Lucille du Toit beantwoord ’n paar vrae

n Muse vir Tess deur Lucille du Toit was NB-Liefdesverhale se Maart boek van die maand. Sy het so ‘n paar vrae beantwoord:

  1. Jou hoofkarakters het albei deur egskeidings gegaan. Waarom spesifiek hierdie agtergrond?

‘n Bekende tydskrif het op hul Facebook-blad gevra vir snaakse maniere hoe mense hul lewensmaats ontmoet het, een inskrywing het my oog gevang. Dit was n vrou wat vertel het dat sy en haar man mekaar by hul ekse se huis ontmoet het. Hy was haar eks se nuwe vrou se eks! Verwarrend, ek weet, maar op daardie stadium was ‘n hele paar van my kollegas en vriendinne besig om deur egskeidings te gaan. Ek het gedink soveel mense kan met die struikelblok assosieer dat ek besluit het om my karakters in dieselfde posisie te plaas en vir hulle ʼn gelukkige einde te gee. Ek is self nog nooit geskei nie, maar glo dat almal tweede kanse verdien.

 

  1. Jan-Daniel is ’n tandarts, en ’n sexy een daarby! Hoe skryf mens ’n sexy tandarts?

Met ‘n goeie skoot verbeelding! Tandartsspreekkamers gee my koue rillings, maar ek glo as ek nie op my held kan verlief raak nie, sal my leser ook nie en ek wou hom ʼn normale alledaagse beroep gee. Enige man in enige beroep kan mos sexy wees.

 

  1. Vir inspirasie raadpleeg Tess ’n kunstenaarsboek met verskillende stories. Hoe vergelyk jou kreatiewe proses van Tess s’n?

Net soos Tess lees ek ook graag boeke vir inspirasie, in my geval net liefdesverhale. Ek wil graag glo dat my kreatiewe proses georden is, maar dis glad nie die geval nie. Al beplan ek hoe vooraf wat in elke hoofstuk gebeur, laat karakters hulle nie voorskryf nie en is daar gewoonlik baie strepe deur my beplanning wat gevolg word deur tonne doodles (nie skilderye nie!), tot ek met nuwe, beter idees vorendag kom.

 

  1. Jy skryf onder ’n skuilnaam. Waarom? Het dit enigsins bygedra tot die skryfproses, die wete dat niemand gaan weet dit is jy nie?

Toe ek vir my kinders sê dat ek liefdesverhale gaan begin skryf het hulle gevra asseblief tog net nie onder my eie naam nie! Maar die eintlike rede is omdat ek ook in ander genres skryf en nie my lesers wil verwar nie. Ek dink tog die skans gee mens bietjie meer vrymoedigheid om te skryf sonder om veroordeel te voel.

 

  1. ’n Muse vir Tess is jou debuut as liefdesverhaalskrywer. Wat kom volgende?

Om liefdesverhale te skryf is net so ontspannend soos om dit te lees. So nou dat die gogga my gebyt het, beplan ek om so veel as moontlik daarvan te skryf. Ek werk tans aan ’n verhaal wat November in NB-uitgewers se Ultrasatyn 3 sal verskyn. Daar verskyn ook later die jaar een van my verhale in Lapa-uitgewers se vierde Romanza-Liefde.

 

  1. Watter boeke lê tans op jou bedkassie, of waar ook al jou “to read”-hopie gebêre word?

Op my bedkassie lê daar altyd een of twee Nora Roberts-boeke. Terry Hayes se I am Pilgrim waaraan ek tans lees, The Valley of Amazement van Amy Tan en The thing about Jellyfish van Ali Benjamin.
Laaste, maar nie die minste – kan jy dalk ’n foto met ons deel wat verband hou met die boek?

Die foto is van ‘n plaaslike kunstenares se Facebook-blad verkry. Sy was my inspirasie vir Tess.


