Augustus boek van die maand: Pad na Geluk  deur Moryn Hanzen

Pad na Geluk  deur Moryn Hanzen is NB-Uitgewers se Augustus boek van die maand:

Nina neem ’n blaaskansie van haar besig lewe as haarkapper en -stilis in Pretoria om haar ouma Anita Kalahari toe te neem waar sy by haar jarelange vriend, oom Chris, wil gaan kuier. Maar Nina sou nooit kon raai dat die pad na die plaas Geluk haar ook na oom Chris se kleinseun, Ian, sou neem nie – die aantreklikste man wat sy nog ooit gesien het.

Vir die eerste keer in haar lewe kry ’n man dit reg om haar voete onder haar uit te slaan. Maar ’n verhouding tussen hulle sal tog nooit werk nie. Nina is ’n stadsmeisie en Ian is ’n boer in murg en been. Sy sal nooit op ’n plaas in die halfwoestyn aard nie.

Nina moet maar liewer teruggaan na die standvastige Carl wat haar gesoen het voor sy uit Pretoria weg is – al is hy so koel en korrek. Buitendien blyk dit dat Ian steeds vir sy vriendin Zanelle gevoelens het . . . Watter ander rede kan daar tog wees dat Zanelle se verloofde agterdogtig is oor hom?

Oor die skrywer:

Moryn Hanzen woon buite Upington. Sy het al tydskrifartikels, kortverhale en kinderstories geskryf. Pad na Geluk is die eerste liefdesverhaal uit haar pen. Jeugevangelisasie lê haar na aan die hart, en sy put groot vreugde uit haar gesin, boeke, musiek, vriende en diere.

Koop dit nou! Takealot | Loot | Leserskring | Graffiti | MySubs (digitaal) | Raru | Amazon Kindle 

Nuut: Hartklop Omnibus 3

Drie romantiese liefdesverhale wat teen ’n mediese agtergrond afspeel verskyn in Hartklop Omnibus 3. 

Heler van skade​ deur Malene Breytenbach: Lucinda O’Neill word ’n pos as pediater by die Wynland-kliniek vir Aansteeklike Siektes aangebied en dit bring ’n algehele ommekeer in haar lewe mee – en nie slegs op professionele gebied nie. Want hier ontmoet sy vir Werner Huber, ’n siviele ingenieur, wie se seun tydens ’n werkskontrak in Afrika ’n tropiese siekte opgedoen het. Wanneer hy die seuntjie na die kliniek bring, maak dit ’n groter impak op Lucinda se lewe as wat sy ooit kon voorsien het. En intussen maak die resiesjaer Edwin van Reenen, wat haar ken sedert hulle kinderdae in die weeshuis, aanspraak op haar vriendskap en liefde. Lucinda het haar nog altyd van liefdesverbintenisse weerhou; haar werk was haar erns. Maar in die Wynland-kliniek word sy verplig om keuses te maak – en meteens lyk haar pad vorentoe baie gekompliseerd.

Die dokter se geheime passie​ deur Rykie Roux: Janli Filmalter, ’n toegewyde mediese student in haar vyfde jaar, en dokter Christiaan Lombard ken mekaar al vandat sy ses en hy nege jaar oud was. Hulle ken ook mekaar se families goed – dalk té goed. Waarom haat Christiaan haar skatryk pa so? Sal hy Gé, haar losbol-broer, kan vergewe vir wat hy aan sy onskuldige kleinsus gedoen het? Maar die belangrikste: probeer Christiaan op die Filmaters wraak neem deur Janli te verlei?

Ontmoet my in Patong​ deur Madeleine Malherbe: Laura Els is glad nie baie gelukkig in die hospitaal waar sy verpleeg nie. Miskien is dit omdat haar kêrel, Braam, weg is Engeland toe. Of dalk is dit nog die nadraai van die tsoenami- gebeure. Wat ook al, Laura besluit om Engeland toe te gaan, na Braam toe. Maar voor dit wil sy eers terug Thailand toe vir ’n kort vakansie om deur die herinneringe van die tsoenami en haar tyd daar te werk. In Thailand ontmoet sy toevallig weer die Engelse sakeman, Francis, wie se lewe sy destyds gered het. Die aantrekkingskrag tussen hulle skryf Laura toe aan die feit dat sy hom destyds gered het. Natuurlik sal so iets mens nader aan mekaar bring! En sy is immers nog verlief op Braam. In Patong het die lewe egter sy eie loop . . .

Koop dit nou! CNA | Loot | Van Schaik |  Graffiti | Amazon (Kindle) | MySubs

Nuut: Ena Murray Keur 14

Drie van Ena Murray se heel beste liefdesverhale is in Ena Murray Keur 14 saamgebind: Weerklank van ons liefde’n Tyd om te ween en Die oujongnooi van Polkadraai.

Wanneer ’n wildvreemde meisie in Weerklank van ons liefde per ongeluk in dr. Rudolf van der Merwe se lewe – én sy woonstel, sy bed en sy slaapklere – beland, raak hy onherroeplik betrek by ’n tergende raaisel. Want dié naamlose meisie ly aan geheueverlies, en al leidraad is ’n koerantberig oor ’n onopgeloste moord waarvan die sleutelverdagte spoorloos verdwyn het . . .

