Lees ’n uittreksel uit Boeie van goud deur Ena Murray

Drie van Ena Murray se heel beste liefdesverhale verskyn vandeesmaand in een omnibus, Ena Murray Keur 12.

In Boeie van goud, een van die verhale, vra Charmain haar af: Hoekom het Quintus de la Harpe met haar getrou as hy haar nooit werklik sy vrou wou maak nie? Sy het hom lief, maar moet toekyk hoe sy skoonsuster en niggie wedywer om sy aandag. Wanneer Marius de la Harpe en Jacques Taute haar pad kruis, raak die situasie nog meer onverstaanbaar …

Lees ‘n uittreksel uit hierdie verhaal:


em-keur-12-cov

Charmain kyk verbaas op toe die eienares van die losieshuis haar kom roep vir ’n besoeker. Sy is nie gewoond daaraan dat sy besoek kry nie. Dan frons sy. Miskien is dit daardie lastige klerk wat sy in haar nuwe werk leer ken het. Eers wil sy die hospita vra om namens haar verskoning te maak. Dan stap sy maar tog voordeur toe.

Haar hart spring in haar keel toe sy die imponerende gestalte in die voorportaal sien staan en sy steek viervoet vas; dis hý wat nader stap.

“Ek is jammer ek kom sommer so sonder afspraak hier aan, maar ek is toevallig in die stad en het toe gedink om net te kom hoor hoe dit gaan,” sê hy nadat hulle gegroet het. “Hoe gaan dit?”

Sy kyk met blink oë na hom op. Dis die oë van ’n kind, vol onverbloemde, opregte vreugde. Charmain is nog te jonk en onervare om nou al die kuns aan te geleer het om nie haar hart so te ontbloot nie.

“Dit gaan goed, dankie, meneer De la Harpe. O, dis wonderlik om u weer te sien!”

Hy knik, sy oë ernstig, bestuderend. “Ek is bly om dit te hoor.” Hy kyk vlugtig om hom heen in die portaaltjie, wat duidelik verraai dat dit nie een van die beste losieshuise in die stad is nie. “Sal ons ’n entjie gaan ry?”

Weer blink en skitter die oë onbeskaamd, en hy hoef nie op ’n antwoord te wag nie. Vir die tweede keer in haar kort, saai lewetjie voel sy hoe sy in die luukse motor wat voor die deur staan, ingehelp word, en dit voel vir haar asof sy sweef. Hy het weer gekom! Hy het haar onthou! So dink sy deurentyd.

“Waar is jou kwaai vriendin?” vra hy glimlaggend toe hy langs haar inskuiwe en die masjien aanskakel.

Charmain lag. “Sy is weg op ’n toneeltoer. Sy is nie regtig so kwaai nie. Klara is ’n dierbare mens, en vir my soos ’n suster. Van die eerste oomblik af het sy my onder haar vlerk geneem en beskerm. Dit was maar deur haar dat ek die twee klein rolletjies gekry het. Ek is nie ’n goeie toneelspeelster nie,” erken sy met kinderlike eerlikheid, en die man glimlag weer.

“Vertel my meer van jouself. Jou vriendin het daardie aand, toe ek julle uitgeneem het vir ete, gesê jy is ’n weeskind. Is jy werklik heeltemal alleen op die aarde?”

“Ja. En as ek verlangse familie het, het hulle in elk geval jare gelede al van my vergeet.” Sy sê dit sonder enige verbittering en op ’n manier wat die gehardste hart sal aangryp, en die man frons diep. Hy bring die motor tot stilstand by een van die mooi uitkykpunte oor die stad en draai skuins na haar. Sy gesig is net ’n vae, donker vlek. Subtiel word haar powere lewensverhaaltjie uit haar getrek.

“Ek wil nog dankie sê vir die geld wat u vir my by Klara gelaat het. Ek het ’n briefie geskryf om dankie te sê . . .” sluit sy af.

“Ek het dit gekry, dankie.”

“Ek sal, sodra ek kan, dit aan u terugstuur. Ek het werk gekry in ’n boekwinkel.”

“Dit was ’n geskenk, nie bedoel om terugbetaal te word nie.” Hy kan haar ongemak aanvoel en vervolg: “Dis ’n groter kuns om te ontvang as om te gee, Charmain.” Sy is stil, en ’n rukkie lank is net hul asemhalings hoorbaar. Dan, skielik, lê sy vingers onder haar ken, word haar gesiggie na hom opgelig. “Jy is ’n pragtige ou meisietjie. Jy verdien . . .”

