Lees ’n uittreksel uit Van sorg na liefde deur Malene Breytenbach

Van sorg na liefde deur Malene Breytenbach is NB-Liefdesverhale se Mei boek van die maand:

Ná ’n liefdesteleurstelling gaan werk Mia de Villiers as ’n versorger op die eiland van Jersey. Sy kom goed met haar werkgewer, die weduwee Sarah de Lisle, oor die weg, maar met dié se seun, Jean, sit sy vas. Jean insinueer dat sy gekom het om ’n ryk man te vang en Mia vererg haar. Dink hy sy is ’n trofeemeisie wat deur rykdom beïndruk word? Hy is uiters aantreklik, maar sy swig nie voor ’n rokjagter nie. Al wys hy gaandeweg sy sagter kant ….

Lees ‘n uittreksel uit hierdie lekkerlees-liefdesverhaal:


Die Bentley hou voor die huis se deur stil. Mia is verlig dat John nou die rolstoel uit die kattebak kan haal en Sarah help om daarin te klim. Sy wou dit nooit laat blyk nie, maar dit was altyd besonder swaar om op te tel. Die werksmense wat die voorbereiding vir die fees moes doen, is reeds weg. Mia wonder of Jean al gekom het. Teen dié tyd behoort hy darem hier te wees.

Toe hulle by die huis ingaan, kyk sy verwonderd rond. Oral is vase met blomme en die meubels is geskuif. Daar is versierings en dit lyk feestelik. Hulle gaan kyk na die groot eetkamer en sien dat dit reggemaak is vir baie mense. Op die tafels is eetgerei en servette uitgepak. Net die kos moet nog kom. Skitterblink glase is al uitgepak, maar die drank is nog nie daar nie. Assistente en kelners wat Etienne gehuur het, loop heen en weer van die kombuis na die eetkamer. Oral is stoele in groepe uitgesit.

Die groot salon lyk asof dit reggemaak is vir mense om te dans. Die orkeslede is reeds daar op ’n verhogie. Almal dra swart pakke met wit strikdasse. Twee is besig om viole in te stem, een toets die klavier en ’n ander een sit by die tromme. Hier word nie sommer opnames of ’n deejay gebruik nie, dink Mia. Nee, die orkeslede kom in lewende lywe, met instrumente en bladmusiek. Dit is ouwêrelds elegant.

Barnes loop daar rond met ’n kritiese gesig asof hy alles moet goedkeur. Hy kom nader gehaas. “Lyk dit goed, mevrou?”

“Absoluut,” sê Sarah. “Dit lyk asof alles onder beheer is. Kom ons gaan boontoe, Mia. Ek moet eers ’n rukkie rus voordat die partytjie begin.”

Sy ry met die hyser op en Mia volg. Eers help sy Sarah om gemaklik met ’n nekkussing op haar bed te gaan lê, sodat sy nie haar hare druk nie, toe gaan sy na haar kamer. Sy is net binne, toe steek sy vas. Nie oor Sylvester lekker uitgestrek op haar bed lê nie, maar oor die langwerpige boks met ’n silwer lint en strik om, wat langs hom lê.

“Hallo, weet jy wie het dit gebring?” vra sy vir die kat, wat met lui skrefiesoë na haar kyk. “Ek wens jy kon praat.”

Daar is ’n kaartjie met die woorde: Vir vanaand. Met geen naam by nie.

Hierdie geskenk kom sekerlik van Sarah af. Wat kan dit wees? Sy maak die silwer strik los, verwyder die lint en maak die boks oop. Mia snak na asem. In sneespapier is iets opgevou. Dit is smaraggroen en lyk asof dit van sy gemaak is. Met bewende hande tel sy dit uit. Dit is ’n rok in haar grootte met ’n eenvoudige, dog uiters elegante snit.

Sy hou dit voor haar en kyk in die spieël. Dit is so mooi dat sy lank daarna staar. Watter goeie smaak het Sarah tog! Sy het ook die grootte reg geraai. Fairy godmother, dink sy, en glimlag. Hoe dierbaar van haar werkgewer om aan so iets te dink. Sy het juis gewonder of sy enigsins na die partytjie gaan.

Nou weet sy, sy is tog genooi. Normaalweg sou sy nie sommer so ’n geskenk kon aanvaar nie, maar sy het reeds agtergekom dat dit vir Sarah lekker is om vir haar goed te gee.

Die mense word vanaf sewe-uur verwag. Sarah het ’n uur lank gaan rus, maar daarna moet Mia haar help aantrek en voorberei. Sy gaan bad eers, versigtig om nie haar hare nat te maak nie. Daarna grimeer sy liggies, kam deur haar hare en trek die rok aan. Sy staan voor die spieël en staar na haar beeld. Die rok pas haar soos die spreekwoordelike handskoen. Vlei eintlik haar figuur. Dit is ongetwyfeld ’n baie duur boetiek- rok en die etiket is Frans. Dit laat haar oë groen skitter en steek treffend af teen haar hare. Sy het nie gedink sy kan ooit so mooi lyk nie.

“Hallo, wie is jy?” lag sy. “Aspoestertjie in haar balrok wat die goeie fee vir haar getoor het?”