Madie, noem Rudolf sy “nuwe vrou” (hy moet die skyn ter wille van sy reputasie bewaar) en hy weier om te glo sy kon haar stiefpa vermoor het. Maar waarom het sy gevlug? En vanwaar die duidelike tekens van aanranding aan haar liggaam? En die trouring aan haar vinger?

Net ’n groot skok sal haar verlede weer kan oopruk. En dis presies wat die verleidelike joernalis met die rooi kop, Catherine, besluit om te doen. Want sy wil Rudolf inpalm, al kos dit wat.

In ’n Tyd om te ween moet Paul Henning se hartaanval moet Rietspruit ‘n ander dokter kry. Maar Hybre, dokter Paul se dogter, vertrou nie die briljante dokter Ewald Waltmann nie. Wat kom soek so ‘n suksesvolle geneesheer op so ‘n klein plekkie? Die atmosfeer is van die begin af gelaai; reeds by hul eerste ontmoeting spat die vonke. En dit te midde van werklike hartseer en pyn in die dorp. ‘n Tyd om te ween is ‘n diep roerende verhaal waarin mense mekaar leer om te gee en waarin hulle besef: die lewe verloop selde soos ‘n mens dit beplan.

En in Die oujongnooi van Polkadraai gebruik Silpa haar besonderse grimeertalent om haarself ’n volle twintig jaar ouer te laat voorkom – sy beeld ’n middeljarige oujongnooi uit wat aansoek doen om die pos van huishoudster vir twee jong kinders. Maar sy het nie rekening gehou met die streng dog aantreklike pa van die kinders nie.

Oor die skrywer:

Ena Murray is op die klein Karoodorpie Loxton gebore, die middelste van drie dogters. Haar pa was die plaaslike geneesheer, en dis hier waar haar groot belangstelling in die geneeskunde ontstaan het. Verskeie van haar verhale het dan ook ’n hospitaal as milieu. Sy het op Mosselbaai afgetree en is in Junie 2015 oorlede.

Koop dit nou! MySubs CNA Raru Loot Graffiti Amazon (Kindle)

Julie boek van die maand: Marlene en die macho man deur Anita du Preez

Marlene en die macho man deur Anita du Preez is NB-Uitgewers se Julie boek van die maand:

Van hul skooldae af het almal gedink dat Marlene Burger en Tom Lourens vir mekaar bestem is. Maar Marlene, met haar voorliefde vir avontuur en adrenalien, wou haar nie vroeg reeds aan ’n rustige huislike bestaan bind nie. Nee, sy het luitenant-kolonel Marlene Burger van die SAPD geword, haar plek in ’n manswêreld oopbaklei en kriminele laat les opsê.

Maar nou is daar ’n kans vir Marlene en Tom om weer te probeer om ’n verhouding te hê – ná hulle elk ’n mislukte huwelik agter die rug het.

Gaan dit dié keer werk? Want vlootoffisier Lourens blyk onnodig versigtig te wees wanneer dit by hul verhouding kom; sý weer oorhaastig.

Die geheimsinnige Ziegfried van Leeuwen, wat dalk die ontwykende straatkunstenaar De Leeuw kan wees, verskyn boonop op die toneel en is met luitenant-kolonel Burger gefassineer. En skielik moet Marlene besluit wat sy werklik wil hê . . .

Oor die skrywer:

Anita is gebore in Port Elizabeth. Sy het in die visuele kunste studeer en aan UNISA haar BA-honneurs en Magistergraad verwerf, albei cum laude. Sy is ’n ma van drie, woon in Kaapstad en is ’n beeldhouer en lektrise in die visuele kunste (CTI, Durbanville- en Claremont-kampusse).

Koop dit nou!  MySubs | Raru Loot Graffiti Amazon (Kindle) 

Nuut: Susanna M Lingua Gunstelinge 6

Drie gunsteling-liefdesverhale deur Susanna M Lingua – Waar die frangipani bloei, Lied van die Isar en Jy is my droommeisie – verskyn hierdie maand in ‘n nuwe omnibus, Susanna M Lingua Gunstelinge 6:

In Waar die frangipani bloei is die streng, tradisievaste Portugese Edelman die Duque Diago de Velira Cervantes in beheer op die rustige dorpie Braco aan die kus van Afrika.  Niemand op die dorpie sal ooit droom om teen die wense en begeertes of instruksies van dié adellike hertog te handel nie. Tot die beeldskone, moderne Ronelle Dekker haar vader op Braco besoek. Heel gou kom Ronelle tot die ontdekking dat haar moderne lewensuitkyk en haar moderne kleredrag reëlreg indruis teen die streng, ongenaakbare Duque se tradisies en beginsels. Met haar vurige, selfstandige geaardheid en haar drang na avontuur, kom Ronelle uit die staanspoor in botsing met die wense van die ewe vurige, aantreklike Portugese hertog en dis nie lank voordat die vonke op Braco spat nie . . .