Wil jy graag ‘n Muse vir Tess lees? Koop dit nou! Takealot | Loot | Graffiti | Amazon Kindle

 

April boek van die Maand: Die landheer van Koningshof deur Schalkie van Wyk

Die landheer van Koningshof deur Schalkie van Wyk is NB-Liefdesverhale se April boek van die maand:

Erika Strauss het klaar studeer en wil begin om sielkunde te praktiseer, maar skielik is haar eie psige vir haar ’n raaisel. Dis die aantreklike donkerkopman wat sy in die bure se tuin aangetref het wat haar kop so deurmekaarkrap. Wat sou haar besiel het om die wildvreemde man te soen en dit boonop te geniet?

Hy was geklee in ’n oorpak en het beweer hy is ’n tuinier en sy naam is Moos, maar sy weet sommer dit is nie waar nie. Wie is hy? En waarheen het hy verdwyn? Sy verbeel haar nou selfs dat sy hom, geklee in ’n aandpak, in ’n deftige restaurant gewaar het …

Sy moet haar regruk, want ’n ou vriend het haar hulp nodig om sy vrou se irrasionele vrese te help besweer. Maar Erika weet sy sal ook met haar eie emosionele bagasie moet vrede maak as daar enigsins vir haar ’n kans op liefde is …

Oor die skrywer: 

Schalkie van Wyk woon in Johannesburg.Toe sy laas getel het, het daar reeds oor die honderd liefdesverhale uit haar pen verskyn.

Koop dit nou! Loot | Takealot | Graffiti | Leserskring

Lees ’n uittreksel uit ’n Muse vir Tess deur Lucille du Toit

n Muse vir Tess deur Lucille du Toit is NB-Liefdesverhale se Maart boek van die maand:

’n Tandartsstoel is die laaste plek waar Tessa Meyer verwag het om haar muse teë te kom toe sy weer begin skilder het, maar een kyk in dokter Jan-Daniel Vermeulen se oë en skielik het sy inspirasie. Sy kan egter nie romanties by die mooi man betrokke raak nie. Haar skeisaak moet afgehandel word en haar dogters sukkel reeds om dit te aanvaar …

Lees ‘n uittreksel uit hierdie heerlike liefdesverhaal:


Op die stoep wys Jan-Daniel sy moet langs hom kom sit.

“Ek hoop nie jy gee om nie, maar Mia is besig om van Prinses ’n regte prinses te maak. Sy bad haar . . . in jou wasbak.” Tess huiwer voor sy sit. Sy is nie seker of dit ’n goeie idee is om so naby aan hom te wees nie. Dit voel asof haar lyf nie wil doen wat haar kop voorskryf nie. Toe Tess uiteindelik haar sit so ’n entjie van hom af kry, hou hy vir haar ’n glas sjerrie.

“Natuurlik nie. Ek is eintlik dankbaar. Ek het nie kans gesien om dit te doen nie.” Hy glimlag. “Jy weet, ek wou die hond eintlik net gehad het om vir … e … Lien te irriteer. En toe is sy sowaar bly daaroor. Haar nuwe liefde het blykbaar katte wat honde nie kan verdra nie.”

“Dit klink amper soos my eks. Ek dink net dit is eerder hy wat honde nie kan verdra nie.” Tess lag.

Jan-Daniel stik effens in sy sjerrie. “Jy sal maak dat ek môre my eks se hond vir haar gaan teruggee. Dalk voel haar ou ook so en bewys ek hom eintlik ’n guns deur die hond hier te hou.” Jan-Daniel teug aan sy sjerrie.

“Voel dit nie vir jou of alles net perfek vir jou eks en die man uitwerk en niks vir jouself nie?” Tess byt op haar lip.

“Ek tob nie meer daaroor nie. As ek nie goed genoeg was vir haar nie, is ek dalk goed genoeg vir iemand . . . anders.”

