . . . agter die huis waar ek bly. Op Greyton?”

“Die mooi girl,” prewel hy, steek sy hand uit en vat aan haar poniestert wat oor haar skouer hang. Hy glimlag skeef. “Gedink dis sag.” Sy hand val terug en sy oë gaan weer toe.

Sy trek haar asem vinnig in en staan regop. Lawwe skoenlappers fladder op haar maag. Die man yl, hy dink seker sy is iemand anders. Die mooi girl? Sy is nie onaardig nie, maar beslis nie die tipe oor wie digters odes sal skryf nie. Ja-nee, hy verwar haar beslis met iemand anders.

“Steyn, het jy pille in jou sak?” vra sy weer, maar sy arm het weer oor sy oë geval.

Sy draai weg en gaan haal die sak op die stoep. Terug langs hom, rits sy die sak oop.

“Steyn, ek gaan in jou sak krap, oukei?” gesels sy terwyl sy soek na pille of iets wat soos medikasie lyk.

’n Selfoon lui. Dis nie hare nie. Kathleen staak haar soekery na die pille en kyk rond waar die foon is wat lui. Onder die bank waarop Steyn lê, kry sy die selfoon. Dit moes uit sy sak geval het toe hy op die bank gaan lê het.

Dis “Ma” wat bel. Sy huiwer net ’n oomblik voordat sy antwoord. Sy ma sal hopelik weet of hy pille het wat hy kan drink.

“Hallo,” groet sy.

Dis stil aan die ander kant van die foon.

“My naam is Kathleen Mulder. Is u mevrou Erasmus?”

“Ja,” sê ’n vrouestem onseker. “Ek het my seun probeer bel? Is hy oukei? Het iets met hom gebeur? Waar is hy?” Die stem klink al meer bekommerd met elke vraag.

“Hy huur die kothuis agter my tante . . . agter die huis waarin ek bly. Op Greyton?”

“Greyton? Hoekom sou hy soontoe gaan? Waar lê Greyton nou weer? Is hy oukei?”

Kathleen kyk af na waar Steyn nog doodstil lê.

“Greyton is in die Overberg, so ’n uur of wat uit Kaapstad. Ek . . . dink u seun is oukei, maar hy het dalk koors . . .”

“As ek my sonde nie ontsien nie!” roep die vrouestem aan die ander kant gefrustreer uit. “Tipies! Hy is deur twee operasies. Daai ellendige fiets van hom! Ek het voorgestel hy kom bly by my totdat hy weer op die been is, maar nee. Hy is so hardekwas. Gerard, sy goeie vriend en huisdokter, het gesê hy is ook heeltemal oorwerk en moet homself ’n maand kans gee om heeltemal te herstel. Maar wat doen hy? Klim met sy seer arm in ’n motor en ry na Timboektoe. Hy het nou wel ’n outomatiese motor, maar hoe stom-onnoselik kan ’n mens wees? Oe, mansmense maak my so kwaad, hulle . . .”

En die stem klim weer ’n paar oktawe terwyl sy mans se baie tekortkominge lys. Kathleen is nie heeltemal seker hoe om die situasie te hanteer nie. Wat sy wel weet, is dat die man voor haar so gou moontlik iets moet inkry vir sy koors.

“Mevrou Erasmus,” onderbreek sy die tirade. “Uhm, dis Greyton, nie Timboektoe nie. Ek wil in sy sak kyk of hy iets het vir koors. Ek . . . ek sal hom sê u het gebel.”

“Jy kan ook vir hom sê ek en die meisiekinders kom so gou moontlik. Ons ry van die Kaap af en ek is nie presies seker hoe lank dit gaan neem nie. Sal jy asseblief intussen kan kyk dat hy vloeistof inkry? Hy het so ’n stokou blou badkamersak van sy pa waaraan hy steeds vasklou, kyk of jy dit kry. Hy het baie swaar gekry ná my man se dood en . . . Ek dwaal al weer af. As hy enige medikasie by hom het, behoort dit daarin te wees. Ek sal in elk geval weer ’n voorskrif by die dokter kry. Ek moes geweet het daar is moeilikheid toe hy nie gister my oproep beantwoord nie. Hy stuur toe net ’n boodskap vir sy ma, bid jou aan.”

Kathleen kan nie help om te glimlag vir die vrou nie. Sy is baie verontwaardig en dis duidelik sy is baie betrokke by haar seun. Wie die “meisiekinders” is wat gaan saamkom, sal sy moet wag om te sien.


Omdat jy jy is deur Elsa Winckler is ons September boek van die maand.

