November boek van die maand: Geliefde heler deur Malene Breytenbach

Geliefde heler deur Malene Breytenbach is on November boek van die maand:

Die briljante chirurg Geert Bouwman kom vir ’n paar maande op Stellenbosch locum. Maar die Nederlander is nie ’n maklike mens nie en teatersuster Naomi Roux is nie op haar mond geval wanneer sy dink dat iemand onredelik optree nie.

Dis ook nie haar verantwoordelikheid om na hom om te sien terwyl hy in sy tante se huis woon nie. Sy huur tog net die woonstel en ateljee by tant Merel. Hy’t tog gekies om sy ouers en moeilike verloofde saam te bring. Boonop het ondervinding haar allergies gemaak vir sulke gevaarlik aantreklike mans soos Geert Bouwman.

Naomi is uiters versigtig ná die seer wat sy moes oorkom toe haar verhouding met Charl op die rotse beland het. Maar Geert en Naomi is gedurig in mekaar se geselskap en hulle werk goed saam. Hoe kan sy onbetrokke staan teenoor ’n man soos dokter Geert Bouwman? Boonop gooi die charismatiese kunstenaar David Schonfeld behoorlik sy flikkers vir Naomi en Geert se verloofde, Daphne, is gevaarlik jaloers en besitlik.

Koop dit nou! Takealot | Raru | Loot | MySubs (digitaal) | Amazon Kindle

Oor die skrywer:

Dr. Malene Breytenbach het drie meestersgrade, asook ’n doktorsgraad in joernalistiek. Sy en haar man woon op Stellenbosch. Malene skryf sedert 2009 heeltyds en het verskeie liefdesverhale op haar kerfstok, sowel as die gewilde romans Gister is ’n ver land, Pluimprinse en Bloedgrond.

Nuut: Hartklop Omnibus 3

Drie romantiese liefdesverhale wat teen ’n mediese agtergrond afspeel verskyn in Hartklop Omnibus 3. 

Heler van skade​ deur Malene Breytenbach: Lucinda O’Neill word ’n pos as pediater by die Wynland-kliniek vir Aansteeklike Siektes aangebied en dit bring ’n algehele ommekeer in haar lewe mee – en nie slegs op professionele gebied nie. Want hier ontmoet sy vir Werner Huber, ’n siviele ingenieur, wie se seun tydens ’n werkskontrak in Afrika ’n tropiese siekte opgedoen het. Wanneer hy die seuntjie na die kliniek bring, maak dit ’n groter impak op Lucinda se lewe as wat sy ooit kon voorsien het. En intussen maak die resiesjaer Edwin van Reenen, wat haar ken sedert hulle kinderdae in die weeshuis, aanspraak op haar vriendskap en liefde. Lucinda het haar nog altyd van liefdesverbintenisse weerhou; haar werk was haar erns. Maar in die Wynland-kliniek word sy verplig om keuses te maak – en meteens lyk haar pad vorentoe baie gekompliseerd.

Die dokter se geheime passie​ deur Rykie Roux: Janli Filmalter, ’n toegewyde mediese student in haar vyfde jaar, en dokter Christiaan Lombard ken mekaar al vandat sy ses en hy nege jaar oud was. Hulle ken ook mekaar se families goed – dalk té goed. Waarom haat Christiaan haar skatryk pa so? Sal hy Gé, haar losbol-broer, kan vergewe vir wat hy aan sy onskuldige kleinsus gedoen het? Maar die belangrikste: probeer Christiaan op die Filmaters wraak neem deur Janli te verlei?

Ontmoet my in Patong​ deur Madeleine Malherbe: Laura Els is glad nie baie gelukkig in die hospitaal waar sy verpleeg nie. Miskien is dit omdat haar kêrel, Braam, weg is Engeland toe. Of dalk is dit nog die nadraai van die tsoenami- gebeure. Wat ook al, Laura besluit om Engeland toe te gaan, na Braam toe. Maar voor dit wil sy eers terug Thailand toe vir ’n kort vakansie om deur die herinneringe van die tsoenami en haar tyd daar te werk. In Thailand ontmoet sy toevallig weer die Engelse sakeman, Francis, wie se lewe sy destyds gered het. Die aantrekkingskrag tussen hulle skryf Laura toe aan die feit dat sy hom destyds gered het. Natuurlik sal so iets mens nader aan mekaar bring! En sy is immers nog verlief op Braam. In Patong het die lewe egter sy eie loop . . .

