Lees ’n uittreksel uit Liefde onbeperk deur Luné Olivier

Liefde onbeperk deur Luné Olivier is ons Oktober boek van die maand:

Lelanie Ferris wil nie ’n romanse aanknoop tydens haar vakansie in die Kaap nie. Maar Dian Bergh toor behoorlik met haar sintuie. Is sy reg om aan te beweeg ná ’n groot ontnugtering? Wie is die blondine wat om elke hoek en draai Dian se aandag probeer trek? En watter rol speel hy in ’n saak van korrupsie wat haar firma moet ondersoek?

Hier is ‘n uittreksel as proestukkie uit hierdie heerlike liefdesroman:


Lelanie stap seelangs met ’n groot sonhoed op haar kop, haar kamera in sy slingertas oor haar skouer. Die son streel warm oor haar vel. Clifton het darem die mooiste strande.

Haar susters dink sy is simpel om alleen te kom vakansie hou, maar sy geniet dit. Afgesien van Rozanne, ken sy niemand in die Kaap nie. En sy het nou die aand net saam met haar universiteitsvriendin gaan kuier omdat dit ongeskik sou wees om nie by haar ’n draai te gemaak het nie. Eintlik wil sy alleen wees.

Sy glimlag. Hulle drie sussies is baie verskillend, maar sy is baie lief vir hulle. As sy klaar vakansie gehou het, moet sy weer by hulle elkeen ’n draai gaan maak: By haar ousus Landie op Potch, by kleinsus Leonie in Johannesburg en by haar ouers in Pietermaritzburg. Maar eers het sy dié wegbreek alleen bitter nodig gehad. Haar hond Raffie se dood het ou wonde weer oopgekrap. Sy het nie net ’n wonderlike maat verloor nie, maar dit was ook die laaste band wat sy met Geoffrey gehad het. Hulle het Raffie nog saam gekoop terwyl hulle verloof was.

Hartseer wil-wil haar oorval, maar ’n hond se geblaf ruk haar terug na die werklikheid. Sy kyk hoe ’n bejaarde egpaar met hul hond verbystap. Sy neem ’n paar foto’s van die strand totdat sy tevrede is dat sy die skoonheid daarvan vasgevang het.

Toe sy weer naby die gastehuis kom, hoor sy die gedreun van stemme soos die mense in die vol restaurant gesels. Die glasdeure staan oop en sy kan binnetoe kyk.

Daar is hy . . . Dian! Die fris geboude man wat haar vanoggend in sy sterk arms vasgehou het.

Hy is diep in gesprek met ’n mooi vrou in ’n snyerspakkie, met ’n moderne, vierkantige bril en kort blonde hare, netjies gestileer. Haar klokhelder lag klink op saam met sy lae, diep ene.

Sy weet nie hoe lank sy na hulle gestaan en staar het nie, maar die volgende oomblik kyk hy reguit in haar rigting. Sy glimlag verleë, maar kan haarself nog nie sover kry om weg te kyk nie.

Die blondine raak aan sy arm om sy aandag weer te kry.

Met brandende wange begin Lelanie vinnig aanstap. Nes sy gedink het. Die vent het ’n meisie en hy nooi haar sowaar uit om saam met hom lepel te lê!

Hoekom sou sy hoegenaamd omgee? Tannie Rosa het gesê hy vertrek vanoggend. Sy moet van hom vergeet en haar welverdiende vakansie geniet. Sy gaan net gou terug kamer toe, dan wil sy bo-op Tafelberg ’n glasie eg Kaapse wyn gaan drink.

Die berg bied ’n asemrowende uitsig oor stad en see. Lelanie probeer haar bes om dit met haar kamera vas te vang, maar niks kan reg aan die oorweldigende atmosfeer laat geskied nie. Die wêreld aan jou voete. Rus vir ’n mens se siel sodat jy weer vir alles kans sien. Eers na ’n pitabroodjie en ’n glasie koel witwyn stap Lelanie tydsaam terug na die stasie van die kabelkarretjie. Nou kan sy ook sê sy was bo-op Tafelberg. Terug op die grond, klim sy in die gehuurde motor en vleg dan deur die middagverkeer na Charla’s toe.

Op pad na haar kamer bewonder sy eers weer die uitsig. Sy sal sowaar aan hierdie plek verslaaf kan raak. Toe sy by kamer 106 verbyloop, sien sy dat die ses reggemaak is.

Wat sy nou nodig het, is ietsie koels vir die keel en lyf. Vandag is die dag dat sy die gastehuis se privaat swembad op die proef gaan stel om haar in die warm Februarie-son af te koel. Skaars minute later is sy gereed met ’n handdoek in die hand en haar strandsak, met sonroom, haar sonbril en ’n boek, oor haar skouer.

Sy bestel ’n cocktail vanaf die restaurant. Hoekom nie?

Drankie omhoog in haar een hand, klim sy in die swembad.

Sjoe, die weerkaatsing van die son op die water is byna verblindend. Sy moet regtig maar haar sonbril opsit. Sy klim weer uit om dit in haar strandsak op die lêstoel te gaan haal, maar toe sy opkyk, staan hy voor haar: die man met wie sy per ongeluk ’n bed gedeel het.

Wat maak hy nog hier?

Hy kom nader. “Dit is nou ’n verrassing. Ek het gewonder waarmee jy jou die hele dag besig gehou het.”

Aarde sluk my in! Sy het nie gedink sy sal hom weer sien nie.

“Ek, uhm, ek was op Tafelberg. Ek dog jy teken vandag uit?” Lelanie klink meer kortaf as wat sy bedoel het, want sy kan die man nie in die oë kyk nie.

“Omstandighede buite my beheer,” antwoord hy in daardie diep, lui stem.

Sy ruk haar reg en kyk hom vierkantig in die oë. In die daglig lyk hy selfs aantrekliker en sy oë groener as vroeër vanoggend. Dit ontsenu haar van voor af.

Hy kyk haar goedkeurend op en af.


Koop dit nou! Takealot Loot Raru Amazon (kindle) | MySubs (digitaal)

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s