Anita du Preez beantwoord ’n paar vrae

Ons hartsvriendin het vir Anita du Preez, skrywer van Letitia en die lektor, so ‘n paar vrae gevra om die persoon ágter Augustus se ‘Boek van die maand’ beter te leer ken:

Anita du Preez

  1. Wat het die sappige storielyn van Letitia die lektor geïnspireer?

ʼn Insident op die kampus waar ek klasgee.  Toe ruk dit heeltemal handuit in die storie en soos karakters maar dikwels doen, besluit die vark in die verhaal toe hy wil liewer die sexy held in die verhaal wees. Toe is hy.

  1. Margot en die meerman, Die wet van liefde, Bambi en die boef, Hermien en die hartedief … Waar kom hierdie lekker titels vandaan?

Sommer uit my kop. Ek hou van rymelary en alliterasie en so het dit so half my “thing” geword om die heldin se naam met dieselfde letter te laat begin as die bynaam van die held. Ek hou van my taal en dis lekker om daarin te mag speel.

  1. Vertel ons van jou skryfproses – waar, wanneer, vir hoe lank?

Sedert 2007/8. Eers in Port Elizabeth, toe in die Kaap en altyd voor my kamervenster. Ek begin met die  eerste sin en daar gaat ek. Lees alles honderd keer oor en oor en is nie sommer tevrede nie. Vol fiemies. Maar dis lekker!

  1. As inspirasie laag daal, waar gaan soek jy die muse? Of is die muse ’n mite?

Ja! Sy bestaan wel, maar sy besoek jou net as jy werk. Sy val nie uit die lug nie. Sy woon in jou sleutelbord, daar waar jou karakters ook sommer so onder jou vingerpunte uitspring en sê “hei! Skryf my!”

  1. Wat kan jou aanhangers volgende verwag?

Aanhangers? Het ek aanhangers? Sjoe dankie julle! Hang net nog ʼn bietjie aan daar gebeur dalk nog ʼn liefdesverhaal teen Desember.

  1. Enige raad vir die wat ook graag liefdesverhale wil skryf?

Skryf hom. As hy in jou kop woon sal hy nooit weggaan en jou uitlos voor jy hom skryf nie, dus het jy nie juis ʼn keuse nie. So skryf hom dat die sop spat! En moet hom nie in ʼn file wegsteek nie. Wys dit vir iemand. Jy weet nooit!

  1. Wat lees jy op die oomblik?

Pamela Jooste People Like Ourselves (weer nou net klaar), Tyne O’ Conell Sex< Lies and Litigation (besig mee), Praba Moodley The Ties That Bind, Henning Mankell se Kennedy’s Brain (wag altwee op die bedkassie) en ʼn hoofstuk uit my Holy Bible New International Version, saans voor ek slaap. Ek het ook so pas my oë toegeknyp en my beursie oopgemaak en Deon Meyer se KOORS gekoop. Dus lê dit nou bo op al die ander boeke op my bedkas!

DSC_0203

 

Letitia en die lektor

Letitia en die lektor deur Anita du Preez is NB-Liefdesverhale se boek van die maand in Augustus!

Koop dit nou: TakealotVan Schaik | Raru | Amazon Kindle | Graffiti

Liefde deur ’n lens: Elsa Winckler beantwoord ’n paar vrae

Hartsvriendin Carolyn Meads het met Elsa Winckler gesels om meer uit te vind oor haar jongste liefdesverhaal, Liefde deur ‘n lens:

Elsa Winckler 

  1. Liefde deur ’n lens is die derde boek in ’n trilogie wat deur Om Amelie se tafel en Liefde in laslap voorafgegaan word (hoewel elke boek ook op sy eie kan staan). Was dit van die begin af jou plan om ’n trilogie te skryf of het sekere newekarakters net daarop aangedring dat jy húlle liefdesverhaal ook vertel

Nee, ek het nie ’n reeks beplan nie. Om Amelie se tafel het ontstaan uit ’n idee dat die heldin ’n rekenaar bo ’n ring sal verkies 😊 Natalie is Amelie se vriendin van skooldae af en toe sy en Chris se broer Neethling ontmoet, kon ek sien hier kom ’n ding. Ek was halfpad met Liefde in laslap toe Francois, Natalie se broer, net eenvoudig homself in die storie dwing. Ek het dadelik ophou skryf en gaan stap, ontsteld oor die karakter wat ewe skielik homself kom opdring. En iewers op my wandelpad begin ek wonder hoekom dra Nicola altyd ’n kamera om haar nek. En net daar, val die derde storie Liefde deur ’n lens, in plek.

  1. Nicola Meyer, die heldin van Liefde deur ’n lens, is ’n fotograaf wat regoor die wêreld foto’s neem. Vertel ons van die navorsing wat jy moes doen om haar beroep geloofwaardig uit te beeld. 

Ek neem foto’s met my foon so ek is geen fotograaf nie, maar ek is mal oor besonderse fotografie en lees baie daaroor. Die portretstudies wat Nicola doen, is inspireer deur Joyce Tenneson se werk wat vir my baie aangrypend is (loer na sy werk)

  1. ’n Gedeelte van die boek speel in Santa Fe in Nieu-Mexiko af. Is dit ’n plek wat jy al self besoek het? Waarom het dit jou geïnspireer?

Ek het gesoek na ’n fotografiekursus wat Nicola kon gaan doen en het op die manier gesien in Sante Fé word daar jaarliks sulke kursusse aangebied. En toe moes ek meer uitvind oor Sante Fé en natuurlik is dit nou op my bucketlys om soontoe te gaan! Klink na ’n wonderlike plek waar enige vorm van kuns te sien is. Nicola moes blyplek hê en so het ek op die Inn of the five graces afgekom – die idee van die ‘five graces’ word op die inn se webwerf bespreek – wat toe baie mooi inpas by die storie

  1. Waarom is Nicola so aangetrokke tot Francois Olivier, haar skoonsus se broer? En andersom: Waarom is Francois so mal oor haar?

Beide besef daar is ’n ‘spark’ tussen hulle, maar Nicola kruip jare lank al agter haar kamera weg en steek weg hoe diep dinge haar werklik raak. Francois sien dit raak en sy begeerte om die werklike Nicola te ontdek, is die rede hoekom hy haar weer en weer opsoek.

  1. In die verhaal onderdruk Nicola pynlike herinneringe, maar Francois sien die seer raak wat sy probeer wegsteek. Glo jy in die helende krag van liefde?

O, ja. Tussen al die vreeslike dinge wat daagliks rondom ons gebeur, is dit die een wonderbaarlike sekerte – liefde oorwin, altyd.

9780624076018---Liefde-deur-`n-lens-cov

 

 

 

 

Koop dit nou! TakealotBargain Books | CNA | Graffiti | Raru| Amazon Kindle