Koop dit nou! CNA | Loot | Van Schaik |  Graffiti | Amazon (Kindle) | MySubs

Luister na Malene Breytenbach se onderhoud op RSG Skrywers en Boeke

Malene Breytenbach is een van Afrikaans se mees bedrewe skrywers met meer as 30 liefdesverhale en 6 romans op haar kerfstok. Sy het onlangs op RSG se Skrywers en Boeke-program met Suzette Kotzé-Myburgh gesels oor haar skryfwerk.

Sy beantwoord onder meer die volgende vrae:

  • Wat is die verskil tussen ’n romanse en ’n roman?
  • Waar kom haar skryflus vandaan?
  • Hoe lyk haar skryf-werkswyse?
  • Waar kom haar storietemas vandaan?
  • Hoe vind haar studies neeslag in haar werk?
  • Wat is die moeilikste van skryf?
  • Hoe doen sy haar navorsing?

Die onderhoud begin by 5:40. Luister na die potgooi:

 

(Of luister op RSG )


Van sorg na liefde deur Malene Breytenbach was NB-Liefdesverhale se Mei boek van die maand. 

Koop dit nou!  Raru | Graffiti Takealot (eboek) | Amazon (eboek) |

 

 

Ilze Beukes beantwoord ’n paar vrae

Ilze Beukes, skrywer van ons Februarie boek van die maand, het sewe vrae oor Hart se tweede kans en haar skryfwerk beantwoord:


ilze-beukes

  1. Die Hartklop-reeks bied liefdesverhale wat afspeel in ’n mediese milieu en ’n tuisversorgingspraktyk bied die mediese agtergrond vir Hart se tweede kans. Waarom spesifiek hierdie been van die bedryf?

Aangesien ek vir jare by ‘n aftree-oord gewerk het, was dit vir my ‘n bekende en natuurlike keuse vir die agtergrond van die storie.

  1. Eugene Maritz is ’n pediatriese kardioloog – en ’n baie aantreklike een daarby! Is hy op iemand in die werklikheid geskoei? Soos watter bekende sou jy sê lyk hy?

Nee, hy het sommer net eendag opgedaag in Hart se tweede kans. Hy lyk soos Sam Heughan.
sam-heugen

  1. Die verhaal speel meestal by Dr Maritz se praghuis in Durbanville af. Waarom het jy juis hierdie dorp gekies?

Ek het al in heelwat provinsies van Suid-Afrika gewoon. Alhoewel ek in die Vrystaat bly, is ek steeds in my hart ‘n Kapenaar. Met my storiebeplanning het ek op die internet rondgesoek na huise wat te koop aangebied word en op hierdie droomplek afgekom wat dadelik my hart gesteel het. Mens mag mos maar droom … en daaroor skryf. Of hoe?

  1. Hart se tweede kans het die verwerking van gesinstrauma as onderliggende tema. Wat het jou genoop om daaroor te skryf?

My ma woon in die Kaap en het gedurende Mei 2015 op 83 jarige ouderdom geval terwyl sy alleen by die huis was. Die situasie rondom die beenbreuk was iets wat ek saam met haar deurgegaan het, ook die verskuiwing na die aftree-oord waar sy nou bly. Dit het my diep geraak.  Buiten die aftree-oord waar ek vir sewe jaar ‘n boekhoudster was, het ek ook by CAD (‘n instansie vir ondersteuning aan alkohol en dwelmafhanklikes) gewerk, daarom is dit vir my tweede natuur om sulke onderwerpe aan te raak.

 

  1. Het jy enige skryfrituele? Hoe werk jou skryfproses?

Iets sal gebeur of soms skiet ‘n gedagte my net binne, wat aanleiding gee of as ‘n prikkel dien vir die kern van die storie. Daarna begin ek met die groot beplanningsproses. Ek besluit wie my karakters gaan wees en watter kwaliteit hulle uniek gaan maak. Bv. wat hul naam gaan wees, waar hulle gaan woon en werk, hulle kleredrag, spraakpatroon, ensovoorts. Navorsing en beplanning is my gunsteling deel van skryf, daarom spandeer ek baie tyd daaraan.  Ek maak seker dat mediese prosedures en enige ander inligting so ver moontlik korrek is. Daarna volg die storie meestal sy eie kop. Soms ver verby ure-lange beplanning. Ek volg maar net.

  1. Wie is van jou gunsteling liefdesverhaalskrywers?

Amelia Strydom, Elsa Winckler, Jacolet van den Berg, Madelie Human, Kristel Loots en nog vele ander. Te veel om op te noem. Ek lees wyd. Engels en Afrikaanse boeke.