Gelukkig het sy ’n paar swart hoëpolvy-blink- leersandale saamgebring vir die wis en onwis. Dit pas by haar een swart aandrok wat sy ingepak het. Nou pas dit darem by dié rok wat net bokant haar knieë eindig. Haar kuite vertoon mooi as sy sulke stiletto’s dra.

Sy gaan na Sarah se suite. Toe sy inloop, klap Sarah haar hande. “Jy lyk beeldskoon, Mia.”

Mia bloos, maar sy voel gevlei. “Baie dankie, mevrou. Ek waardeer dit regtig.”

Sy help Sarah om ’n splinternuwe silwergrys rok en silwer skoene aan te trek. Sarah grimeer haar eie gesig. Daarna spuit sy parfuum aan haar self.

“Kom hier,” sê sy, en spuit van die parfuum aan Mia ook.

Sy maak haar laai oop en haal ’n juweelkissie uit. Mia moet haar help om diamante aan haar ore vas te maak, ’n eenvoudige diamanthalssnoer om haar nek vas te maak en ringe en ’n diamantarmband aan te sit.

“My man het vir my al dié juwele gegee,” sê sy. “Jean het dit uit die kluis gaan haal. Daar is iets wat ek wil hê jy moet dra. Jy kan dit vanaand leen om by jou mooi rok te pas. Dit het aan Bienne behoort.”

Sy haal ’n paar fyn diamantoorkrabbers uit en ’n goue kettinkie waaraan een diamant vas is.

“Toe, sit dit aan. Ek wil sien hoe dit lyk.”

Mia is skoon oorstelp. Wat ’n pragtige gebaar om haar lieflingdogter se juwele vir haar te gee om te dra. Sy kry eintlik trane in haar oë wat sy vinnig moet wegknipper. Sy maak die diamante aan haar ore vas en die hanger om haar nek.

“Nou lyk dit perfek afgerond,” glimlag Sarah. Mia sien dat sy ook trane in haar oë het. Sy druk haar skouer en sê hees: “Dankie dat mevrou so goed is vir my.”

“My liewe kind, jy is goed vir my. Nou toe, ons mag nie ons grimering afhuil nie. Neem my af, sodat ek kan help om die mense te ontvang.”

Jean verjaar en sy sal hom moet gelukwens, dink Mia. As sy aan hom dink, raak haar arme hart en lyf skoon oorstuur. Sy mag nie een oomblik vergeet dat hy ’n arrogante ryk man is nie, met ’n beeldskone trofeemeisie aan wie hy waarskynlik binnekort verloof sal raak.


Koop dit nou!  Raru | Graffiti Takealot (eboek) | Amazon (eboek) | MySubs

Lees ’n uittreksel uit ’n Muse vir Tess deur Lucille du Toit

n Muse vir Tess deur Lucille du Toit is NB-Liefdesverhale se Maart boek van die maand:

’n Tandartsstoel is die laaste plek waar Tessa Meyer verwag het om haar muse teë te kom toe sy weer begin skilder het, maar een kyk in dokter Jan-Daniel Vermeulen se oë en skielik het sy inspirasie. Sy kan egter nie romanties by die mooi man betrokke raak nie. Haar skeisaak moet afgehandel word en haar dogters sukkel reeds om dit te aanvaar …

Lees ‘n uittreksel uit hierdie heerlike liefdesverhaal:


Op die stoep wys Jan-Daniel sy moet langs hom kom sit.

“Ek hoop nie jy gee om nie, maar Mia is besig om van Prinses ’n regte prinses te maak. Sy bad haar . . . in jou wasbak.” Tess huiwer voor sy sit. Sy is nie seker of dit ’n goeie idee is om so naby aan hom te wees nie. Dit voel asof haar lyf nie wil doen wat haar kop voorskryf nie. Toe Tess uiteindelik haar sit so ’n entjie van hom af kry, hou hy vir haar ’n glas sjerrie.

“Natuurlik nie. Ek is eintlik dankbaar. Ek het nie kans gesien om dit te doen nie.” Hy glimlag. “Jy weet, ek wou die hond eintlik net gehad het om vir … e … Lien te irriteer. En toe is sy sowaar bly daaroor. Haar nuwe liefde het blykbaar katte wat honde nie kan verdra nie.”

“Dit klink amper soos my eks. Ek dink net dit is eerder hy wat honde nie kan verdra nie.” Tess lag.

Jan-Daniel stik effens in sy sjerrie. “Jy sal maak dat ek môre my eks se hond vir haar gaan teruggee. Dalk voel haar ou ook so en bewys ek hom eintlik ’n guns deur die hond hier te hou.” Jan-Daniel teug aan sy sjerrie.

“Voel dit nie vir jou of alles net perfek vir jou eks en die man uitwerk en niks vir jouself nie?” Tess byt op haar lip.

“Ek tob nie meer daaroor nie. As ek nie goed genoeg was vir haar nie, is ek dalk goed genoeg vir iemand . . . anders.”

Voordat Tess besef wat gebeur, het Jan-Daniel haar been oor syne getrek. Sy sit verskrik orent asof iemand ’n pistool teen haar slaap druk. Wat maak die man nou?

“Ekskuus,” sê hy, maar hou haar been op syne. Tess kan elke druppel bloed in haar are hoor bruis. “Mag van die gewoonte. Ek het dit altyd vir my vrou gedoen na ’n lang dag.” Hy hou sy hande in die lug asof hy oorgee.