Hy bly skielik stil en sy kyk met groot oë na die gesig so naby hare. Toe sy lippe meteens saggies op hare druk, roer sy nie, sit net bewegingloos onder sy aanraking, en in die lig van ’n flou maan kan hy die wit boog van haar nek duidelik sien – sien hoe die kuiltjie in haar nek onreëlmatig klop . . . nes ’n wilde voëltjie wat hom skielik in ’n koutjie bevind . . .


Koop dit nou! Graffiti | Amazon Kindle | Loot

 

Lees ’n uittreksel uit Elsa Winckler se verhaal Ridderspoor en rose

ultra-satyn-2-covIn Elsa Winckler se verhaal Ridderspoor en rose soen sakeman Alan Sutherland vir Corinne Hansen skaars ’n uur ná hy by haar blommewinkel instap. Tog beweer hy Corinne is nie sy tipe nie; dat hy ’n stemmige vrou soek wat kliënte sal beïndruk. Corinne besluit om hom te wys presies hoe ónstemmig sy kan wees, sodat hy nooit weer met ’n ander vrou tevrede sal wees nie. Maar waarom maak sy ingedagte ruikers met ridderspoor en rose, wat op verbintenis en liefde dui? Gaan haar plan boemerang en háár hart in die slag laat bly?

Lees ‘n kort uittreksel uit hierdie stomende verhaal:


“Sjoe,” giggel Ella en gryp die naaste vel papier om haar koel te waai. “Ek het lanklaas soveel manlike manne bymekaar gesien. Dis die ene . . .”

“Testosteroon?” skerts Corinne half uitasem, lig haar hare op met haar een hand en trek haar notaboek nader met die ander. Ook sy is die ene gloede. “Dié dat ek hulle uitgestuur het,” lag sy en begin kyk deur die telefoonnommers van haar verskaffers op haar foon. “Dis onmoontlik om te werk met daardie spul in die omtrek.”

“Die een wat agter jou aan in die gang af is . . .”

“Alan,” prewel Corinne, terwyl haar wysvinger oor die name op die lysie gly.

“So, jy het darem sy naam gehoor,” sê Ella. “Wat het in die kombuis gebeur? Jou wange was rooi en jy het ’n trui aangehad toe jy terugkom.” Haar oë rek. “Hy’t jou gesoen!” roep sy opgewonde uit.

“Ella!” raas Corinne ontsteld. Doug se piksoen was soos dié van ’n broer, maar net die gedagte aan Alan se lippe op hare, laat haar die trui weer styf om haar lyf draai. Goeiste aarde tog. Hulle was sentimeters van mekaar af, dit sou so maklik gewees het om op haar tone te staan en met haar lippe aan syne te raak.

Help! Ontsteld soek sy rond op die toonbank. “Niemand het niemand gesoen nie. Hierso,” sê sy en gee ’n boek met telefoonnommers van nog verskaffers aan Ella.

“Begin bel jy hierdie name, ek bel dié op my selfoon. Ons het ’n bestelling om aan te werk. Daar is g’n tyd om oor ’n soenery te staan en praat nie.”

Ella trek die boek nader. “Jou wange gloei al weer,” terg sy voordat sy aan die werk spring.

Corinne druk ’n hand teen haar warm gesig. Sy het dalk iets onder lede. Seker ’n vreemde virus. Hierdie waansinnige geklop van haar hart is ’n heel ongewone ervaring. Sy moet iets makeer, haar hele lyf kan tog nie so vreemd koorsig reageer en dit net omdat sy naby ’n aantreklike man gestaan het nie.

Sy gryp ’n stuk papier en begin haar ook koel waai. Net die gedagte aan die man se geur, sy nabyheid, maak haar van voor af warm. Hy het die mooiste blou oë en ag aarde, daai kuiltjie in sy wang is genoeg om elke vrou se bene lam te maak.

“Wel, as ek so na jou kyk, is daar net een afleiding. Jy het ten einde laaste ’n man raakgeloop wat jou liggies aanskakel!” giggel Ella.

Corinne laat val haar papierwaaier en kyk verdwaas na Ella. “Waarvan praat jy tog?”

“Kyk na jou, jou oë blink, jy kan nie op jou werk fokus nie – en dit het alles begin vandat die Sutherland-broers in die winkel was.”

Corinne waai Ella se aanmerking weg. “Ek weet nie van watter liggies jy praat nie. Ek was nogal uit die veld geslaan oor die vyf mans in die winkel, maar selfs jy was ’n paar minute sprakeloos. Hulle is . . . ’n fees vir die oog, maar ek dink ek het iets onder lede.”

Ella stik in ’n giggel.

“Ek voel effens koorsig, maar dit het niks met die mans te doen nie,” kap Corinne vieserig terug.

Nou lag Ella kliphard. “Niemand het van mans in die meervoud gepraat nie, my liewe Corinne. Uhm . . . ek dink die koorsigheid is te wyte aan een baie spesifieke man. Die een wat netnou agter jou aangeloop het kombuis toe.”