  1. Laastens, watter boeke het jy onlangs gelees wat jy vir lesers kan aanbeveel?

Ek is besig met ‘Lente in ‘n bottel’ van Jacolet van den Berg. Sover geniet ek dit baie.


hart-se-tweede-kans-covHart se tweede kans deur Ilze Beukes is NB-Liefdesverhale se Februarie boek van die maand, die tweede vir 2017!

 

Koop dit nou! Loot | Amazon (Kindle) | Takealot | Takealot eBook

Boek van die maand in Februarie: Hart se tweede kans deur Ilze Beukes

hart-se-tweede-kans-covHart se tweede kans deur Ilze Beukes is NB-Liefdesverhale se Februarie boek van die maand, die tweede vir 2017!

Toe suster Wida Storm hoor dat dokter Eugene Maritz iemand benodig om sy bejaarde ma tuis te versorg, gryp sy die geleentheid aan. Sy wil lankal haar eie tuisverplegingpraktyk begin en dié werk sal haar die nodige ondervinding gee.

Maar Wida kom gou agter dat als in dié familie nie pluis is nie toe sy saam met tannie Olga in Eugene se huis intrek om haar te versorg. Watse hartseer lê in Eugene se verlede? Waarom is daar ’n stremming op sy verhouding met sy ma? Hoekom skerm tannie Olga vir haar ander seun terwyl Eugene niks met sy broer te doen wil hê nie?

Met die eerste oogopslag is Eugene stroef en afsydig, maar Wida besef toenemend dat dit ’n front is wat die aantreklike en gevoelvolle dokter voorhou – ’n verskansing teen die verraad en verlies wat hy beleef het. Sy is besig om haar hart onkeerbaar op hom te verloor, maar sal sy ooit die mure wat hy om hom gebou het, kan afbreek? Sal Eugene ooit weer ’n vrou in sy hart toelaat?

Oor die skrywer:

Ilze Beukes hou haar bedags besig met die woelinge van die kinders by ’n laerskool en saans en oor naweke glip sy in haar eie stories in en vermaak haar met haar eie storiekarakters. Sy en haar man en seun bly op Kroonstad en besoek gereeld haar twee dogters en hul gesinne.

Koop dit nou! Loot | Amazon (Kindle)

Boek van die maand in Desember: Suster Leanie se groot hart deur Naretha Franken

suster-leanie-covSuster Leanie se groot hart deur Naretha Franken is NB-Liefdesverhale se boek van die maand in Desember!

Suster Leanie ontferm haar oor die haweloses in die parkie oorkant Worcester Med, ongeag van haar kollegas en haar verloofde, wynboer Henk, se vermanings. Dis háár tyd en geld en as sy iemand daarmee kan help, gaan sy dit doen. Dora en Isak is tog so bly as sy vir hulle kos bring of sommer net gesels.

En dan is daar Lu, die lang, maer man met die blou oë en die woeste baard. Hy hou hom eenkant, maar Leanie kan nie anders as om oor hom te wonder nie: Waar sou sy familie wees? Waarom leef hy op straat? Wanneer Lu met bloedvergiftiging en harsingskudding in die hospitaal beland, verdiep Leanie se betrokkenheid by dié man se wel en wee.

Terwyl Leanie ’n skokonthulling oor Henk se verlede moet verwerk en matrone Elizna Truter se venynigheid moet verduur, leer sy Lu – nou skoongeskeer en gesond – se hartseer verhaal ken. Sal hy, en Leanie, weer geluk kan vind?

Oor die skrywer:

Naretha Franken is in die Caledon-distrik gebore. Sy voltooi matriek in 1979 aan Namakwaland Hoërskool op Springbok, waarna sy na Worcester trek en vier jaar later met MC Franken trou. Drie kinders word uit die huwelik gebore, en die gesin woon die afgelope 7 jaar in Brackenfell.

Hoewel sy van jongs af skryf, waag sy dit eers op die ouderdom van 50 om haar manuskrip aan ’n uitgewer te stuur. Engel in die teater is haar debuutwerk.

Koop dit nou! Takealot Loot | Raru | Graffiti Amazon Kindle

Malene Breytenbach beantwoord ’n paar vrae

Malene Breytenbach, skrywer van Oktober se boek van die maand Grenslose liefde, het so ‘n paar vrae oor hierdie Hartklop-verhaal beantwoord:

malene3-kleur

  1. Grenslose liefde neem lesers na die beeldskone Skotse Hooglande. Hoe het jy jou navorsing gedoen om dié omgewing, veral Strahan Castle, so suksesvol op papier oor te dra?

