Boek van die maand in Julie – Liefde deur ’n lens

9780624076018---Liefde-deur-`n-lens-covLiefde deur ’n lens deur Elsa Winckler is NB-Liefdesverhale se boek van die maand in Julie!

Wanneer fotograaf Nicola Meyer agter haar kamera skuil, voel sy veilig en in beheer van haar emosies. Tot Francois Olivier haar soen en haar wêreld laat tol. Hy sien die hartseer raak wat sy wegsteek . . . Nicola probeer om met haar kamera afstand tussen hulle te skep. Maar telkens fokus sy op sy groen oë . . . Geen man het al ooit só na haar gekyk nie. Sal Nicola haar verskansing kan laat vaar? En is dit liefde wat sy deur die lens sien?

Koop dit nou! TakealotBargain Books | CNA |Graffiti | Raru| Amazon Kindle

 

Uittreksel: Wat die hart begeer deur Amelia Strydom

Wat die hart begeer, Amelia Strydom se jongste Satyn-liefdesverhaal, speel af in die skilderagtige ruimte van Noetzie naby Knysna. Lees ’n lekker uittreksel waar Mienke Langeveldt die kastele in Noetzie vir die eerste keer sien . . . terwyl sy in Franco Greeff se arms is:  

Wat-die-hart-begeer-cov_finalHulle stap in stilte see toe. ’n Houtbruggie lei oor ’n strook rotse tot op die privaat strand. Toe haar voetsole in die sand wegsak, vloei die spanning uit Mienke. Vitamien See. Beter as enige chill-pil, selfs op ’n grou en mistige oggend.

“Ons haal jou band af,” sê Franco vir Kaptein, “ma’ jy gaan nie huis toe nie, verstaan?”

Sy rol haar broekspype op en drentel vooruit. Miskien kry hy die boodskap dat sy eerder alleen wil wees met haar chaotiese gedagtes. Net duskant die soom van die water val hy egter weer langs haar in. Hulle stap tot waar skuimborrels in die blink sand oopbars.

Toe die eerste golfie oor haar tone kabbel, moet sy haar verrassing deel: “Haai, dis warm.”

“Sal dit nou nie warm noem nie, maar dit ís darem die Indiese Oseaan. Moenie skrik vir die weer nie, ons swem somer en winter in die riviermond.”

“Gaan jy my wys waar?”

“Sure. Mens kan daarso oor die rotse klim, maar die paadjie is makliker vir Kaptein.”

Hulle stap terug oor die bruggie. Af met die voetpad wat sy vanuit haar kamer gesien het, tussen boomvarings en oorhangende takke deur. Die lug ruik na klam grond en verrottende plantmateriaal.

Die hoofstrand is groter as wat sy verwag het, hoewel die grense in die mis vervaag.

“Gety is ver terug.” Franco buk om ’n stok op te tel, en slinger dit water se kant toe. “Hei, Kaptein, gaan haal!” Die brak kyk anderpad. “Pft, patetiese verskoning vir ’n hond.”

“Lekker jok jy nou, jy sal hom nie verruil nie. Wanneer ek teruggaan Pretoria toe, gaan ek vir my ook ’n boelhond kry.” As voorsorgmaatreël teen allenigheid, net ingeval sy ’n raps té geheg aan Bellavista se inwoners raak.

“Huistoegaan-praatjies? Ek moes laas nag luister na Audrey se planne met jou en jou silwer nail polish.”

“Ek dink maar net vooruit.”

“’n Girl vir reëls én langtermynbeplanning.”

Presies hoekom verstaan sy nie, maar sy aanmerking het die effek van ’n vuurhoutjie by ’n gasvlam.

“En dis ’n helse karakterfout?” ontplof sy voor sy haar kan bedink.

Continue reading

Jongste omnibusse: Ena Murray Keur 9, Susanna M Lingua Gunstelinge 5 en Hartklop Omnibus 2

Drie heerlike omnibusse nou beskikbaar! Kliek op die skakels by elke beskrywing om te sien waar jy die boeke kan koop.