Voordat Tess besef wat gebeur, het Jan-Daniel haar been oor syne getrek. Sy sit verskrik orent asof iemand ’n pistool teen haar slaap druk. Wat maak die man nou?

“Ekskuus,” sê hy, maar hou haar been op syne. Tess kan elke druppel bloed in haar are hoor bruis. “Mag van die gewoonte. Ek het dit altyd vir my vrou gedoen na ’n lang dag.” Hy hou sy hande in die lug asof hy oorgee.

Tess kry haar been nie geroer nie. Dit lê net daar op die man se harde, gespierde bobeen. Sy is verlig sy het nie ’n rok aan nie.

“Gee jy om?” vra hy, maar hy glip al klaar haar skoen af voordat sy kan keer. Jan-Daniel se sterk hande neem oor en Tess vergeet van haar skaamte. Die manier hoe sy hande sorgvuldig om haar moeë voete vou, voel fantasties.

“Hmm, ek weet regtig nie wat jou eks nou sonder jou doen nie.” Die woorde vlieg by Tess se mond uit voordat sy dit kan keer.

’n Lag laat Jan-Daniel se lyf ruk. “Ek ook nie,” spot hy, maar dan skuif daar ’n gordyn van erns oor sy gelaat. “Het Tian jou nooit bederf nie?”

Tess trek haar skouers op. Sy kan dit nie teenoor ’n vreemdeling erken nie, maar soms het dit vir haar gevoel asof hy haar aspris seermaak. Asof haar trane hom die grootste vreugde gegee het. Niks wat sy gedoen het, kon sy liefde verdien nie. En toe bevestig hy dit deur haar vir ’n ander vrou te los.

Skielik is dit asof iemand ’n skakelaar in haar brein laat klik, en Tess lag: “Jy weet, noudat ek daaraan dink . . . ek moes eintlik ’n groot rooi strik om Tian gedraai het vir Sulien, die vrou vir wie hy my gelos het, en vir haar ’n pragtige dankiesê-brief geskryf het. Ek besef nou net ek moet dankbaar wees dat hy uit my lewe is. Dié keer is ek nie die slagoffer nie, sy is.”


Koop dit nou! Takealot | Loot | Graffiti | Amazon Kindle

Nuut: Satyn Omnibus 6

Drie sexy liefdesverhale deur drie gewilde skrywers verskyn hierdie maand in Satyn Omnibus 6:

satyn-omnibus-6-cov_finalIn Om minder lief te hê deur Ettie Bierman is Arabel ná net ’n jaar van getroude lewe van Henning geskei. Hy het padgegee en ’n pos as vlieënier by ’n Australiese lugredery aanvaar. Maar nou, ses jaar later, ontmoet hulle weer op ’n Hongkong-vlug. Hierdie keer is sy lugwaardin en hy haar kritiese bevelvoerder. En die aantrekkingskrag smeul nog net so sterk tussen hulle.

In Margot en die meerman deur Anita van Tonder gaan hou Margot vakansie in Zanzibar – stoksielalleen. Daar is niemand wat haar ken nie. En ook niemand om dit saam met haar te vier wanneer sy uitvind dat sy haar M.A. in Musikologie cum laude verwerf het nie. Dan verskyn Konrad op die toneel: diepseeduiker, eksoties, atleties. En jonger as sy.

En in Hartstog in Malawi deur Lizet Engelbrecht word Rochelle deur haar baas gestuur om die enigmatiese Sir J.C. Auther op te spoor, voordat die publiek óf die pers besef dat hy in Malawi wegkruip. Maar vandat sy in Malawi land, ontspoor haar goeddeurdagte plan. Sy ontmoet ene kaptein Costa en die vonke spat onmiddellik.

Koop dit nou! Van Schaik | Loot | Takealot | Graffiti | Amazon Kindle

Boek van die maand in Maart: ’n Muse vir Tess deur Lucille du Toit

n-muse-vir-tess-omslagn Muse vir Tess deur Lucille du Toit is NB-Liefdesverhale se Maart boek van die maand, die derde vir 2017!