Ek is nog altyd gefassineer deur die Skotte met hulle drag, hulle doedelsakke, hulle Hoogland-klans en oorloë en kastele en hulle romantiese geskiedenis soos dié van Bonnie Prince Charlie wat teruggekeer het Skotland toe en weer die troon vir die Stuarts wou wen. Die landskap is pragtig. Die kasteel van Eilean Donin word byvoorbeeld die mees fotogeniese kasteel  ter wêreld genoem.  Ek het die geskiedenis en werklike kastele nagevors en my plekke daarop gabaseer. Ek lees graag geskiedenis.

 

  1. Colin Mackenzie is ’n behoorlike Hartklop-held. Is hy op iemand gegrond of het jy hom uit jou verbeelding opgediep? Hoe gaan jy te werk om ’n outentieke held te skep?

Colin is nie op enigiemand spesifiek gebaseer nie, hoewel die held van Outlander dalk ’n slag deur my kop gehardloop het.  En Liam Neeson soos hy in Rob Roy was. En Mel Gibson in Braveheart. En gen Andy Wauchope van die Black Watch. My held is net skoner (!!) en hy moet natuurlik intelligent en adellik wees. Ek verbeel my ’n man, dink aan sy voorkoms en persoonlikheid. Onthou Skotte wat ek in Zimbabwe geken het. Die man het sulke onmoontlike blou oë gehad. Ek raak self so ’n bietjie verlief op dié ideaal, en siedaar! Colin is gebore.

  1. Die hospitaalpasiënte is tog vreeslik interessant! Van die aktrise wat haar verbeel sy is Mary Queen of Scots tot die politikus – vanwaar die inspirasie vir hulle?

Mense soos akteurs en rocksterre, uitgewaste politici en getraumatiseerde dog heroïese soldate is lekker uiteenlopend.  Die skone Mary Queen of Scots se verhaal  is ook fassinerend. In een fliek is die kasteel Eilean Donin werklik gebruik as Fotheringhay-kasteel waar sy tereggestel is.  Die mense het hulle aan my kom voorstel en gevra om in die boek te wees.

  1. Wat lok jou aan na die Hartklop-reeks?

Die lekkerste omtrent die Hartklop-reeks is dat ek dinge kan navors waaroor ek nie voorheen gedink het nie. Ek leer oor mediese dinge. Nuwe wêrelde gaan vir my oop. Karakters kry lewe. Ek skep ’n nuwe wêreld.

  1. Het jy enige skryfrituele? Hoe werk jou skryfproses?

Ek het geen rituele nie. Ek begin in die oggend werk en nie altyd dieselfde tyd nie. Skryf totdat ek voel ek moet nou eers afskakel. Gaan rekenaar toe as ek skielik aan iets dink. Kry idees in die nag en vroeë oggend as ek in die bed lê en dink. Ek dink dis verkeerd om te karring. Ek skryf as ek min of meer vars is.

  1. Jy is een van die mees bedrewe liefdesverhaalskrywers in die land. Waar vind jy inspirasie vir al jou stories?

Ek weet nie regtig waar ek inspirasie vind nie. Soms sien ek ’n fliek, of lees iets, of iemand gee my ’n wenk. Dan broei ek gaandeweg die eier uit. Dink eers aan ’n agtergrond wat my fassineer en skep dan die karakters. Gaan op verbeeldingsvlugte en sien plekke en mense wat vir my so werklik raak soos werklike mense en plekke. Dan skryf ek daaroor.

  1. Laastens, watter boeke het jy onlangs gelees wat jy vir lesers kan aanbeveel?

Ek lees sonder ophou. Ek het Michael Ondaatje se The Cat’s Table onlangs gelees en toe lees ek weer sy manjifieke The English Patiënt. Verder lees ek nog Elsabé Brits se boek oor Emily Hobhouse, Geliefde Verraaier. Ek het Chanette Paul se Offerlam onlangs baie geniet. Ek lees ook Li Cunxin se Mao’s Last Dancer en Marianne Thamm se Hitler, Mandela and Me. Ek lees meer as een boek op ’n slag. Lees waarvoor ek in die stemming is. Ek kan natuurlik alles aanbeveel.


 

grenslose-liefde-covGrenslose liefde deur Malene Breytenbach is NB-Liefdesverhale se boek van die maand in Oktober!

Koop dit nou: Loot | Raru | Reader’s Warehouse | Graffiti