Ena Murray Keur 9

9780624076773---EM-KEUR-9-cov_finalHierdie omnibus bevat drie van Ena se beste liefdesverhale: In Waters van Silóa tref die ergste moontlike lot vir Petra Prinsloo: die huwelik van haar beeldskone suster met dokter Eugene Minnaar, die één man wat vir Petra als beteken. Sy wend haar tot die eksklusiewe kliniek van beroemde plastiese chirurg Klaus Wagner met die opdrag: Maak my ook beeldskoon.
In Rabbedoe van Rietkuil is Wynand Hechter, baas van die spogplaas Rietkuil, verontwaardig toe hy sien sy nuwe voorman is toe al die tyd ’n “voorvrou”. Maar Nicolette Bezuidenhout ken van haar man staan. En toe ontpop die rabbedoe-“voorman” boonop in ’n uithaler-gasvrou in ontwerpersklere.
En in En die verlange bly het skatryk sosiale vlinder Wouda Kellerman jarelank haar neus opgetrek vir Nak, al sê hy van kleintyd af hy gaan met haar trou. Toe die resessie vir haar en haar ouers armoede bring, is Nak haar enigste toevlug. Maar nou lê Wouda elke aand en luister beangs na die naggeluide op die wildplaas Nhlangani en wonder hoe Nak so kon verander het . . .

Koop dit nou! Takealot | Kobo e-boek | Loot | Bargain Books | Graffiti | Exclusive Books Raru | Amazon Kindle

Susanna M Lingua Gunstelinge 5

9780624076803---SML-5-cov_final

Drie gunstelingverhale deur Susanna M. Lingua: In Die vurige swartkop word Elmarie Keyser ná haar suster se afsterwe haar nefie, Mark, se pleegouer. Elmarie kan egter nie as ongetroude meisie vir Mark aanneem nie, en sy grootouers het ook ’n aanspraak op hom. Hoe gaan Elmarie haar belofte aan haar suster nakom? Dan ontmoet sy vir Lafras Zeeman, ’n miljoenêr, en hy bied vir haar ’n oplossing.
In Karlien kom die heldin uit die staanspoor uitstekend met meneer Visser, haar bejaarde, skatryk werkgewer, oor die weg. Wanneer oubaas Visser egter ’n hartaanval kry, moet sy seun uit die buiteland terugkeer om die besigheid oor te neem. Ryno Visser is berug vir sy humeur en onverbiddelikheid . . .
En in Nimf van die berge maak Anita Hamman planne om op haar erfplaas Hammanskloof te gaan boer. Gustav Erlank is die kwaai jong eienaar van die buurplaas, Rietvlei. Kort voor lank begin Anita jaloers raak op die beeldskone Wanda, wat geen geheim daarvan maak nie dat sy trouplanne met Gustav het.

Koop dit nou! Takealot | Loot | Bargain Books | Graffiti | Exclusive BooksRaru | Amazon Kindle

Hartklop Omnibus 2

Hartklop Omnibus 2 cov_finalDrie liefdesverhale met ’n mediese agtergrond: In Droomdokter besluit die hospitaal waar vroedvrou Mila Mouton haar Aktiewe Geboorte-eenheid se perseel huur dat haar deure moet sluit. Mila kom agter haar aantreklike buurman is betrokke by dié plan. Gaan haar loopbaan oorleef? En wat van haar verhouding met die aanloklike maar verraderlike buurman?
In In jou hande lê Michelle Judson hulpeloos in ’n hospitaal ná ’n motorongeluk waarin sy en haar vriendin Sandra was. Michelle se kakebeen is met drade geheg sodat sy nie kan praat nie, al twee haar enkels is gebreek en haar regterhand vergruis. Sandra is in ’n koma. Al ligpunt is die deernisvolle behandeling wat Michelle van ortopediese chirurg Douw Hefer ontvang.
En in Liefde op Jannasbaai beland ’n onbekende meisie wat haar sig én geheue weens ’n ongeluk verloor het by chirurg Elmo Kasselman se suksesvolle privaatkliniek. Sy geordende bestaan word heeltemal omvergegooi, want dié brose vreemdeling roer sy hart op ’n totaal nuwe manier . . .