Tess kry haar been nie geroer nie. Dit lê net daar op die man se harde, gespierde bobeen. Sy is verlig sy het nie ’n rok aan nie.

“Gee jy om?” vra hy, maar hy glip al klaar haar skoen af voordat sy kan keer. Jan-Daniel se sterk hande neem oor en Tess vergeet van haar skaamte. Die manier hoe sy hande sorgvuldig om haar moeë voete vou, voel fantasties.

“Hmm, ek weet regtig nie wat jou eks nou sonder jou doen nie.” Die woorde vlieg by Tess se mond uit voordat sy dit kan keer.

’n Lag laat Jan-Daniel se lyf ruk. “Ek ook nie,” spot hy, maar dan skuif daar ’n gordyn van erns oor sy gelaat. “Het Tian jou nooit bederf nie?”

Tess trek haar skouers op. Sy kan dit nie teenoor ’n vreemdeling erken nie, maar soms het dit vir haar gevoel asof hy haar aspris seermaak. Asof haar trane hom die grootste vreugde gegee het. Niks wat sy gedoen het, kon sy liefde verdien nie. En toe bevestig hy dit deur haar vir ’n ander vrou te los.

Skielik is dit asof iemand ’n skakelaar in haar brein laat klik, en Tess lag: “Jy weet, noudat ek daaraan dink . . . ek moes eintlik ’n groot rooi strik om Tian gedraai het vir Sulien, die vrou vir wie hy my gelos het, en vir haar ’n pragtige dankiesê-brief geskryf het. Ek besef nou net ek moet dankbaar wees dat hy uit my lewe is. Dié keer is ek nie die slagoffer nie, sy is.”


Koop dit nou! Takealot | Loot | Graffiti | Amazon Kindle

Lees ’n uittreksel uit Die nimmer-nimmer-berge soos in Tryna du Toit Omnibus 11

In Tryna du Toit se liefdesverhaal Die nimmer-nimmer-berge, wat oorspronklik in 1953 verskyn het, moet Sarie de Klerk ná haar ma se dood na hul plaas terugkeer om vir haar pa en broer te kom huishou. Sy voel vasgevang in haar eensame bestaan, totdat die buurplaas ’n nuwe eienaar kry …

Lees ‘n uittreksel uit hierdie nostalgiese verhaal:


Op die dorp ry Sarie eers by die motorhawe aan om te hoor of die onderdele wat haar pa vir die bakkie bestel het, gekom het. Gelukkig is dit daar en nadat sy dit laat inlaai het, ry sy reguit poskantoor toe, waar André se brief wel op haar wag. Daar is ook ’n brief van Louise, haar skoonsuster. Sy bêre die briewe in haar handsak en tel die tydskrifte op toe ’n jong man langs haar kom staan.

Dis hulle buurman, Herman Bouwer, die nuwe eienaar van Uitkyk.

“Goeiemôre, juffrou,” groet hy beleef.

“Gaan dit goed?” “Goed, dankie,” antwoord sy skamerig en wonder waar- om sy altyd so jonk en verleë in sy geselskap voel. Is dit sy  koel, amper ongenaakbare houding of is dit maar net omdat hy, ten spyte van hulle buurskap, nog feitlik ’n vreemdeling vir haar is?

Hy vra na haar pa en nooi haar dan tot haar verbasing om ’n koppie tee saam met hom te gaan drink.

Hulle stap saam na die kafee daar naby en terwyl hy die tee bestel, bestudeer sy hom ongemerk. Herman Bouwer is omtrent dertig jaar oud, lank en skraal met sterk, breë skouers, donker hare, helderblou oë en ’n ferm mond. Die swaar, donker wenkbroue gee sy gesig ’n streng voorkoms.

Hy draai skielik sy kop en sy bloos, vies en verleë dat hy haar betrap het.

“Is jou pa ook op die dorp?” vra hy.

“Nee, Pa is besig om te ploeg. Ek het alleen gekom.”

“Is jy nie bang om alleen rond te ry nie?” vra hy en sy kyk verbaas op.

“Nee, ek is nie bang nie,” antwoord sy geamuseer. “Dis net ongerieflik as die ou Chev die dag vol nukke is.”

Hy frons, maar antwoord nie. Die kelnerin bring die tee en Sarie skink vir hulle in. Toe sy sy koppie aangee, vra hy: “Wanneer begin jou pa skeer?”

“Volgende week.”

“Hoe lank verwag julle om besig te wees?”

“Ek weet nie. Seker so drie, vier weke.”

“Ek kry die skeerders na julle. Ek sal maar later weer hoor hoe dit vorder.”

“Dit sal die beste wees,” sê sy koel. Is dít waarom hy haar genooi het om saam met hom tee te drink, om oor die skeerders te gesels?

“Wanneer gaan jy terug plaas toe?” vra hy onverwags en weer kyk sy verbaas op.

“Sodra die skool uitkom. Pa wil hê Hannes moet hom nog vanmiddag met die ploeëry help.”

“Jou broer skryf vanjaar matriek, nie waar nie?”

Sy knik, verbaas oor die skielike belangstelling.

“En dan?” vra hy. Sy antwoord nie dadelik nie en hy sien die skaduwee wat oor haar gesig val.

“Ek weet nie,” sê sy uiteindelik. “Hannes wil ’n dokter word, maar my pa sê hy moet kom boer.”