In Lied van die Isar gaan kuier Tillie Joubert vir twee maande by haar familie in Duitsland nadat sy haar onderwysstudies voltooi het. Daar ontmoet sy die aantreklike baron Ludwig Krafft. Hy raak dadelik halsoorkop verlief op die meisie uit Suid-Afrika, en teenstrydig met die tradisies van die Kraffts, vra hy haar om met hom te trou, al is sy nie uit die Duitse adelstand nie. Nadat haar ouers aanvanklik teësinnig was oor die vinnige romanse, gee hulle uiteindelik toe en Tillie trou met haar baron. Daar is egter een vlieg in die salf in die vorm van Heidi, Loui se weduweesuster wat by hulle op Burkenhof kom woon. Sy is baie jaloers op Tillie en doen haar bes om die jong vrou by haar man in onguns te bring. Toe Tillie ontdek dat sy ’n baba verwag, slaag Heidi byna daarin om die jong huwelik én vir Tillie te vernietig. Tillie verloor in elk geval die baba. Op Loui se aandrang gaan kuier Tillie vir haar ouers in Suid-Afrika, en aanvaar dat sy Loui se liefde verloor het.

En in Jy is my droommeisie voel Liza Steenberg dat die lewe haar verbygaan op die klein plattelandse dorpie Denneheuwel. Johannesburg met sy polsende stadslewe wink vir haar, en kort voor lank bekom sy ’n betrekking by ’n vooruitstrewende sakeonderneming. Rademeyer-beleggings se direkteur, Thys Rademeyer, is lank, blond en onweerstaanbaar aantreklik. Hy soek lankal na sy droommeisie, sy feeprinsessie, maar hoe moet hy kies tussen die mooie Liza en sy bekwame, beeldskone sekretaresse wat haar vangnet al jare lank fyn span?

Oor die skrywer:

Susanna M Lingua het reeds op sestienjarige ouderdom begin skryf, maar haar werklike skrywersloopbaan het in 1952 begin toe haar eerste manuskrip deur ‘n uitgewer vir publikasie aanvaar is. Sy is in 1997 oorlede, met 58 gepubliseerde boeke agter haar naam.


 Koop dit nou!  MySubs | Raru | Loot | Graffiti | Amazon (Kindle)

Junie boek van die maand: Wierook van verlange deur Annelize Morgan

Wierook van verlange deur Annelize Morgan is NB-Liefdesverhale se Junie boek van die maand:

Dit is die agtiende eeu in Frankryk. Al wat Liliane Beaudelaire van haar ouers het, is ’n hangertjie met ’n onverstaanbare inskripsie en ’n brief waarin haar pa verduidelik dat hy in Arabië na Liliane se ma gaan soek om haar na Frankryk terug te bring. Hy het egter nooit weer sy verskyning gemaak nie en Liliane het in die weeshuis grootgeword.

Toe ene monsieur Laurent vir die twintigjarige Liliane ’n werk in sy huishouding in Arabië aanbied, gryp sy die kans om na die land te gaan waar haar ouers hul moontlik bevind. Maar in Arabië beskuldig die forse sjeik Dawud vir Laurent daarvan dat hy ’n slawehandelaar is en Liliane maak die angswekkende ontdekking dat haar nuwe werkgewer inderdaad beplan om haar as die slavin Farhah te verkoop.
Durf sy hoop dat die enigmatiese sjeik Dawud haar sal help? En wat weet hy omtrent haar ware identiteit?

’n Historiese liefdesverhaal deur die immergewilde skrywer Annelize Morgan, propvol avontuur en hartstog.

Oor die skrywer:

Annelize Morgan is ’n ou hand wat liefdesverhale betref. Sy het meer as 40 titels agter haar naam en is bekend vir haar verhale vol spanning en intrige, asook verhale wat in die woestyn afspeel. Sy en haar man woon op Ladismith.

Koop dit nou!  MySubs | Raru | Loot | Graffiti | Amazon (Kindle)

Luister na Malene Breytenbach se onderhoud op RSG Skrywers en Boeke

Malene Breytenbach is een van Afrikaans se mees bedrewe skrywers met meer as 30 liefdesverhale en 6 romans op haar kerfstok. Sy het onlangs op RSG se Skrywers en Boeke-program met Suzette Kotzé-Myburgh gesels oor haar skryfwerk.

Sy beantwoord onder meer die volgende vrae:

  • Wat is die verskil tussen ’n romanse en ’n roman?
  • Waar kom haar skryflus vandaan?
  • Hoe lyk haar skryf-werkswyse?
  • Waar kom haar storietemas vandaan?
  • Hoe vind haar studies neeslag in haar werk?
  • Wat is die moeilikste van skryf?
  • Hoe doen sy haar navorsing?

Die onderhoud begin by 5:40. Luister na die potgooi:

 

(Of luister op RSG )


Van sorg na liefde deur Malene Breytenbach was NB-Liefdesverhale se Mei boek van die maand. 

Koop dit nou!  Raru | Graffiti Takealot (eboek) | Amazon (eboek) |