Luné Olivier gesels oor Liefde onbeperk

Luné Olivier is die skrywer van ons Oktober boek van die maand. Ons het met haar gesels oor Liefde onbeperk:

  1. Liefde onbeperk is ’n wonderlike liefdesverhaal wat die leser tot op die laaste bladsy boei. Vanwaar die vonk vir hierdie storie?

Glo dit of nie, maar ek het een oggend wakker geskrik met ’n droom – die volle inleiding het soos ’n openbaring gevoel en my debuutroman het vorm gekry. Ek het gedink dat ek liewer in ’n veilige veld moet speel en die res van die boek is gebaseer op dit waarvan ek kennis het – ek werk vir  ’n maatskappy waarin ek met finansies en ouditeurs te doen kry.

  1. Lelanie Ferris en Dian Bergh is nie een op hul mond geval nie; lekker skerpsinnig – tog is hulle ook baie sensitief. Was dit ’n doelbewuste besluit? En hoe het jy die balans gehandhaaf?

Ek dink dit het net onbewustelik deurgeskemer. Ek is ’n sensitiewe persoon en my man is die skerpsinnige terggees. Die finansiële wêreld kan soms maar ’n vervelige en koue plek wees – as die skerpsinnigheid en sensitiwiteit nie deurgeskemer het in die boek nie, sou die leser dit maar bra vervelig gevind het.

  1. Die karakters se paaie kruis op ’n baie humoristiese wyse. Hoe belangrik is dit om ’n mens se sin vir humor in verhoudings te behou?

Behalwe dat mens verhoudings ernstig moet opneem, moet daar ook passie en lawwigheid wees. Jy moet die verhoudings (asook die lewe) waarin jy is geniet! Humor is vir my ’n belangrike stres-ontlaaier en -afleier.  As ’n mens die humor in ’n situasie kan raaksien werk dit soos ’n weerligafleier in ’n moontlik-plofbare situasie.

  1. Daar is ’n aantal misverstande in Liefde onbeperk. Jy kry dit tog so goed reg om elke misverstand op ’n baie geloofwaardige wyse deel van die verhaal te maak. Het jy vooraf ’n raamwerk geskets en die res van die storie daarvolgens ingekleur?

Misverstande is deel van die lewe en verhoudings. Elke misverstand het ‘n oorsaak en gevolg in daardie verhouding en selfs op mense buite daardie verhouding. Ek moes die misverstande goed deurdink en seker maak dat dit betekenisvol vir die verhaal is. Sommige misverstande het op ’n natuurlike manier uit die verhaalgebeure gespruit – sommiges moes ek “beplan” as ’n gevolg van voorafgaande misverstande.

  1. Vertel ons van jou skryfproses – waar, wanneer, vir hoe lank, het jy enige rituele?

My droom (letterlik) om te skyf was aanvanklik ’n langdurige proses, maar my inspirasie was op sy beste in die tye wanneer my man in die buiteland gewerk het en my kleuter in droomland verkeer. Terwyl ek skryf, word ek weggevoer na ’n ander plek en as ek my weer kon kry, is die nag amper daarmee heen!

  1. As inspirasie laag daal, waar gaan soek jy die muse? Of is die muse ’n mite?

Muse is volgens my ’n mite. As die inspirasie daal, is dit vir my ‘n teken dat ek die verhaal – en my brein – eers ‘n ruskans moet gee.  Ek skryf wanneer die inspirasie my beetpak, maar as die idees eers vlamvat, is daar geen keer aan die skryfproses nie – ek is reeds besig met ’n volgende liefdesverhaal wat hopelik volgende jaar deur NB-Uitgewers op die rake sal verskyn.

  1. Laastens, watter boeke het jy onlangs gelees wat jy vir lesers kan aanbeveel?

Ek is ’n groot aanhanger van Elsa Winckler se liefdesverhale. Dit was ’n groot voorreg om as opvolger na haar te wees as NB-Uitgewers se skrywer van die maand. Ek kan regtig Omdat jy jy is aanbeveel.


Koop Liefde onbeperk nou! Takealot Loot 
Raru | Amazon (kindle) | MySubs (digitaal)

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s