Corinne trek haar asem verstom in. “Maar dis tog nie moontlik nie, is dit? Hy is ’n beeld van ’n man, ja, hulle almal is – en dis nie asof ek nog nooit mooi mans gesien het nie! ’n Mens kan nie so vinnig . . . kan ’n mens? Dis seker net . . .”

“. . . omdat hy jou liggies aanskakel. Is dit nie wonderlik nie? Net vanoggend het jy nie gedink daar is ’n man wat dit sal regkry nie, en kyk nou vir jou!”

Corinne druk haar hand teen haar hart. Sy het nog altyd geglo in haar instink, in haar eerste reaksies op situasies en op mense. Maar hierdie keer is sy onwillig . . . nee, bang is die woord as sy nou baie eerlik is, om na instink te luister. Want wat daardie stemmetjie vir haar sê, doen geen ordentlike vrou vroeg in die oggend nie! Die gevoelens wat deur haar bruis, is oorweldigend, intens, allesoorheersend en . . . en sjoe, stomend.


Ridderspoor en rose deur Elsa Winckler is een van twee verhale in die nuwe omnibus, Ultrasatyn 2Koop dit nou! Loot | Takealot | Raru | Graffiti | Amazon Kindle

 

Lees ’n uittreksel uit Grenslose liefde deur Malene Breytenbach

Vyf jaar ná Carly O’Neill in diens van Dokters Sonder Grense vir Colin Mackenzie met sy betowerende Skotse aksent ontmoet het, kruis hul paaie weer. Colin het die titel van Hertog van Seaforth geërf, asook die Strahan-kasteel, wat hy in ’n psigiatriese kliniek omskep. Toe Carly as verpleegster daar kom werk, rumoer haar hart van voor af. Maar met sy nuwe titel is Colin verhewe bo ’n gewone vrou soos sy. Boonop blyk dit dat hy op trou staan …

Lees ‘n uittreksel uit ons Oktober boek van die maand, Grenslose liefde deur Malene Breytenbach:


Carly volg Duncan Urqhart by die gebou in. Hulle loop deur ’n reuseportaal. Sy kyk verstom om haar rond toe sy binnekom. Dié plek lyk nie na ’n kliniek nie, eerder na die Middeleeuse kastele wat sy op foto’s en in films gesien het. Die meubels is van donker hout, en ’n paar groot tapisserieë hang teen die mure. Oral pryk die heraldiese wapen van die Mackenzies en daar is selfs ’n wapenrusting in die portaal. Teen die mure is spiese en claymores, die slagswaarde wat die Skotte gebruik het om teen mekaar te veg.

Die vloer is yskoud.

Daar is verskeie skilderye van Skotse here wat in volledige Skotse drag met kilt en sporran pryk. Die een naaste aan haar is van Colin Mackenzie. Dit lyk soos die foto wat sy op die internet gesien het. Sy blou oë kyk haar direk aan en dit voel asof hy in haar hart en siel kan inkyk. Binnekort sien sy hom weer in lewende lywe.

Hulle loop deur die portaal en groot saal, dan deur ’n deur in ’n heel ander opset in. Hier is ’n ontvangstoonbank waar daar ’n jongerige vrou met donker hare by ’n rekenaar sit. Op die vloere is liggroen matte en skilderye van landskappe hang teen die muur. Agter teen die muur staan ’n ry staalkabinette.

“Jessie, ek het ons nuwe verpleegster, Carly O’Neill, gebring,” sê Duncan.

Hy stel hulle voor. “Jessie Hart is die ontvangsdame en algemene sekretaresse.”

Die vrou kyk met vriendelike grys oë na Carly. “Welcome. I hope you will be happy here with us.”

Carly hou sommer dadelik van haar. “Dankie, dit is vir my baie opwindend om hier te wees,” antwoord sy in Engels.

Jessie Hart staan op en loop om die toonbank. “Dis ook ’n hele gesukkel vir ’n buitelander om by ons te kom werk, nè? Soveel reëlings en rompslomp. Maar ons is bly jy is hier. Ons ander Suid-Afrikaanse verpleegster is Dudu Khumalo. Sy kom van Durban af en dit was net so ’n gedoente vir haar om hier te kan kom werk. Maar dokter Mackenzie sê die verpleegsters met wie hy in Suid-Afrika saamgewerk het, is die beste en hardwerkendste wat hy ken.”

Sy draai na Duncan. “Dankie, meneer Urqhart, ek sal vir verpleegster O’Neill na dokter Mackenzie neem.”

Hy lig sy hand na sy voorkop in ’n groet. “Goed. Ek sien jou seker die een of ander tyd weer, juffrou O’Neill? Lekker werk.”