’n Tandartsstoel is die laaste plek waar Tessa Meyer verwag het om haar muse teë te kom toe sy weer begin skilder het, maar een kyk in dokter Jan-Daniel Vermeulen se sjokoladebruin oë en skielik het sy ’n nuwe onderwerp vir haar kuns gevind. Daardie oë duik herhaaldelik in haar werk op. Soveel te meer nadat Jan-Daniel haar dienste bekom om ’n muurskildery vir sy spreekkamer te skilder, want nou sien sy hom elke dag en kan sy haar aangetrokkenheid tot hom nie ontken nie.

Maar sy kan mos nie nou in ’n verhouding betrokke raak nie. Haar skeisaak is op die punt om voltrek te word en haar dogters sukkel reeds om dit te aanvaar. Al is Dokter Dan ook hóé sexy kan Tess nie verdere komplikasies bekostig nie.

Oor die skrywer: 

Lucille du Toit is die skuilnaam van ’n skrywer van Noordwes wat ook al in ander genres sukses behaal het. ’n Muse vir Tess is haar eerste boek wat onder die Satyn-druknaam verskyn.

Koop dit nou! Takealot | Loot | Graffiti | Amazon Kindle

Lees ’n uittreksel uit Die nimmer-nimmer-berge soos in Tryna du Toit Omnibus 11

In Tryna du Toit se liefdesverhaal Die nimmer-nimmer-berge, wat oorspronklik in 1953 verskyn het, moet Sarie de Klerk ná haar ma se dood na hul plaas terugkeer om vir haar pa en broer te kom huishou. Sy voel vasgevang in haar eensame bestaan, totdat die buurplaas ’n nuwe eienaar kry …

Lees ‘n uittreksel uit hierdie nostalgiese verhaal:


Op die dorp ry Sarie eers by die motorhawe aan om te hoor of die onderdele wat haar pa vir die bakkie bestel het, gekom het. Gelukkig is dit daar en nadat sy dit laat inlaai het, ry sy reguit poskantoor toe, waar André se brief wel op haar wag. Daar is ook ’n brief van Louise, haar skoonsuster. Sy bêre die briewe in haar handsak en tel die tydskrifte op toe ’n jong man langs haar kom staan.

Dis hulle buurman, Herman Bouwer, die nuwe eienaar van Uitkyk.

“Goeiemôre, juffrou,” groet hy beleef.

“Gaan dit goed?” “Goed, dankie,” antwoord sy skamerig en wonder waar- om sy altyd so jonk en verleë in sy geselskap voel. Is dit sy  koel, amper ongenaakbare houding of is dit maar net omdat hy, ten spyte van hulle buurskap, nog feitlik ’n vreemdeling vir haar is?

Hy vra na haar pa en nooi haar dan tot haar verbasing om ’n koppie tee saam met hom te gaan drink.

Hulle stap saam na die kafee daar naby en terwyl hy die tee bestel, bestudeer sy hom ongemerk. Herman Bouwer is omtrent dertig jaar oud, lank en skraal met sterk, breë skouers, donker hare, helderblou oë en ’n ferm mond. Die swaar, donker wenkbroue gee sy gesig ’n streng voorkoms.

Hy draai skielik sy kop en sy bloos, vies en verleë dat hy haar betrap het.

“Is jou pa ook op die dorp?” vra hy.

“Nee, Pa is besig om te ploeg. Ek het alleen gekom.”

“Is jy nie bang om alleen rond te ry nie?” vra hy en sy kyk verbaas op.

“Nee, ek is nie bang nie,” antwoord sy geamuseer. “Dis net ongerieflik as die ou Chev die dag vol nukke is.”