Hy is stil, dan sê hy: “Gelukskraal is ’n mooi plaas. Waarom wil hy weggaan? Omdat die wêreld daar buite vir hom blinker en mooier lyk?”

“Elke mens het die reg om oor sy eie lewe te besluit,” sê sy styf.

“As ’n man jonk is, weet hy nie altyd wat hy wil hê nie, of wat die beste vir hom is nie. Stem jy nie met my saam nie?” vra hy toe sy nie antwoord nie.

“Nee, ek stem nie saam nie, meneer Bouwer,” sê sy koel.

“Geen ouer het die reg om sy kind op te offer om sy eie ideale te bereik nie.” Sy drink haar tee klaar en stoot haar stoel agteruit. “Ek moet gaan, my tante wag vir my. Dankie vir die tee.”

Tant Anna ontvang haar hartlik en glimlag net toe Sarie vra of sy eers haar briewe kan lees. “Gaan jou gang,” sê sy. “Ek is in die spens besig as jy my soek.”

Sarie maak dadelik André se brief oop. Sy is so uitgehonger vir nuus van hom dat sy nie ’n oomblik langer kan wag nie.

Dis ’n lekker geselsbrief, vol allerhande nuusbrokkies oor homself, sy werk en sy vriende. André skryf sulke lewendige, interessante briewe dat dit haar laat voel of sy ook so ’n bietjie deel in sy lewe daar op universiteit. Marietjie Botha se naam kom ’n paar keer in die brief voor. Hulle was saam na ’n opvoering en ’n ander keer het hulle saam in ’n tennistoernooi gespeel. Verder skryf hy dat hulle nou in alle erns begin blok vir die eksamen, maar dat hy weer van hom sal laat hoor.

’n Tweede keer lees sy die brief noukeurig deur, ingeval sy iets gemis het, dan vou sy dit op en sit dit in haar handsak terug.

’n Lekker, interessante brief, en tog laat dit haar onbevredig. Hy sê dat hy haar mis en dat hy in dié dae so dikwels terugdink aan die een lente toe hulle saam in die Boland was. Maar sy lewe is so vol en besig en interessant dat sy twyfel of hy werklik weet wat verlange is. Dis in ieder geval ’n ander soort verlange as hare, wat soos ’n silwer draad deur die patroon van haar dae vleg en altyd maar daar is. Ook die gedagte dat daar gawe, aantreklike meisies soos Marietjie Botha is na wie hy hom kan wend wanneer hy behoefte aan geselskap het, laat haar nie meer getroos voel nie.


tryna-du-toit-11

Tryna du Toit Omnibus 11 bevat vier uiteenlopende stories deur ‘n immergewilde en baie geliefde skrywer.

Koop dit nou! Graffiti | Takealot | Amazon Kindle

Lees ’n uittreksel uit Boeie van goud deur Ena Murray

Drie van Ena Murray se heel beste liefdesverhale verskyn vandeesmaand in een omnibus, Ena Murray Keur 12.

In Boeie van goud, een van die verhale, vra Charmain haar af: Hoekom het Quintus de la Harpe met haar getrou as hy haar nooit werklik sy vrou wou maak nie? Sy het hom lief, maar moet toekyk hoe sy skoonsuster en niggie wedywer om sy aandag. Wanneer Marius de la Harpe en Jacques Taute haar pad kruis, raak die situasie nog meer onverstaanbaar …

Lees ‘n uittreksel uit hierdie verhaal:


em-keur-12-cov

Charmain kyk verbaas op toe die eienares van die losieshuis haar kom roep vir ’n besoeker. Sy is nie gewoond daaraan dat sy besoek kry nie. Dan frons sy. Miskien is dit daardie lastige klerk wat sy in haar nuwe werk leer ken het. Eers wil sy die hospita vra om namens haar verskoning te maak. Dan stap sy maar tog voordeur toe.

Haar hart spring in haar keel toe sy die imponerende gestalte in die voorportaal sien staan en sy steek viervoet vas; dis hý wat nader stap.

“Ek is jammer ek kom sommer so sonder afspraak hier aan, maar ek is toevallig in die stad en het toe gedink om net te kom hoor hoe dit gaan,” sê hy nadat hulle gegroet het. “Hoe gaan dit?”

Sy kyk met blink oë na hom op. Dis die oë van ’n kind, vol onverbloemde, opregte vreugde. Charmain is nog te jonk en onervare om nou al die kuns aan te geleer het om nie haar hart so te ontbloot nie.

“Dit gaan goed, dankie, meneer De la Harpe. O, dis wonderlik om u weer te sien!”

Hy knik, sy oë ernstig, bestuderend. “Ek is bly om dit te hoor.” Hy kyk vlugtig om hom heen in die portaaltjie, wat duidelik verraai dat dit nie een van die beste losieshuise in die stad is nie. “Sal ons ’n entjie gaan ry?”

Weer blink en skitter die oë onbeskaamd, en hy hoef nie op ’n antwoord te wag nie. Vir die tweede keer in haar kort, saai lewetjie voel sy hoe sy in die luukse motor wat voor die deur staan, ingehelp word, en dit voel vir haar asof sy sweef. Hy het weer gekom! Hy het haar onthou! So dink sy deurentyd.

“Waar is jou kwaai vriendin?” vra hy glimlaggend toe hy langs haar inskuiwe en die masjien aanskakel.