“Dankie, meneer Urqhart.”

Sy en Jessie Hart loop in ’n gang af.

“Ons spreekkamers is hier,” sê Jessie. “Julle drie verpleegsters deel een groot kantoor en dokters Fraser en Mackenzie het natuurlik elkeen ’n kantoor. Ander personeellede is elders.”

Hulle kom by ’n bruin houtdeur waarop die naam Dr Colin Mackenzie in geelkoperletters aangebring is.

Carly se hart rumoer in haar keel.

Jessie klop, ’n stem antwoord, en hulle gaan binne.

Colin Mackenzie sit in sy wit jas agter ’n lesse naar met ’n skootrekenaar oop voor hom. Hy kyk op toe hulle inkom, staan op en glimlag.

Carly se hart tol behoorlik. Sy kon daardie tanzanietoë in al die jare nadat sy hom ontmoet het, nie vergeet nie. Hier kyk hulle weer oor ’n kort afstand na haar. Hy kom agter die lessenaar uit en steek sy hand uit. Dit omvou hare warm en stuur skokke deur haar arm en lyf. Sy kyk op na hom. Die mooi mond met wit, reëlmatige tande glimlag vir haar. Hy lyk nie so bruingebrand soos toe sy hom laas in Afrika gesien het nie, maar sy skouers is steeds ongelooflik breed en sy rooibruin hare, soos die pels van ’n vos, blink.

Sy probeer wegsteek dat hy haar van voor af oorweldig.

“Welkom,” sê hy. “Uiteindelik is jy hier.”

Sy glimlag. “Ja, uiteindelik, en baie bly om hier te wees.”

Hy beduie dat hulle op twee gestoffeerde donkergroen gemakstoele by ’n lae houttafel moet gaan sit, en hy gaan sit oorkant hulle. Die vertrek is in rustige lig- en donkergroen en wit gemeubileer. ’n Groot skildery van ’n Hooglandse toneel met langhaarbeeste oorheers een muur. Daar is ook kaste teen die mure.

“Jy moet jou tuismaak,” sê hy. “Jessie sal jou gaan wys waar jy bly en jou aan die ander personeellede voorstel. Jy kan jou eers vandag orienteer en die plek leer ken, en dan kan jy môre inval. As jy enigiets nodig het, sal Jessie jou help. Kom môreoggend agtuur eerste na my toe. Ek sal jou voorstel aan die pasiënte met wie jy ons gaan help. Jy sal sien ons doen dinge ontspanne en informeel hier. Ons pasiënte moenie voel dat hulle in ’n gestig is nie. Hulle mag in die tuine rondloop en ons verblyf is meer soos in ’n hotel. Ons neem ook nie baie mense in nie. Tans sal jy hoofsaaklik met vier pasiënte werk.”

Carly luister met haar hande in haar skoot saamgevou. Dwing haarself om hom direk in die oë te kyk al voel sy ongemaklik. Geen man buiten dié een het haar nog ooit laat voel asof sy op dun ys loop wat onder haar kan padgee nie. Sy het verwag om weer uitgeboul te word, maar die effek wat hy op haar het, is selfs erger as wat sy voorsien het.

“Dit klink goed.” Sy hoop sy kom bedaard voor.

“Die feit dat jy sielkunde gestudeer het, is natuurlik ’n aanwins,” sê hy. “Ons ander aansoekers het nie dié ekstra kwalifikasie gehad nie. Daarom het ons dit reggekry om vir jou die pos aan te bied.”

Hy vra uit oor haar reis en persoonlike omstandighede. “Dit lyk nie asof daar iets of iemand is wat jou sommer na Suid-Afrika sal terugroep nie. Jy beplan nie om skielik te trou of so iets nie, nè?” Sy oë terg haar.

“Nee, niks van die aard nie. Ek sal hier werk so lank soos ek kan.”


grenslose-liefde-covGrenslose liefde deur Malene Breytenbach is NB-Liefdesverhale se boek van die maand in Oktober!

Koop dit nou! Loot | Raru | Reader’s Warehouse | Graffiti

Lees ’n uittreksel uit Onbeteuelde liefde deur Susan Pienaar

Internasionale model Isabella Santarelli keer terug na haar geboorteland, Suid-Afrika, met die droom om ’n opleidingskamp vir saalperdruiters op hul familieplaas te begin. Haar pa betrek die hulp van die buurplaas se eienaar, Nicholas Burger, ’n veearts en renperdteler.

Isabella en Nicholas stamp koppe, maar kan ook skaars hul oë én hande van mekaar afhou. Is Nicholas se gevoelens opreg of sleep hy net vlerk om Isabella se familieplaas te bekom? Lees Susan Pienaar se jongste liefdesverhaal Onbeteuelde liefde om uit te vind!