Koop dit nou! Takealot | Kobo e-boek | Loot | Bargain Books | Graffiti | Exclusive BooksRaru | Amazon Kindle

Jongste liefdesverhale: Wat die hart begeer, Sag fluister my hart en Geheime liefde

Hallo, liewe lesers, ons jongste liefdesverhale is beskikbaar in ’n oulike nuwe handsakgrootte teen ’n ongelooflike nuwe sakpasprys. Kliek op die skakels onderaan elke boek se beskrywing om jou kopie by een van ’n groot verskeidenheid handelaars te koop. Lekker lees! – Van jou hartsvriendin xxxx

Wat die hart begeer – Amelia Strydom

9780624076681---Wat-die-hart-begeer-cov_finalMienke Langeveldt het ’n tweede kans op die lewe ná sy ’n skenkerhart ontvang.
Sy vind per abuis uit dat die skenker aktrise Sheralize Myburgh was en wil haar dankbaarheid teenoor die wewenaar, Franco, en sy kind, Audrey, bewys sonder dat hulle uitvind wie sy is.
Daar word gegis dat Sheralize se dood nie ’n ongeluk was nie. Mienke is lugtig vir Franco, maar ook sterk tot hom aangetrokke. Is dit sellulêre geheue? Voel sy net wat Sheralize gevoel het? Of is Franco die man wat Mienke wil hê?

Koop dit nou! Takealot | Kobo e-boek | Loot | Bargain Books | Graffiti | Exclusive BooksRaru | Amazon Kindle

Sag fluister my hart – Schalkie van Wyk 

9780624076742---Sag-fluister-cov-_finalAs prinsipale moet Sandri Blanchet haar waardig gedra. Maar toe Marko Waalstra beskuldigings rondslinger, vergeet sy van protokol terwyl die vonke spat. Hy is besorg oor sy susterskind wat met Sandri se halfbroer uitgaan en stel voor hulle moet mekaar beter leer ken ter wille van dié tweetjies, maar Sandri skop teë. Mettertyd sien sy ’n sjarmante sy van Marko. Maar toe ’n anonieme brief Marko se identiteit in twyfel trek, is Sandri nog meer onseker oor haar gevoelens vir hom . . .

Koop dit nou! Takealot | Kobo e-boek | Loot | Bargain Books | Graffiti | Exclusive BooksRaru | Amazon Kindle

Geheime liefde – Malene Breytenbach

9780624076711---Geheime-liefde-cov-_finalToe digter AA Sutherland se verlore joernaal ontdek word, kan PhD-student Diana Malan nie wag om dit te bestudeer nie. Dalk vind sy uit wie die vrou is na wie hy in sy gedigte verwys. Maar ai, die joernaal moet eers gerestoureer word. Boonop daag Sutherland se agterkleinseun, Alex Erskine, daar op en dring aan om dit te sien. Dié fassinerende Skot trek Diana soos ’n magneet aan. Maar hy kuier blykbaar by die beginsellose Beryl, terwyl Diana se eks haar met ’n seer hart wil terughê . . .

Koop dit nou! Takealot | Kobo e-boek | Loot | Bargain Books | Graffiti | Exclusive BooksRaru | Amazon Kindle

 

Uittreksel: ’n Ander vrou se rok – Kristel Loots

In ’n Ander vrou se rok stort Zia Bekker se onderwysloopbaan in duie, terwyl Karel, haar kêrel, hom skaars hou . . . Lees ’n uittreksel: 

9780624074700 - Ander Vrou se Rok KEUSEEk kyk hoe die matrieks tydsaam in die banke plaasneem. Hul skouers hang. Lyk afgerem. Moeg. Heel moontlik nog met ’n moerse babelaas net agter die ooglede ook.

Vir hulle was die naweek lank en lekker, en die Maandag is genadeloos, die nuwe week onversetlik en wreed. Ek het nie die naweek gefuif nie, maar ek voel nie veel beter as hulle nie. Ek sal weer moet spark soos ’n hele string Kersliggies om dié spul wat so vaal en vaak voor my sit aan die werk te kry. Of dan ten minste net wakker genoeg dat hulle nie in stereo aan die snork gaan nie.