Charmain lag. “Sy is weg op ’n toneeltoer. Sy is nie regtig so kwaai nie. Klara is ’n dierbare mens, en vir my soos ’n suster. Van die eerste oomblik af het sy my onder haar vlerk geneem en beskerm. Dit was maar deur haar dat ek die twee klein rolletjies gekry het. Ek is nie ’n goeie toneelspeelster nie,” erken sy met kinderlike eerlikheid, en die man glimlag weer.

“Vertel my meer van jouself. Jou vriendin het daardie aand, toe ek julle uitgeneem het vir ete, gesê jy is ’n weeskind. Is jy werklik heeltemal alleen op die aarde?”

“Ja. En as ek verlangse familie het, het hulle in elk geval jare gelede al van my vergeet.” Sy sê dit sonder enige verbittering en op ’n manier wat die gehardste hart sal aangryp, en die man frons diep. Hy bring die motor tot stilstand by een van die mooi uitkykpunte oor die stad en draai skuins na haar. Sy gesig is net ’n vae, donker vlek. Subtiel word haar powere lewensverhaaltjie uit haar getrek.

“Ek wil nog dankie sê vir die geld wat u vir my by Klara gelaat het. Ek het ’n briefie geskryf om dankie te sê . . .” sluit sy af.

“Ek het dit gekry, dankie.”

“Ek sal, sodra ek kan, dit aan u terugstuur. Ek het werk gekry in ’n boekwinkel.”

“Dit was ’n geskenk, nie bedoel om terugbetaal te word nie.” Hy kan haar ongemak aanvoel en vervolg: “Dis ’n groter kuns om te ontvang as om te gee, Charmain.” Sy is stil, en ’n rukkie lank is net hul asemhalings hoorbaar. Dan, skielik, lê sy vingers onder haar ken, word haar gesiggie na hom opgelig. “Jy is ’n pragtige ou meisietjie. Jy verdien . . .”

Hy bly skielik stil en sy kyk met groot oë na die gesig so naby hare. Toe sy lippe meteens saggies op hare druk, roer sy nie, sit net bewegingloos onder sy aanraking, en in die lig van ’n flou maan kan hy die wit boog van haar nek duidelik sien – sien hoe die kuiltjie in haar nek onreëlmatig klop . . . nes ’n wilde voëltjie wat hom skielik in ’n koutjie bevind . . .


Koop dit nou! Graffiti | Amazon Kindle | Loot

 

Lees ’n uittreksel uit Elsa Winckler se verhaal Ridderspoor en rose

ultra-satyn-2-covIn Elsa Winckler se verhaal Ridderspoor en rose soen sakeman Alan Sutherland vir Corinne Hansen skaars ’n uur ná hy by haar blommewinkel instap. Tog beweer hy Corinne is nie sy tipe nie; dat hy ’n stemmige vrou soek wat kliënte sal beïndruk. Corinne besluit om hom te wys presies hoe ónstemmig sy kan wees, sodat hy nooit weer met ’n ander vrou tevrede sal wees nie. Maar waarom maak sy ingedagte ruikers met ridderspoor en rose, wat op verbintenis en liefde dui? Gaan haar plan boemerang en háár hart in die slag laat bly?

Lees ‘n kort uittreksel uit hierdie stomende verhaal:


“Sjoe,” giggel Ella en gryp die naaste vel papier om haar koel te waai. “Ek het lanklaas soveel manlike manne bymekaar gesien. Dis die ene . . .”

“Testosteroon?” skerts Corinne half uitasem, lig haar hare op met haar een hand en trek haar notaboek nader met die ander. Ook sy is die ene gloede. “Dié dat ek hulle uitgestuur het,” lag sy en begin kyk deur die telefoonnommers van haar verskaffers op haar foon. “Dis onmoontlik om te werk met daardie spul in die omtrek.”

“Die een wat agter jou aan in die gang af is . . .”

“Alan,” prewel Corinne, terwyl haar wysvinger oor die name op die lysie gly.

“So, jy het darem sy naam gehoor,” sê Ella. “Wat het in die kombuis gebeur? Jou wange was rooi en jy het ’n trui aangehad toe jy terugkom.” Haar oë rek. “Hy’t jou gesoen!” roep sy opgewonde uit.

“Ella!” raas Corinne ontsteld. Doug se piksoen was soos dié van ’n broer, maar net die gedagte aan Alan se lippe op hare, laat haar die trui weer styf om haar lyf draai. Goeiste aarde tog. Hulle was sentimeters van mekaar af, dit sou so maklik gewees het om op haar tone te staan en met haar lippe aan syne te raak.

Help! Ontsteld soek sy rond op die toonbank. “Niemand het niemand gesoen nie. Hierso,” sê sy en gee ’n boek met telefoonnommers van nog verskaffers aan Ella.

“Begin bel jy hierdie name, ek bel dié op my selfoon. Ons het ’n bestelling om aan te werk. Daar is g’n tyd om oor ’n soenery te staan en praat nie.”

Ella trek die boek nader. “Jou wange gloei al weer,” terg sy voordat sy aan die werk spring.

Corinne druk ’n hand teen haar warm gesig. Sy het dalk iets onder lede. Seker ’n vreemde virus. Hierdie waansinnige geklop van haar hart is ’n heel ongewone ervaring. Sy moet iets makeer, haar hele lyf kan tog nie so vreemd koorsig reageer en dit net omdat sy naby ’n aantreklike man gestaan het nie.