Hier is ‘n kort uittreksel as lusmaker:


Isabella tel die pot met spaghetti van die warm stoofplaat af op en sit dit op ’n koue plaat neer. Hoe moet sy kosmaak terwyl Nicholas heeltyd in haar pad is en boonop na haar staar wanneer hy reken sy sien dit nie? Waar bly haar pa so laat uit vanaand? Nicholas is mos sý gas, nie hare nie.

Haar pa moet haar darem vooraf sê wanneer hy iemand vir ete genooi het. Plaas sy nie vroeër vir Liesbeth gesê het sy kan maar vroeg loop nie. Nou is sy alleen saam met Nicholas en die oorheersende en namelose iets wat hy uitstraal. Gelukkig was sy klaar met die mengelslaai toe hy opgedaag het, want haar hande bewe nou só . . . Hoekom affekteer die man haar soos niemand nog voorheen gedoen het nie?

Sy gooi ’n bietjie sout by die tamatiepastasous, stel die plaat laer en roer haar skouers ongeduldig. Sy moet die vergiettes van die boonste rak afhaal om die spaghetti te dreineer – dit gaan pap word as dit langer in water staan.

“Die kombuiskaste is outyds, gemaak vir mense van ses voet lank,” het haar ma destyds gekla.

Soms klim sy op ’n stoel, maar nie vanaand nie. Sy gaan dit nie nader aan Nicholas en die stoele waag nie, want dan spring hy weer op om te help. Die bak staan teen die rak se rand en as sy op haar tone staan . . . Sy strek en vries onmiddellik met haar vingerpunte teen die staalbak. Die ligte aanraking van Nicholas se harde lyf teen haar rug verskerp al haar sintuie. Hy ruik na skeer- of badseep en sy asem laat die fyn haartjies in haar nek roer. Dit voel sowaar asof die spanning uit haar dreineer. Sy sug liggies. Mm, hoe maklik sal dit nie wees om terug te leun en . . .

“Wag, laat ek help. Ek is baie langer as jy.” Sy asem ruik na ment en kielie haar oor en slaap. Sy staan doodstil. Nicholas se lyf druk haar liggies teen die kas vas en sy linkerhand rus op die naaste rak. Regs versper die yskas haar weg, agter hulle staan ’n tafel waarop groente gekerf word, en links kan sy nie verbykom nie tensy Nicholas padgee.

Hy lig die bak oor haar kop en sy hoor hoe hy dit op die kerftafel agter hulle neersit. Die aanraking teen haar rug is ligter en sonder om aan spasie te dink, draai sy om – vas teen sy gespierde lyf.

Hy staan onbeweeglik.

Sy sluk swaar. Hoe lanklaas het sy so teenaan ’n man gestaan? Die gedagtes flits deur haar. Nee tog, sy moet haar sawwigheid laat staan. Sy probeer agteruit tree, maar sy hande vou om haar skouers.

“Ek dog modelle moet ’n sekere lengte wees,” sy oë gly oor haar gesig, “maar kyk nou vir jou. Ek is ’n hele kop langer as jy.”

Sy lek oor haar droë lippe. “Dis nie meer nodig . . . ek bedoel . . . hulle het destyds lang meisies verkies . . . dit u-hm . . . het verander . . .” Dis moeilik om te dink met Nicholas se aantreklike gesig en manslyf so heerlik naby haar.

Hy bring ’n hand na haar gesig sodat sy palm rus op haar wang terwyl sy vingers in die hare teen haar slaap verstrengel raak. Sy kantel haar gesig in sy hand in, toe sy ander hand agter om haar nek vou en hy haar nader aan hom trek. Lieflike skokgolfies rol deur haar lyf, maar op hierdie oomblik dink sy nie, ontspan sy net. Sy oë kyk so intens ondersoekend in hare, asof hy tot in haar siel wil speur. Haar hart raak week. Hy is darem só sexy . . .

Sy heuningbruin oë verdonker van begeerte. Dan is sy in sy arms en sy mond dringend op hare. Haar arms gly om sy lyf. Mmm, sy is soos droë grond wat die eerste lentereën indrink, ’n blom wat oopgaan in die son se strale . . . Sy verlustig haar in sy soene . . . tong teen tong, en hy trek haar stywer teen sy harde lyf vas . . . Dit moet nooit ophou nie . . .

Die voordeur klap toe. Nicholas los haar. “Jy gaan na ’n man se kop toe, mooie Isabella,” sê hy sag en streel met ’n vinger oor haar lippe.

“Jammer ek is laat.” Haar pa kyk beurtelings van haar na Nicholas. “En as julle twee nou so vasgekeer daar staan?”

Sy hoop maar sy lyk gewoon. “Nicholas het die vergiettes vir my bo uit die kas gehaal. Ek kon dit nie bykom nie.”