As hulle wakker genoeg was, sou hulle my dissekteer soos ’n wetenskaplike met ’n rare insek, veel genadeloser as my ouma. Hulle doen dit soms, maak snedige aanmerkings oor my klere, altyd hard genoeg dat ek kan hoor.

Looks like a circus clown gone wrong, mutton dressed as lamb, daardie tipe van ding. Verstom my aan die bloedjies wat skaars Afrikaans oor hul lippe kry, maar met uitdrukkings en gesegdes soos daardie vorendag kan kom. Santie Doemprofetes in die klas langs myne doen duidelik beter werk met haar Engelse lesse as ek wat ’n liefde vir Die Taal wil kweek waar daar geen liefde te vinde is nie. Maar Engels of swakkerige Afrikaans, maak nie saak nie, hul tonge is skerp. Vir ’n gemiddelde agtienjarige is ’n onderwyseres iemand om te verskeur.

“Hulle kan vrees ruik,” is hoe Santie Doemprofetes dit beskryf. “En sal jou swakhede uitbuit die oomblik dat hulle agterkom wat dit is.”

Aan die begin wou ek haar nie glo nie. Was so vol geesdrif soos ’n drukkoker op pad na ’n ontploffing, wou met alle mag glo aan die goeie en al daardie pienkboekie-stuff wat jou besiel om tog in hemelsnaam net positief te wees. Oor die land en sy mense, oor die taal van jou hart, oor die fluitende voëltjies daar buite en die blomme en die bye, tra-la-la. Ek wou woon in La-laland, waar alle wense waar word.

Ek kyk die spul so. Ek sweer die meeste van hulle weet meer van die blomme en die bye as ek. Kry heel moontlik ook meer action as ek. Veral as ek terugdink aan die droëbek-naweek wat verby is.

Ek het my nogal Vrydagaand vroeg al van ’n kant af opgetof, met ’n mooi kalerige somersrokkie in Ouma Betta se sitkamer beentjies oorkruis gewag vir my ridder op sy poegie om te kom kuier. Parfuum agter die ore en op nog ’n paar strategiese plekke, the works. Lippe geverf met parmantige passion-pienk, naels om daarby te pas, hare wild en wakker drooggemaak, genoeg eyeshadow om my come-to-bed-eyes te beklemtoon.

Só wag ek toe vir my kêrel. Vir Karel, my kêrel. Jy kan hom nie iets anders noem nie. Hy is nie ’n ou nie en hy is ook nie ’n boyfriend nie. Hy is ’n kêrel. So Afrikaans soos “Ek soek na my Dina” of enige ander volkspele-liedjie.

Ek wou mooi lyk. Vir my kêrel. Vir Karel. Met sy poegie. Want Karel hou van mooi goed. Soos ’n silwerblink poegie. En mooi meisies. “Ek het ’n oog vir skoonheid,” spog hy gereeld as hy hom amper disnis teen ’n lamppaal loop wanneer daar ’n blonde met bene en boobs verbykom. Ek is mos nie ’n natural blonde nie, maar ek probeer soms ’n bietjie kroek. ’n Bottel-blonde is beter as glad nie ’n blonde nie. Moet elke paar weke my boring hare kleur as die bruin teen my kopvel begin wys. Maar partykeer vererg ek my, besluit dan basta met die blonde hare en bewandel die aardbol as ’n brunet. Is nou eenmaal nie so verblindend blond soos my niggie, Bianca, gebore nie. Bleddie Bianca.

As ek stunning genoeg kon lyk as Karel Vrydag daar aankom, sou hy by my bly. Vir ’n wyle. En ek wou hom daar hê. Die ding wat Vrydagoggend in die skool gebeur het, het by my gespook en ek wou nie langer alleen daaraan dra nie. Debriefing is mos deesdae die in-ding; jou bekommernisse word nie meer met ’n koppie warm tee besweer nie, jy praat die ding uit jou gestel uit.

Koop dit nou! Bargain Books | Takealot | Kobo e-boekLoot | Graffiti | Raru | Amazon Kindle