Sy gryp ’n stuk papier en begin haar ook koel waai. Net die gedagte aan die man se geur, sy nabyheid, maak haar van voor af warm. Hy het die mooiste blou oë en ag aarde, daai kuiltjie in sy wang is genoeg om elke vrou se bene lam te maak.

“Wel, as ek so na jou kyk, is daar net een afleiding. Jy het ten einde laaste ’n man raakgeloop wat jou liggies aanskakel!” giggel Ella.

Corinne laat val haar papierwaaier en kyk verdwaas na Ella. “Waarvan praat jy tog?”

“Kyk na jou, jou oë blink, jy kan nie op jou werk fokus nie – en dit het alles begin vandat die Sutherland-broers in die winkel was.”

Corinne waai Ella se aanmerking weg. “Ek weet nie van watter liggies jy praat nie. Ek was nogal uit die veld geslaan oor die vyf mans in die winkel, maar selfs jy was ’n paar minute sprakeloos. Hulle is . . . ’n fees vir die oog, maar ek dink ek het iets onder lede.”

Ella stik in ’n giggel.

“Ek voel effens koorsig, maar dit het niks met die mans te doen nie,” kap Corinne vieserig terug.

Nou lag Ella kliphard. “Niemand het van mans in die meervoud gepraat nie, my liewe Corinne. Uhm . . . ek dink die koorsigheid is te wyte aan een baie spesifieke man. Die een wat netnou agter jou aangeloop het kombuis toe.”

Corinne trek haar asem verstom in. “Maar dis tog nie moontlik nie, is dit? Hy is ’n beeld van ’n man, ja, hulle almal is – en dis nie asof ek nog nooit mooi mans gesien het nie! ’n Mens kan nie so vinnig . . . kan ’n mens? Dis seker net . . .”

“. . . omdat hy jou liggies aanskakel. Is dit nie wonderlik nie? Net vanoggend het jy nie gedink daar is ’n man wat dit sal regkry nie, en kyk nou vir jou!”

Corinne druk haar hand teen haar hart. Sy het nog altyd geglo in haar instink, in haar eerste reaksies op situasies en op mense. Maar hierdie keer is sy onwillig . . . nee, bang is die woord as sy nou baie eerlik is, om na instink te luister. Want wat daardie stemmetjie vir haar sê, doen geen ordentlike vrou vroeg in die oggend nie! Die gevoelens wat deur haar bruis, is oorweldigend, intens, allesoorheersend en . . . en sjoe, stomend.


Ridderspoor en rose deur Elsa Winckler is een van twee verhale in die nuwe omnibus, Ultrasatyn 2Koop dit nou! Loot | Takealot | Raru | Graffiti | Amazon Kindle

 

Lees ’n uittreksel uit Grenslose liefde deur Malene Breytenbach

Vyf jaar ná Carly O’Neill in diens van Dokters Sonder Grense vir Colin Mackenzie met sy betowerende Skotse aksent ontmoet het, kruis hul paaie weer. Colin het die titel van Hertog van Seaforth geërf, asook die Strahan-kasteel, wat hy in ’n psigiatriese kliniek omskep. Toe Carly as verpleegster daar kom werk, rumoer haar hart van voor af. Maar met sy nuwe titel is Colin verhewe bo ’n gewone vrou soos sy. Boonop blyk dit dat hy op trou staan …

Lees ‘n uittreksel uit ons Oktober boek van die maand, Grenslose liefde deur Malene Breytenbach:


Carly volg Duncan Urqhart by die gebou in. Hulle loop deur ’n reuseportaal. Sy kyk verstom om haar rond toe sy binnekom. Dié plek lyk nie na ’n kliniek nie, eerder na die Middeleeuse kastele wat sy op foto’s en in films gesien het. Die meubels is van donker hout, en ’n paar groot tapisserieë hang teen die mure. Oral pryk die heraldiese wapen van die Mackenzies en daar is selfs ’n wapenrusting in die portaal. Teen die mure is spiese en claymores, die slagswaarde wat die Skotte gebruik het om teen mekaar te veg.

Die vloer is yskoud.

Daar is verskeie skilderye van Skotse here wat in volledige Skotse drag met kilt en sporran pryk. Die een naaste aan haar is van Colin Mackenzie. Dit lyk soos die foto wat sy op die internet gesien het. Sy blou oë kyk haar direk aan en dit voel asof hy in haar hart en siel kan inkyk. Binnekort sien sy hom weer in lewende lywe.

Hulle loop deur die portaal en groot saal, dan deur ’n deur in ’n heel ander opset in. Hier is ’n ontvangstoonbank waar daar ’n jongerige vrou met donker hare by ’n rekenaar sit. Op die vloere is liggroen matte en skilderye van landskappe hang teen die muur. Agter teen die muur staan ’n ry staalkabinette.

“Jessie, ek het ons nuwe verpleegster, Carly O’Neill, gebring,” sê Duncan.

Hy stel hulle voor. “Jessie Hart is die ontvangsdame en algemene sekretaresse.”

Die vrou kyk met vriendelike grys oë na Carly. “Welcome. I hope you will be happy here with us.”

Carly hou sommer dadelik van haar. “Dankie, dit is vir my baie opwindend om hier te wees,” antwoord sy in Engels.

