Elza Rademeyer gesels oor Tweede kans op liefde

Elza Rademeyer is die skrywer van ons Maart boek van die maand. Ons het met haar gesels oor Tweede kans op liefde:

1. Mynhard en Tessa is gewone mense. Nie een van die twee is te ryk of te mooi nie. Het jy uit die staanspoor besluit dat jou held en heldin meer “normaal” moet wees?

“Die eerste vraag is maklik om te beantwoord. Ek is ʼn gewone mens, so dis maar hoekom my karakters gewone mense is. Ek moet my met hulle kan vereenselwig. Wat die ‘looks’ betref: Is dit nie maar jou karakter wat van jou ʼn mooi of lelike mens maak nie? Die uiterlike is vir my van minder belang, maar die leser wil darem ook nie hê jou hoofkarakters moet onaansienlik wees nie! So ek tooi hulle maar so ʼn bietjie op. Eintlik kry my karakters maar so na gelang van die storie se verloop eers gestalte. Ek het self nie ʼn idee hoe hulle gaan lyk wanneer ek begin skryf nie. (Seker oor ek nooit vooraf ʼn opsomming maak nie. Ook nie vooraf weet hoe my storie gaan ontplooi om ʼn gelukkige einde te hê nie. Al wat ek weet, is dat daar ʼn man en meisie moet wees wat mekaar na vele wedervaringe vind.)”

2. Die plaas Koppie-alleen bestaan nie werklik nie, of hoe? Is dit vir jou makliker of is dit ’n groter uitdaging om oor ’n plek soos dit te skryf?

“Ek weet van ʼn plaas met die naam Koppie-alleen, maar die enigste ooreenkoms tussen hom en die plaas van my boek, is die naam. Die plaas in my boek, is meer geskoei op die plaas waarop ek grootgeword het. Dit is ook wat dit vir my makliker maak, as om bv. oor ʼn dorp of stad te skryf wat ek nie ken nie.”

3. Magriet Nel, een van die karakters, is ’n mislike mens. Minette is ’n baie aangename mens. Hoe besluit jy watter tipe karakters by jou storie betrek gaan word?

“Al die karakters in ʼn storie kan nie net aangenaam of net mislik wees nie. Dit sal te eentonig wees. Ek besluit ook nie vooraf oor hulle nie, ek tel hulle maar op wanneer hulle op my storie-pad verskyn, en besluit dan watter rol hulle gaan speel. Meesal om humor in te bring. ʼn Storie sonder humor is vir my soos koek sonder ‘icing’.”

4. Dink jy ’n mens kan vinnig weet of iemand ’n goeie lewensmaat sal wees? Of moet jy juis so lank as moontlik die kat uit die boom kyk?

“Ek het eerstehandse kennis van liefde met die eerste oogopslag. Ek en my man het mekaar 3 maande geken, toe raak ons verloof, en 3 maande later is ons getroud. Mekaar ook nie eens elke dag gesien nie, net naweke. Dis nou 53 jaar later en ons is steeds gelukkig getroud. Maar nou weet ek ook enigeen kan ʼn oordeelsfout begaan, soos Tessa. So ek dink dis belangrik dat verliefdes mekaar se ouers en vriende ontmoet. Dit, meer as enigiets anders gaan jou vertel met wie jy te doen het.”

Koop die boek nou by jou naaste Bargain Books of aanlyn by:
Takealot
Raru
Loot
MySubs (digitaal)
Amazon Kindle (digitaal)

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

w

Connecting to %s