Hy frons, maar antwoord nie. Die kelnerin bring die tee en Sarie skink vir hulle in. Toe sy sy koppie aangee, vra hy: “Wanneer begin jou pa skeer?”

“Volgende week.”

“Hoe lank verwag julle om besig te wees?”

“Ek weet nie. Seker so drie, vier weke.”

“Ek kry die skeerders na julle. Ek sal maar later weer hoor hoe dit vorder.”

“Dit sal die beste wees,” sê sy koel. Is dít waarom hy haar genooi het om saam met hom tee te drink, om oor die skeerders te gesels?

“Wanneer gaan jy terug plaas toe?” vra hy onverwags en weer kyk sy verbaas op.

“Sodra die skool uitkom. Pa wil hê Hannes moet hom nog vanmiddag met die ploeëry help.”

“Jou broer skryf vanjaar matriek, nie waar nie?”

Sy knik, verbaas oor die skielike belangstelling.

“En dan?” vra hy. Sy antwoord nie dadelik nie en hy sien die skaduwee wat oor haar gesig val.

“Ek weet nie,” sê sy uiteindelik. “Hannes wil ’n dokter word, maar my pa sê hy moet kom boer.”

Hy is stil, dan sê hy: “Gelukskraal is ’n mooi plaas. Waarom wil hy weggaan? Omdat die wêreld daar buite vir hom blinker en mooier lyk?”

“Elke mens het die reg om oor sy eie lewe te besluit,” sê sy styf.

“As ’n man jonk is, weet hy nie altyd wat hy wil hê nie, of wat die beste vir hom is nie. Stem jy nie met my saam nie?” vra hy toe sy nie antwoord nie.

“Nee, ek stem nie saam nie, meneer Bouwer,” sê sy koel.

“Geen ouer het die reg om sy kind op te offer om sy eie ideale te bereik nie.” Sy drink haar tee klaar en stoot haar stoel agteruit. “Ek moet gaan, my tante wag vir my. Dankie vir die tee.”

Tant Anna ontvang haar hartlik en glimlag net toe Sarie vra of sy eers haar briewe kan lees. “Gaan jou gang,” sê sy. “Ek is in die spens besig as jy my soek.”

Sarie maak dadelik André se brief oop. Sy is so uitgehonger vir nuus van hom dat sy nie ’n oomblik langer kan wag nie.

Dis ’n lekker geselsbrief, vol allerhande nuusbrokkies oor homself, sy werk en sy vriende. André skryf sulke lewendige, interessante briewe dat dit haar laat voel of sy ook so ’n bietjie deel in sy lewe daar op universiteit. Marietjie Botha se naam kom ’n paar keer in die brief voor. Hulle was saam na ’n opvoering en ’n ander keer het hulle saam in ’n tennistoernooi gespeel. Verder skryf hy dat hulle nou in alle erns begin blok vir die eksamen, maar dat hy weer van hom sal laat hoor.

’n Tweede keer lees sy die brief noukeurig deur, ingeval sy iets gemis het, dan vou sy dit op en sit dit in haar handsak terug.

’n Lekker, interessante brief, en tog laat dit haar onbevredig. Hy sê dat hy haar mis en dat hy in dié dae so dikwels terugdink aan die een lente toe hulle saam in die Boland was. Maar sy lewe is so vol en besig en interessant dat sy twyfel of hy werklik weet wat verlange is. Dis in ieder geval ’n ander soort verlange as hare, wat soos ’n silwer draad deur die patroon van haar dae vleg en altyd maar daar is. Ook die gedagte dat daar gawe, aantreklike meisies soos Marietjie Botha is na wie hy hom kan wend wanneer hy behoefte aan geselskap het, laat haar nie meer getroos voel nie.


tryna-du-toit-11

Tryna du Toit Omnibus 11 bevat vier uiteenlopende stories deur ‘n immergewilde en baie geliefde skrywer.