Onbeteuelde liefde deur Susan Pienaar is NB-Liefdesverhale se boek van die maand in September!

Koop dit nou! Takealot | Loot | Reader’s Warehouse | Leserskring | Amazon Kindle

Lees ’n uittreksel uit Letitia en die lektor deur Anita du Preez

Letitia, die hoofkarakter in Anita du Preez se nuwe liefdesverhaal, het ’n lysie dinge wat sy wil doen om haar lewe reg te ruk ná haar egskeiding; ‘n lysie wat dien as katalisator vir opwindende nuwe dinge.

Lees ‘n kort uittreksel uit Letitia en die lektor om te sien wat staan op dié lysie:

list1


Dalk is Roelof reg. Dalk moet sy ’n lys maak. Ja. Sy moet haar lewe orden en ’n mens kan dit net doen as jy alles neerskryf en die kwessies konfronteer. Die blote gedagte laat haar kop ongenadig klop. Gelukkig lê die pakkie Panado’s nog net waar sy laas daarvan gedrink het en vieserig sluk sy twee saam met die laaste van haar koffie af. Toe plak sy die beker op die toonbank neer en trek die stapeltjie vasgekramde papiertjies wat as haar notaboekie dien nader. Sy vat die stomp potloodjie vas wat met ’n toutjie daaraan geheg is en skryf:

My lys:

1) Word fiks? Nee. Sy oefen genoeg. Sy krap dit dood.

1) Verloor gewig? Nee. Diëte maak haar net honger. Sy krap dit ook dood. Nou wat dan? Sy frons diep, knaag aan die potloodjie.

Begin weer teken. Ja. Ja. Ja. As almal net wil ophou karring, sal sy dit dalk regkry. Jeesh! Inspirasie laat haar nie opkommandeer soos mens ’n lig aanskakel nie. Skielik sien sy haar beeld glurend en fronsend in die sykant van die broodrooster weerkaats.

2) Make-over (self) skryf sy vinnig. Ja, oukei. Sy kyk om haar rond vir nog inspirasie.

3) Make-over (huis).

En net daar droog haar gedagtes op. Alles wat sy gelys het, klink onmiddellik so … wel, eintlik so beuselagtig. Verspot. Kleinighede. Sy kan om die dood nie dink aan een enkele ander aktiwiteit wat op so ’n lewensveranderende lys pas nie.

Wag, dink Letitia, sy het tog immers al dikwels na uitsendings gekyk waar skoonheidskoninginne en politici sê wat hulle sal doen indien hulle wen? Goed wat saak maak. Soos … red die aarde? Sy kou weer aan die punt van die potloodjie.

4) Herwinning. Hmmmm. Ja. Die groen ding.

Bewaar die aarde, skryf sy. Sy kan dit doen. Sy gebruik immers reeds die agterkante van ou vraestelle vir hierdie notaboekie. En sy gebruik haar tablet om met haar studente te kommunikeer. Goed. Sy vorder. Hierdie lysieding kan dalk net werk. Sy tel spoed op. Dalk iets omtrent haar lewensuitkyk?

5) Wees vriendelik en verdraagsaam. Sy sug. Dit gaan nie maklik wees nie, veral nie nou nie . . . maar nou ja, ’n lys is ’n lys is ’n lys. En sy is nou eenmaal aan die gang, is sy nie? En dis nie asof mense toustaan om met haar maatjies te wees nie. In elk geval nie dié wat met haar en Gunther vriende was nie. Nee, skielik is sy ’n sosiale melaatse. Vyfde wiel aan elke wa. Maar dit kan seker nie skade doen om net effens meer genaakbaar voor te kom nie?

6) Reik uit na ander mense, skryf sy volgende. Soort van dieselfde ding as nommer 5, maar nou ja. Die lys moet vol kom.

7) Gaan kuier meer vir Ma. Definitief. Sy kou weer aan die potlood.

8) Kry nuwe man in my lewe? Nee. O, nee. Sy krap dit so heftig dood dat die potloodjie se punt tot op die hout afbreek en die papiertjie skeur.

Genoeg vir eers. Sy gaan staan weer voor haar hangkas. Nou toe, nommer twee op die lys is mos make-over. So, staal jouself, daar sal dan seker maar gemake-over moet word?

Die een aaklige, lang romp met bruinerige Persiese patrone na die ander word van die hangers afgeruk, summier verwerp en op die bed neergesmyt. “Weg met julle!” raas sy binnemonds. As ’n mens soos ’n mat lyk, moet jy nie kla as daar oor jou geloop word nie. Die leersandale met die verweerde kurksole beland volgende op ’n hopie op die vloer. Die gier dat ’n kunstenaar soos ’n frieken bag-lady moet lyk, is lankal verby.

