Nuut: Helene de Kock Keur 2

“Strome water kan die liefde nie blus nie, riviere kan dit nie afkoel nie.”

Hierdie drie liefdesverhale sluit by mekaar aan, en bevestig opnuut Helene de Kock se fyn vermoë om ingewikkelde persoonlike verhoudings oop te skryf.

Man van kaliber is die verhaal van Jessica en haar uiteindelike ontdekking dat ’n mens se onvolmaaktheid juis sy menslikheid openbaar. Sy ontmoet vir Karel en Kiewiet, sien weer haar ou liefde, Daniël. Maar watter een het werklik “kaliber”?

In Vrou van formaat is Danika vies vir mans: ’n vrou moet modelmooi wees of sy is niks in hul oë nie. Van kleins af stry sy teen dié onregverdigheid. En sedert daardie traumatiese aand in Frankryk, het “mooi” vir haar finaal ’n vloekwoord geword!

Mense van faam gaan oor tweelingsusters. Debora, die koel advokaat, reken die Mynhards is net ’n klomp snobs. Die sprankelende Diana wil egter graag deel word van dié wynboer-clan, en Debora word teen haar wil ook ingetrek. Maar sy besef vinnig dat daar meer agter dié familie skuil as slegs ’n naam.

Koop dit nou! Raru | Takealot | MySubs (digitaal) | CNA | Amazon Kindle | Van Schaik | Graffiti 

Oor die skrywer:

Helene de Kock het aan die Rand grootgeword, aan die Universiteite van Pretoria en Noordwes gestudeer, en aan verskeie konservatoria onderrig in sang ontvang. Helene het ’n PhD in skryfkuns. Sy skryf voltyds en woon in Pretoria. Daar het reeds talle romans uit haar pen verskyn.

Nuut: Schalkie van Wyk Keur 14

Schalkie van Wyk Keur 14 bevat twee lieflike romantiese verhale deur een van ons land se mees bedrewe skrywers:

Beminde vreemdeling: Wiandri Rosseau is pas gekwalifiseer as hospitaalsuster. Sy keer terug na haar geliefde plattelandse Huis Groeneweide, waar haar bejaarde tant Lerina en dié se geliefde huishoudster, tant Grietjie, haar gretig inwag. Die stroewe nutsman Floors bly ook nou op Groeneweide. Wiandri se peetma staan egter uiters wantrouig teenoor Floors. Waarom dink Christelle Floors is so gevaarlik? Wie ís hy nou eintlik?

Ruiter van my drome: Zandri was sewe jaar lank weg van Wyedraai. Die dorpie gons nou behoorlik: Hier kom sy aangery in ’n gekrokte viertrekvoertuig, en ’n gesiene familie van die dorp het haar in Londen aangetref met ’n kind . . . háár kind buite die eg, het sy kwansuis vir hulle gesê. Ou vriende kyk Zandri nou met afkeer aan en Ferdinand, haar tienerliefde, het baie verander. Kan sy hoop om mee te ding met die vrou uit sy verlede, die een wat volgens sy tant Ragie Ferdinand se hart gebreek het en hom vir ander vroue ruïneer het? En wat tog van die kind?

Koop dit nou! Takealot | CNA | Raru | Van Schaik | Graffiti | MySubs (digitaal)

Oor die skrywer:

Schalkie van Wyk woon in Johannesburg. Toe sy laas getel het, het daar reeds oor die honderd liefdesverhale uit haar pen verskyn.

November boek van die maand: Geliefde heler deur Malene Breytenbach

Geliefde heler deur Malene Breytenbach is on November boek van die maand:

Die briljante chirurg Geert Bouwman kom vir ’n paar maande op Stellenbosch locum. Maar die Nederlander is nie ’n maklike mens nie en teatersuster Naomi Roux is nie op haar mond geval wanneer sy dink dat iemand onredelik optree nie.

Dis ook nie haar verantwoordelikheid om na hom om te sien terwyl hy in sy tante se huis woon nie. Sy huur tog net die woonstel en ateljee by tant Merel. Hy’t tog gekies om sy ouers en moeilike verloofde saam te bring. Boonop het ondervinding haar allergies gemaak vir sulke gevaarlik aantreklike mans soos Geert Bouwman.

Naomi is uiters versigtig ná die seer wat sy moes oorkom toe haar verhouding met Charl op die rotse beland het. Maar Geert en Naomi is gedurig in mekaar se geselskap en hulle werk goed saam. Hoe kan sy onbetrokke staan teenoor ’n man soos dokter Geert Bouwman? Boonop gooi die charismatiese kunstenaar David Schonfeld behoorlik sy flikkers vir Naomi en Geert se verloofde, Daphne, is gevaarlik jaloers en besitlik.

Koop dit nou! Takealot | Raru | Loot | MySubs (digitaal) | Amazon Kindle

Oor die skrywer:

Dr. Malene Breytenbach het drie meestersgrade, asook ’n doktorsgraad in joernalistiek. Sy en haar man woon op Stellenbosch. Malene skryf sedert 2009 heeltyds en het verskeie liefdesverhale op haar kerfstok, sowel as die gewilde romans Gister is ’n ver land, Pluimprinse en Bloedgrond.