Jessie Hart staan op en loop om die toonbank. “Dis ook ’n hele gesukkel vir ’n buitelander om by ons te kom werk, nè? Soveel reëlings en rompslomp. Maar ons is bly jy is hier. Ons ander Suid-Afrikaanse verpleegster is Dudu Khumalo. Sy kom van Durban af en dit was net so ’n gedoente vir haar om hier te kan kom werk. Maar dokter Mackenzie sê die verpleegsters met wie hy in Suid-Afrika saamgewerk het, is die beste en hardwerkendste wat hy ken.”

Sy draai na Duncan. “Dankie, meneer Urqhart, ek sal vir verpleegster O’Neill na dokter Mackenzie neem.”

Hy lig sy hand na sy voorkop in ’n groet. “Goed. Ek sien jou seker die een of ander tyd weer, juffrou O’Neill? Lekker werk.”

“Dankie, meneer Urqhart.”

Sy en Jessie Hart loop in ’n gang af.

“Ons spreekkamers is hier,” sê Jessie. “Julle drie verpleegsters deel een groot kantoor en dokters Fraser en Mackenzie het natuurlik elkeen ’n kantoor. Ander personeellede is elders.”

Hulle kom by ’n bruin houtdeur waarop die naam Dr Colin Mackenzie in geelkoperletters aangebring is.

Carly se hart rumoer in haar keel.

Jessie klop, ’n stem antwoord, en hulle gaan binne.

Colin Mackenzie sit in sy wit jas agter ’n lesse naar met ’n skootrekenaar oop voor hom. Hy kyk op toe hulle inkom, staan op en glimlag.

Carly se hart tol behoorlik. Sy kon daardie tanzanietoë in al die jare nadat sy hom ontmoet het, nie vergeet nie. Hier kyk hulle weer oor ’n kort afstand na haar. Hy kom agter die lessenaar uit en steek sy hand uit. Dit omvou hare warm en stuur skokke deur haar arm en lyf. Sy kyk op na hom. Die mooi mond met wit, reëlmatige tande glimlag vir haar. Hy lyk nie so bruingebrand soos toe sy hom laas in Afrika gesien het nie, maar sy skouers is steeds ongelooflik breed en sy rooibruin hare, soos die pels van ’n vos, blink.

Sy probeer wegsteek dat hy haar van voor af oorweldig.

“Welkom,” sê hy. “Uiteindelik is jy hier.”

Sy glimlag. “Ja, uiteindelik, en baie bly om hier te wees.”

Hy beduie dat hulle op twee gestoffeerde donkergroen gemakstoele by ’n lae houttafel moet gaan sit, en hy gaan sit oorkant hulle. Die vertrek is in rustige lig- en donkergroen en wit gemeubileer. ’n Groot skildery van ’n Hooglandse toneel met langhaarbeeste oorheers een muur. Daar is ook kaste teen die mure.

“Jy moet jou tuismaak,” sê hy. “Jessie sal jou gaan wys waar jy bly en jou aan die ander personeellede voorstel. Jy kan jou eers vandag orienteer en die plek leer ken, en dan kan jy môre inval. As jy enigiets nodig het, sal Jessie jou help. Kom môreoggend agtuur eerste na my toe. Ek sal jou voorstel aan die pasiënte met wie jy ons gaan help. Jy sal sien ons doen dinge ontspanne en informeel hier. Ons pasiënte moenie voel dat hulle in ’n gestig is nie. Hulle mag in die tuine rondloop en ons verblyf is meer soos in ’n hotel. Ons neem ook nie baie mense in nie. Tans sal jy hoofsaaklik met vier pasiënte werk.”

Carly luister met haar hande in haar skoot saamgevou. Dwing haarself om hom direk in die oë te kyk al voel sy ongemaklik. Geen man buiten dié een het haar nog ooit laat voel asof sy op dun ys loop wat onder haar kan padgee nie. Sy het verwag om weer uitgeboul te word, maar die effek wat hy op haar het, is selfs erger as wat sy voorsien het.

“Dit klink goed.” Sy hoop sy kom bedaard voor.

“Die feit dat jy sielkunde gestudeer het, is natuurlik ’n aanwins,” sê hy. “Ons ander aansoekers het nie dié ekstra kwalifikasie gehad nie. Daarom het ons dit reggekry om vir jou die pos aan te bied.”

Hy vra uit oor haar reis en persoonlike omstandighede. “Dit lyk nie asof daar iets of iemand is wat jou sommer na Suid-Afrika sal terugroep nie. Jy beplan nie om skielik te trou of so iets nie, nè?” Sy oë terg haar.

“Nee, niks van die aard nie. Ek sal hier werk so lank soos ek kan.”


grenslose-liefde-covGrenslose liefde deur Malene Breytenbach is NB-Liefdesverhale se boek van die maand in Oktober!

Koop dit nou! Loot | Raru | Reader’s Warehouse | Graffiti

Lees ’n uittreksel uit Onbeteuelde liefde deur Susan Pienaar

Internasionale model Isabella Santarelli keer terug na haar geboorteland, Suid-Afrika, met die droom om ’n opleidingskamp vir saalperdruiters op hul familieplaas te begin. Haar pa betrek die hulp van die buurplaas se eienaar, Nicholas Burger, ’n veearts en renperdteler.