Letitia draai ergerlik om. Skielik is dit asof sy iets vir die eerste maal in maande geniet. Sy moes lankal beheer geneem het. Roelof was reg. Hierdie lysieding werk.


Letitia en die lektorLetitia en die lektor deur Anita du Preez is NB-Liefdesverhale se boek van die maand in Augustus!

 

Koop dit nou! TakealotVan Schaik | Raru | Amazon Kindle | Graffiti

Lees uittreksels uit die eerste twee boeke in Elsa Winckler se Satyn-trilogie

Liefde deur ‘n lens is die derde liefdesverhaal in Elsa Winckler se Satyn-trilogie.  Die eerste verhaal, Om Amelie se tafel, het in 2014 verskyn en die tweede een, Liefde in laslap, in 2015.

Hier is ‘n kort uittreksel uit die twee laasgenoemde liefdesverhale om jou geheue bietjie te verfris, of om jou nuuskierigheid te prikkel mits jy hul nooit gelees het nie:

Om Amelie se tafel cov

 

Uit: Om Amelie se tafel

Toe Amelie buite in die portaal voor die hysers kom, doen sy wat sy wou doen vandat sy die e-pos oor die simpel spanbou-ding gekry het. Sy lig haar voet en stamp dit op die grond. Hard.

“Aargh!” protesteer sy gevoelvol. Die portaal is leeg en vir ’n oomblik gee sy haar oor aan die frustrasie wat in haar opborrel.

Vies gooi sy haar poniestert oor haar skouer en draai vinnig om in die rigting van haar kantoor, wat ’n entjie laer af in die gang is. Maar haar pad word versper deur ’n baie breë, manlike borskas. Haar momentum laat haar nie

betyds toe om te stop nie, maar twee sterk hande vou om haar arms en keer dat sy teen die man vasloop.

Verbouereerd kyk sy op. ’n Paar bruin oë glimlag af na haar. Sy raak stil. Elektrisiteit kraak in die lug. Hy los haar arms. Haar asem raak weg, die lug om hulle is roerloos.

Voor haar staan die aantreklikste man wat sy nog ooit gesien het. Die hysbak gaan geruisloos agter hom toe. Hy moes uitgestap het terwyl sy haar frustrasie op die vloer uitgehaal het. Hy is ’n mengsel van Brad Pitt, die Camel Man en . . .

Sy sug amper. Nee, niemand anders lyk regtig soos hy nie.

Haar oë gly oor hom. Sy bruin hare is lank, agteroor gekam en krul laag af in sy nek. Sy stoppelbaard is ’n dag oud, as sy moet raai. Maar dis sy gespierde boarms en bolyf waarnatoe haar oë bly dwaal. Onder die spierwit hemp wat hy aanhet, beweeg sy boarmspiere. Gefassineerd hou sy hulle dop.

“Dink jy jy is nou ontslae van al jou frustrasie?” vra die man geamuseerd en Amelie voel hoe ’n gloed oor haar gesig versprei.

“Dit lyk asof jy baie ingehoue aggressie in jou het,” sê hy kamma ernstig, maar die duiweltjies dans in sy oë.

Amelie vervies haar vir die groot vent. Geïrriteerd tree sy terug en lig haar ken. “Jy is in my pad,” grom sy en stap verby hom, haar kop in die lug.

Agter haar lag hy. “Wil jy nie jou voet net weer so stamp soos netnou nie? Ek het nog net my suster se tweejarige dit sien doen. Dit lyk heeltemal anders wanneer ’n sexy vrou dit doen.”

Amelie steek in haar spore vas. Sonder om om te draai, tel sy tot by tien soos haar jare in die weeshuis haar geleer het wanneer sy kwaad wil raak. Eers toe sy by tien kom, draai sy om en glimlag. Wel, oukei, sy probeer glimlag.

“Tot siens, meneer . . .”

Hy glimlag en steek sy hand uit. “Chris. Chris Meyer.”

Liefde in laslap_voorblad

Uit: Liefde in laslap

 

’n Motor hou voor haar huis stil, en sy gryp haar sak en voordeursleutels. Sy storm voordeur toe, maak die deur oop en onthou van die poeding wat sy gemaak het. Sy draf

weer terug kombuis toe. Amelie wil nooit hê sy moet iets saambring nie, maar sy moes iets doen om haar nag om te kry. Teen drie-uur vanoggend het poeding maak na ’n goeie

idee geklink.

“Ek kom, ek kom,” roep sy vir Amelie toe sy voetstappe in die gang hoor. “Ek kry net gou die poeding.”

Sy sit die bak in ’n mandjie en draai deur toe. “Jy sal nooit raai wie gister by my opgedaag . . .”