Koop dit nou! MySubs | Takealot | Loot | Raru | Amazon (Kindle)

September boek van die maand: Omdat jy jy is deur Elsa Winckler

Omdat jy jy is deur Elsa Winckler is ons September boek van die maand:

Kathleen en haar twee susters erf elkeen vyfmiljoen rand na hul geliefde tante Peet se afsterwe, mits hulle ’n vreemde bepaling nakom: Hulle moet elkeen eers ’n maand lank in ta’ Peet se huis op Greyton gaan bly.
In hul gejaagde lewens het nie een van die drie werklik hiervoor tyd nie, maar Kathleen stem in om eerste te gaan, want sy moet in elk geval aan ’n sakeplan vir haar aanlyn-onderneming werk.

Sy het egter nie daarmee rekening gehou dat iemand die kothuis agter ta’ Peet se huis sou huur nie. Beslis nie ’n aantreklike man met viooltjieblou oë nie. Sake-konsultant Steyn Erasmus se arm is in ’n hangverband en Kathleen ontferm haar oor hom. Maar wat tussen hulle broei, is veel meer as net goeie buurmanskap . . .

Koop dit nou! MySubs | Takealot | Loot | Raru | Amazon (Kindle)

Oor die skrywer:

Elsa Winckler is ’n gewilde skrywer van liefdesverhale. Sy het al die gesogte ATKV-Woordveertjie vir romanses gewen vir Tussen jazz en rock (LAPA) in 2010, Te eenders, te anders(Satyn) in 2014, en Liefde in laslap (Satyn) in 2016. Sy woon op Bettysbaai.

 

Lees ’n uittreksel uit Die nimmer-nimmer-berge soos in Tryna du Toit Omnibus 11

In Tryna du Toit se liefdesverhaal Die nimmer-nimmer-berge, wat oorspronklik in 1953 verskyn het, moet Sarie de Klerk ná haar ma se dood na hul plaas terugkeer om vir haar pa en broer te kom huishou. Sy voel vasgevang in haar eensame bestaan, totdat die buurplaas ’n nuwe eienaar kry …

Lees ‘n uittreksel uit hierdie nostalgiese verhaal:


Op die dorp ry Sarie eers by die motorhawe aan om te hoor of die onderdele wat haar pa vir die bakkie bestel het, gekom het. Gelukkig is dit daar en nadat sy dit laat inlaai het, ry sy reguit poskantoor toe, waar André se brief wel op haar wag. Daar is ook ’n brief van Louise, haar skoonsuster. Sy bêre die briewe in haar handsak en tel die tydskrifte op toe ’n jong man langs haar kom staan.

Dis hulle buurman, Herman Bouwer, die nuwe eienaar van Uitkyk.

“Goeiemôre, juffrou,” groet hy beleef.

“Gaan dit goed?” “Goed, dankie,” antwoord sy skamerig en wonder waar- om sy altyd so jonk en verleë in sy geselskap voel. Is dit sy  koel, amper ongenaakbare houding of is dit maar net omdat hy, ten spyte van hulle buurskap, nog feitlik ’n vreemdeling vir haar is?

Hy vra na haar pa en nooi haar dan tot haar verbasing om ’n koppie tee saam met hom te gaan drink.

Hulle stap saam na die kafee daar naby en terwyl hy die tee bestel, bestudeer sy hom ongemerk. Herman Bouwer is omtrent dertig jaar oud, lank en skraal met sterk, breë skouers, donker hare, helderblou oë en ’n ferm mond. Die swaar, donker wenkbroue gee sy gesig ’n streng voorkoms.

Hy draai skielik sy kop en sy bloos, vies en verleë dat hy haar betrap het.

“Is jou pa ook op die dorp?” vra hy.

“Nee, Pa is besig om te ploeg. Ek het alleen gekom.”

“Is jy nie bang om alleen rond te ry nie?” vra hy en sy kyk verbaas op.

“Nee, ek is nie bang nie,” antwoord sy geamuseer. “Dis net ongerieflik as die ou Chev die dag vol nukke is.”

Hy frons, maar antwoord nie. Die kelnerin bring die tee en Sarie skink vir hulle in. Toe sy sy koppie aangee, vra hy: “Wanneer begin jou pa skeer?”

“Volgende week.”

“Hoe lank verwag julle om besig te wees?”

“Ek weet nie. Seker so drie, vier weke.”

“Ek kry die skeerders na julle. Ek sal maar later weer hoor hoe dit vorder.”

“Dit sal die beste wees,” sê sy koel. Is dít waarom hy haar genooi het om saam met hom tee te drink, om oor die skeerders te gesels?