Isabella en Nicholas stamp koppe, maar kan ook skaars hul oë én hande van mekaar afhou. Is Nicholas se gevoelens opreg of sleep hy net vlerk om Isabella se familieplaas te bekom? Lees Susan Pienaar se jongste liefdesverhaal Onbeteuelde liefde om uit te vind!

Hier is ‘n kort uittreksel as lusmaker:


Isabella tel die pot met spaghetti van die warm stoofplaat af op en sit dit op ’n koue plaat neer. Hoe moet sy kosmaak terwyl Nicholas heeltyd in haar pad is en boonop na haar staar wanneer hy reken sy sien dit nie? Waar bly haar pa so laat uit vanaand? Nicholas is mos sý gas, nie hare nie.

Haar pa moet haar darem vooraf sê wanneer hy iemand vir ete genooi het. Plaas sy nie vroeër vir Liesbeth gesê het sy kan maar vroeg loop nie. Nou is sy alleen saam met Nicholas en die oorheersende en namelose iets wat hy uitstraal. Gelukkig was sy klaar met die mengelslaai toe hy opgedaag het, want haar hande bewe nou só . . . Hoekom affekteer die man haar soos niemand nog voorheen gedoen het nie?

Sy gooi ’n bietjie sout by die tamatiepastasous, stel die plaat laer en roer haar skouers ongeduldig. Sy moet die vergiettes van die boonste rak afhaal om die spaghetti te dreineer – dit gaan pap word as dit langer in water staan.

“Die kombuiskaste is outyds, gemaak vir mense van ses voet lank,” het haar ma destyds gekla.

Soms klim sy op ’n stoel, maar nie vanaand nie. Sy gaan dit nie nader aan Nicholas en die stoele waag nie, want dan spring hy weer op om te help. Die bak staan teen die rak se rand en as sy op haar tone staan . . . Sy strek en vries onmiddellik met haar vingerpunte teen die staalbak. Die ligte aanraking van Nicholas se harde lyf teen haar rug verskerp al haar sintuie. Hy ruik na skeer- of badseep en sy asem laat die fyn haartjies in haar nek roer. Dit voel sowaar asof die spanning uit haar dreineer. Sy sug liggies. Mm, hoe maklik sal dit nie wees om terug te leun en . . .

“Wag, laat ek help. Ek is baie langer as jy.” Sy asem ruik na ment en kielie haar oor en slaap. Sy staan doodstil. Nicholas se lyf druk haar liggies teen die kas vas en sy linkerhand rus op die naaste rak. Regs versper die yskas haar weg, agter hulle staan ’n tafel waarop groente gekerf word, en links kan sy nie verbykom nie tensy Nicholas padgee.

Hy lig die bak oor haar kop en sy hoor hoe hy dit op die kerftafel agter hulle neersit. Die aanraking teen haar rug is ligter en sonder om aan spasie te dink, draai sy om – vas teen sy gespierde lyf.

Hy staan onbeweeglik.

Sy sluk swaar. Hoe lanklaas het sy so teenaan ’n man gestaan? Die gedagtes flits deur haar. Nee tog, sy moet haar sawwigheid laat staan. Sy probeer agteruit tree, maar sy hande vou om haar skouers.

“Ek dog modelle moet ’n sekere lengte wees,” sy oë gly oor haar gesig, “maar kyk nou vir jou. Ek is ’n hele kop langer as jy.”

Sy lek oor haar droë lippe. “Dis nie meer nodig . . . ek bedoel . . . hulle het destyds lang meisies verkies . . . dit u-hm . . . het verander . . .” Dis moeilik om te dink met Nicholas se aantreklike gesig en manslyf so heerlik naby haar.

Hy bring ’n hand na haar gesig sodat sy palm rus op haar wang terwyl sy vingers in die hare teen haar slaap verstrengel raak. Sy kantel haar gesig in sy hand in, toe sy ander hand agter om haar nek vou en hy haar nader aan hom trek. Lieflike skokgolfies rol deur haar lyf, maar op hierdie oomblik dink sy nie, ontspan sy net. Sy oë kyk so intens ondersoekend in hare, asof hy tot in haar siel wil speur. Haar hart raak week. Hy is darem só sexy . . .

Sy heuningbruin oë verdonker van begeerte. Dan is sy in sy arms en sy mond dringend op hare. Haar arms gly om sy lyf. Mmm, sy is soos droë grond wat die eerste lentereën indrink, ’n blom wat oopgaan in die son se strale . . . Sy verlustig haar in sy soene . . . tong teen tong, en hy trek haar stywer teen sy harde lyf vas . . . Dit moet nooit ophou nie . . .

Die voordeur klap toe. Nicholas los haar. “Jy gaan na ’n man se kop toe, mooie Isabella,” sê hy sag en streel met ’n vinger oor haar lippe.

“Jammer ek is laat.” Haar pa kyk beurtelings van haar na Nicholas. “En as julle twee nou so vasgekeer daar staan?”

Sy hoop maar sy lyk gewoon. “Nicholas het die vergiettes vir my bo uit die kas gehaal. Ek kon dit nie bykom nie.”


Onbeteuelde liefde deur Susan Pienaar is NB-Liefdesverhale se boek van die maand in September!

Koop dit nou! Takealot | Loot | Reader’s Warehouse | Leserskring | Amazon Kindle