Koop dit nou! Graffiti | Takealot | Amazon Kindle

Ilze Beukes beantwoord ’n paar vrae

Ilze Beukes, skrywer van ons Februarie boek van die maand, het sewe vrae oor Hart se tweede kans en haar skryfwerk beantwoord:


ilze-beukes

  1. Die Hartklop-reeks bied liefdesverhale wat afspeel in ’n mediese milieu en ’n tuisversorgingspraktyk bied die mediese agtergrond vir Hart se tweede kans. Waarom spesifiek hierdie been van die bedryf?

Aangesien ek vir jare by ‘n aftree-oord gewerk het, was dit vir my ‘n bekende en natuurlike keuse vir die agtergrond van die storie.

  1. Eugene Maritz is ’n pediatriese kardioloog – en ’n baie aantreklike een daarby! Is hy op iemand in die werklikheid geskoei? Soos watter bekende sou jy sê lyk hy?

Nee, hy het sommer net eendag opgedaag in Hart se tweede kans. Hy lyk soos Sam Heughan.
sam-heugen

  1. Die verhaal speel meestal by Dr Maritz se praghuis in Durbanville af. Waarom het jy juis hierdie dorp gekies?

Ek het al in heelwat provinsies van Suid-Afrika gewoon. Alhoewel ek in die Vrystaat bly, is ek steeds in my hart ‘n Kapenaar. Met my storiebeplanning het ek op die internet rondgesoek na huise wat te koop aangebied word en op hierdie droomplek afgekom wat dadelik my hart gesteel het. Mens mag mos maar droom … en daaroor skryf. Of hoe?

  1. Hart se tweede kans het die verwerking van gesinstrauma as onderliggende tema. Wat het jou genoop om daaroor te skryf?

My ma woon in die Kaap en het gedurende Mei 2015 op 83 jarige ouderdom geval terwyl sy alleen by die huis was. Die situasie rondom die beenbreuk was iets wat ek saam met haar deurgegaan het, ook die verskuiwing na die aftree-oord waar sy nou bly. Dit het my diep geraak.  Buiten die aftree-oord waar ek vir sewe jaar ‘n boekhoudster was, het ek ook by CAD (‘n instansie vir ondersteuning aan alkohol en dwelmafhanklikes) gewerk, daarom is dit vir my tweede natuur om sulke onderwerpe aan te raak.

 

  1. Het jy enige skryfrituele? Hoe werk jou skryfproses?

Iets sal gebeur of soms skiet ‘n gedagte my net binne, wat aanleiding gee of as ‘n prikkel dien vir die kern van die storie. Daarna begin ek met die groot beplanningsproses. Ek besluit wie my karakters gaan wees en watter kwaliteit hulle uniek gaan maak. Bv. wat hul naam gaan wees, waar hulle gaan woon en werk, hulle kleredrag, spraakpatroon, ensovoorts. Navorsing en beplanning is my gunsteling deel van skryf, daarom spandeer ek baie tyd daaraan.  Ek maak seker dat mediese prosedures en enige ander inligting so ver moontlik korrek is. Daarna volg die storie meestal sy eie kop. Soms ver verby ure-lange beplanning. Ek volg maar net.

  1. Wie is van jou gunsteling liefdesverhaalskrywers?

Amelia Strydom, Elsa Winckler, Jacolet van den Berg, Madelie Human, Kristel Loots en nog vele ander. Te veel om op te noem. Ek lees wyd. Engels en Afrikaanse boeke.

  1. Laastens, watter boeke het jy onlangs gelees wat jy vir lesers kan aanbeveel?

Ek is besig met ‘Lente in ‘n bottel’ van Jacolet van den Berg. Sover geniet ek dit baie.


hart-se-tweede-kans-covHart se tweede kans deur Ilze Beukes is NB-Liefdesverhale se Februarie boek van die maand, die tweede vir 2017!

 

Koop dit nou! Loot | Amazon (Kindle) | Takealot | Takealot eBook