“Wanneer gaan jy terug plaas toe?” vra hy onverwags en weer kyk sy verbaas op.

“Sodra die skool uitkom. Pa wil hê Hannes moet hom nog vanmiddag met die ploeëry help.”

“Jou broer skryf vanjaar matriek, nie waar nie?”

Sy knik, verbaas oor die skielike belangstelling.

“En dan?” vra hy. Sy antwoord nie dadelik nie en hy sien die skaduwee wat oor haar gesig val.

“Ek weet nie,” sê sy uiteindelik. “Hannes wil ’n dokter word, maar my pa sê hy moet kom boer.”

Hy is stil, dan sê hy: “Gelukskraal is ’n mooi plaas. Waarom wil hy weggaan? Omdat die wêreld daar buite vir hom blinker en mooier lyk?”

“Elke mens het die reg om oor sy eie lewe te besluit,” sê sy styf.

“As ’n man jonk is, weet hy nie altyd wat hy wil hê nie, of wat die beste vir hom is nie. Stem jy nie met my saam nie?” vra hy toe sy nie antwoord nie.

“Nee, ek stem nie saam nie, meneer Bouwer,” sê sy koel.

“Geen ouer het die reg om sy kind op te offer om sy eie ideale te bereik nie.” Sy drink haar tee klaar en stoot haar stoel agteruit. “Ek moet gaan, my tante wag vir my. Dankie vir die tee.”

Tant Anna ontvang haar hartlik en glimlag net toe Sarie vra of sy eers haar briewe kan lees. “Gaan jou gang,” sê sy. “Ek is in die spens besig as jy my soek.”

Sarie maak dadelik André se brief oop. Sy is so uitgehonger vir nuus van hom dat sy nie ’n oomblik langer kan wag nie.

Dis ’n lekker geselsbrief, vol allerhande nuusbrokkies oor homself, sy werk en sy vriende. André skryf sulke lewendige, interessante briewe dat dit haar laat voel of sy ook so ’n bietjie deel in sy lewe daar op universiteit. Marietjie Botha se naam kom ’n paar keer in die brief voor. Hulle was saam na ’n opvoering en ’n ander keer het hulle saam in ’n tennistoernooi gespeel. Verder skryf hy dat hulle nou in alle erns begin blok vir die eksamen, maar dat hy weer van hom sal laat hoor.

’n Tweede keer lees sy die brief noukeurig deur, ingeval sy iets gemis het, dan vou sy dit op en sit dit in haar handsak terug.

’n Lekker, interessante brief, en tog laat dit haar onbevredig. Hy sê dat hy haar mis en dat hy in dié dae so dikwels terugdink aan die een lente toe hulle saam in die Boland was. Maar sy lewe is so vol en besig en interessant dat sy twyfel of hy werklik weet wat verlange is. Dis in ieder geval ’n ander soort verlange as hare, wat soos ’n silwer draad deur die patroon van haar dae vleg en altyd maar daar is. Ook die gedagte dat daar gawe, aantreklike meisies soos Marietjie Botha is na wie hy hom kan wend wanneer hy behoefte aan geselskap het, laat haar nie meer getroos voel nie.


tryna-du-toit-11

Tryna du Toit Omnibus 11 bevat vier uiteenlopende stories deur ‘n immergewilde en baie geliefde skrywer.

Koop dit nou! Graffiti | Takealot | Amazon Kindle

Boek van die maand in Desember: Suster Leanie se groot hart deur Naretha Franken

suster-leanie-covSuster Leanie se groot hart deur Naretha Franken is NB-Liefdesverhale se boek van die maand in Desember!

Suster Leanie ontferm haar oor die haweloses in die parkie oorkant Worcester Med, ongeag van haar kollegas en haar verloofde, wynboer Henk, se vermanings. Dis háár tyd en geld en as sy iemand daarmee kan help, gaan sy dit doen. Dora en Isak is tog so bly as sy vir hulle kos bring of sommer net gesels.

En dan is daar Lu, die lang, maer man met die blou oë en die woeste baard. Hy hou hom eenkant, maar Leanie kan nie anders as om oor hom te wonder nie: Waar sou sy familie wees? Waarom leef hy op straat? Wanneer Lu met bloedvergiftiging en harsingskudding in die hospitaal beland, verdiep Leanie se betrokkenheid by dié man se wel en wee.

Terwyl Leanie ’n skokonthulling oor Henk se verlede moet verwerk en matrone Elizna Truter se venynigheid moet verduur, leer sy Lu – nou skoongeskeer en gesond – se hartseer verhaal ken. Sal hy, en Leanie, weer geluk kan vind?