Haar woorde droog op. Dis nie Amelie nie, maar Neethling wat nadergestap kom. En sjoe. Haar hart gaan vrolik aan die huppel. Hy het jeans aan met ’n ligte wit langmoutrui

en lyk ongelooflik, onbehoorlik, onregverdig sexy.

“Waar is Amelie?” vra sy, sommer ergerlik. Sy is nie voorbereid om die vent nou al te sien nie. Sy sou nog die hele ent na Amelie en Chris se huis tyd hê om haar in te stel om hom weer te sien. En nou is hy hier!

“Goeiemôre, Natalie. Chris het gevra of ek jou sal oplaai, hy het Amelie laat laat slaap vanoggend, en nou is sy in ’n flat spin,” sê hy ewe rustig.

Natalie voel dadelik sleg. Sy weet Amelie word tydens haar swangerskap maar gou moeg en gister se rondlopery het sekerlik sy tol geëis. Sy moes seker gemaak het hulle kom vroeër terug.

“Dit was nie nodig om my te kom oplaai nie, ek het vir haar gesê dis julle familiedag, ek hoef nie ook daar te wees nie. Chris kon maar net laat weet het.”

“En sy vrou ongelukkig maak? Dan ken jy nog nie my broer nie. Jy is Amelie se familie, daarom is jy ons almal se . . . wel, Chris se familie ook,” sê hy en vat die mandjie by haar.

Natalie trek aan haar hare wat oor haar skouer hang. Sy sien nie kans om saam met die man in ’n motor te klim nie. Regtig nie.

“Kom,” sê hy en begin voordeur toe stap. “Hulle wag vir ons.”

Neethling stap vinnig by die voordeur uit. Familie, hel. Wat met hom gebeur naby dié vroumens het niks met familie te doen nie. Allesbehalwe.

Vandag het sy ’n gestreepte, lang romp aan. Hoewel dit haar lang bene wegsteek, weet hy presies hoe elke sentimeter van hulle lyk. Die groen toppie wat sy daarby aanhet, vou sag om haar bolyf en laat haar oë soos smaragde blink. Anders as gewoonlik, is haar hare vandag los, en sy vingers jeuk om daaraan te raak. Bliksem. Dit gaan ’n baie lang dag wees.

Hy maak vir haar die motordeur oop, wag dat sy inklim en dis eers toe hy omstap na die bestuurderskant dat hy onthou hoe klein die ruimte in die sportmotor van hom is.

Teen die tyd dat hy in die hoofpad glip, is hy deurtrek met haar geur. Hy draai sy venster halfpad oop, maar dit help nie. Hy trap die petrolpedaal in. Sy gryp die sitplek vas, en met ’n onderlangse swets lig hy weer sy voet.

Dis doodstil die hele ent pad tot voor Chris en Amelie se huis, maar dis asof hulle op ’n ander vlak kommunikeer. Hy weet sy is net so ongemaklik soos hy; hy weet sy is onrustig oor wat sy voel; hy is bewus van elke asemteug dat sy neem, elke beweging wat sy maak.

Teen die tyd dat hulle stilhou, is sy enigste drang om haar nader te trek, sy vingers deur haar hare te trek en te proe of sy so soet proe soos wat hy dink, of haar lippe so sag is soos wat hulle lyk . . .

Natalie spring vinnig uit en stap aan voordeur toe nog voordat hy sy hande van die stuurwiel afhaal. Hy staar haar agterna en skud sy kop terwyl hy uitklim.

Een ding is in elk geval nou kristalhelder – ’n jaar in ’n ander land het nie gehelp om hom van Natalie te laat vergeet nie. Dis tyd om ’n ander alternatief te oorweeg om haar uit sy gestel te kry.

Vind meer uit oor Liefde deur ‘n lens 

9780624076018---Liefde-deur-`n-lens-covElsa Winckler

Koop dit nou! TakealotBargain Books | CNA | Graffiti | Raru| Amazon Kindle

Elsa Winckler lees voor uit Liefde deur ‘n lens

“Sy lippe vang hare vas. Wow. Dit is nou nie asof sy mans elke dag soen nie, maar dit is beslis nie ’n soen wat sê ons is mos familie en dis Kersfees nie. Ek wil jóú graag soen, is wat hierdie soen sê.”

Wil jy graag weet wie laat hierdie dame so snak na haar asem? Luister dan na ‘n uittreksel uit Liefde deur ‘n lens, voorgelees deur die skrywer self:

Laai dit nie? Kyk op YouTube

Vind meer uit oor hierdie liefdesverhaal

9780624076018---Liefde-deur-`n-lens-covElsa Winckler

Koop dit nou! TakealotBargain Books | CNA | Graffiti | Raru| Amazon Kindle