Oor die skrywer:

Naretha Franken is in die Caledon-distrik gebore. Sy voltooi matriek in 1979 aan Namakwaland Hoërskool op Springbok, waarna sy na Worcester trek en vier jaar later met MC Franken trou. Drie kinders word uit die huwelik gebore, en die gesin woon die afgelope 7 jaar in Brackenfell.

Hoewel sy van jongs af skryf, waag sy dit eers op die ouderdom van 50 om haar manuskrip aan ’n uitgewer te stuur. Engel in die teater is haar debuutwerk.

Koop dit nou! Takealot Loot | Raru | Graffiti Amazon Kindle

Vier lentedag met ’n inkleurprent!

Vier lentedag met ‘n inkleurprent geïnspireer deur die voorblad van Anita du Preez se wonderlike liefdesverhaal, Letitia en die lektor! Die skrywer het dit self ontwerp – is dit nie wonderlik nie?

Druk die prent uit en deel jou kunswerk op ons Facebook-blad en jy wen dalk ‘n getekende kopie van die boek:

Hygblomme

Letitia en die lektorLetitia en die lektor deur Anita du Preez was NB-Liefdesverhale se boek van die maand in Augustus.

Koop dit nou! TakealotVan Schaik | Raru | Amazon Kindle | Graffiti

Anita du Preez beantwoord ’n paar vrae

Ons hartsvriendin het vir Anita du Preez, skrywer van Letitia en die lektor, so ‘n paar vrae gevra om die persoon ágter Augustus se ‘Boek van die maand’ beter te leer ken:

Anita du Preez

  1. Wat het die sappige storielyn van Letitia die lektor geïnspireer?

ʼn Insident op die kampus waar ek klasgee.  Toe ruk dit heeltemal handuit in die storie en soos karakters maar dikwels doen, besluit die vark in die verhaal toe hy wil liewer die sexy held in die verhaal wees. Toe is hy.

  1. Margot en die meerman, Die wet van liefde, Bambi en die boef, Hermien en die hartedief … Waar kom hierdie lekker titels vandaan?

Sommer uit my kop. Ek hou van rymelary en alliterasie en so het dit so half my “thing” geword om die heldin se naam met dieselfde letter te laat begin as die bynaam van die held. Ek hou van my taal en dis lekker om daarin te mag speel.

  1. Vertel ons van jou skryfproses – waar, wanneer, vir hoe lank?

Sedert 2007/8. Eers in Port Elizabeth, toe in die Kaap en altyd voor my kamervenster. Ek begin met die  eerste sin en daar gaat ek. Lees alles honderd keer oor en oor en is nie sommer tevrede nie. Vol fiemies. Maar dis lekker!

  1. As inspirasie laag daal, waar gaan soek jy die muse? Of is die muse ’n mite?

Ja! Sy bestaan wel, maar sy besoek jou net as jy werk. Sy val nie uit die lug nie. Sy woon in jou sleutelbord, daar waar jou karakters ook sommer so onder jou vingerpunte uitspring en sê “hei! Skryf my!”

  1. Wat kan jou aanhangers volgende verwag?

Aanhangers? Het ek aanhangers? Sjoe dankie julle! Hang net nog ʼn bietjie aan daar gebeur dalk nog ʼn liefdesverhaal teen Desember.

  1. Enige raad vir die wat ook graag liefdesverhale wil skryf?

Skryf hom. As hy in jou kop woon sal hy nooit weggaan en jou uitlos voor jy hom skryf nie, dus het jy nie juis ʼn keuse nie. So skryf hom dat die sop spat! En moet hom nie in ʼn file wegsteek nie. Wys dit vir iemand. Jy weet nooit!

  1. Wat lees jy op die oomblik?

Pamela Jooste People Like Ourselves (weer nou net klaar), Tyne O’ Conell Sex< Lies and Litigation (besig mee), Praba Moodley The Ties That Bind, Henning Mankell se Kennedy’s Brain (wag altwee op die bedkassie) en ʼn hoofstuk uit my Holy Bible New International Version, saans voor ek slaap. Ek het ook so pas my oë toegeknyp en my beursie oopgemaak en Deon Meyer se KOORS gekoop. Dus lê dit nou bo op al die ander boeke op my bedkas!

DSC_0203

 

Letitia en die lektor

Letitia en die lektor deur Anita du Preez is NB-Liefdesverhale se boek van die maand in Augustus!

Koop dit nou: TakealotVan Schaik | Raru | Amazon Kindle | Graffiti