Luné Olivier gesels oor Liefde onbeperk

Luné Olivier is die skrywer van ons Oktober boek van die maand. Ons het met haar gesels oor Liefde onbeperk:

  1. Liefde onbeperk is ’n wonderlike liefdesverhaal wat die leser tot op die laaste bladsy boei. Vanwaar die vonk vir hierdie storie?

Glo dit of nie, maar ek het een oggend wakker geskrik met ’n droom – die volle inleiding het soos ’n openbaring gevoel en my debuutroman het vorm gekry. Ek het gedink dat ek liewer in ’n veilige veld moet speel en die res van die boek is gebaseer op dit waarvan ek kennis het – ek werk vir  ’n maatskappy waarin ek met finansies en ouditeurs te doen kry.

  1. Lelanie Ferris en Dian Bergh is nie een op hul mond geval nie; lekker skerpsinnig – tog is hulle ook baie sensitief. Was dit ’n doelbewuste besluit? En hoe het jy die balans gehandhaaf?

Ek dink dit het net onbewustelik deurgeskemer. Ek is ’n sensitiewe persoon en my man is die skerpsinnige terggees. Die finansiële wêreld kan soms maar ’n vervelige en koue plek wees – as die skerpsinnigheid en sensitiwiteit nie deurgeskemer het in die boek nie, sou die leser dit maar bra vervelig gevind het.

  1. Die karakters se paaie kruis op ’n baie humoristiese wyse. Hoe belangrik is dit om ’n mens se sin vir humor in verhoudings te behou?

Behalwe dat mens verhoudings ernstig moet opneem, moet daar ook passie en lawwigheid wees. Jy moet die verhoudings (asook die lewe) waarin jy is geniet! Humor is vir my ’n belangrike stres-ontlaaier en -afleier.  As ’n mens die humor in ’n situasie kan raaksien werk dit soos ’n weerligafleier in ’n moontlik-plofbare situasie.

  1. Daar is ’n aantal misverstande in Liefde onbeperk. Jy kry dit tog so goed reg om elke misverstand op ’n baie geloofwaardige wyse deel van die verhaal te maak. Het jy vooraf ’n raamwerk geskets en die res van die storie daarvolgens ingekleur?

Misverstande is deel van die lewe en verhoudings. Elke misverstand het ‘n oorsaak en gevolg in daardie verhouding en selfs op mense buite daardie verhouding. Ek moes die misverstande goed deurdink en seker maak dat dit betekenisvol vir die verhaal is. Sommige misverstande het op ’n natuurlike manier uit die verhaalgebeure gespruit – sommiges moes ek “beplan” as ’n gevolg van voorafgaande misverstande.

  1. Vertel ons van jou skryfproses – waar, wanneer, vir hoe lank, het jy enige rituele?

My droom (letterlik) om te skyf was aanvanklik ’n langdurige proses, maar my inspirasie was op sy beste in die tye wanneer my man in die buiteland gewerk het en my kleuter in droomland verkeer. Terwyl ek skryf, word ek weggevoer na ’n ander plek en as ek my weer kon kry, is die nag amper daarmee heen!

  1. As inspirasie laag daal, waar gaan soek jy die muse? Of is die muse ’n mite?

Muse is volgens my ’n mite. As die inspirasie daal, is dit vir my ‘n teken dat ek die verhaal – en my brein – eers ‘n ruskans moet gee.  Ek skryf wanneer die inspirasie my beetpak, maar as die idees eers vlamvat, is daar geen keer aan die skryfproses nie – ek is reeds besig met ’n volgende liefdesverhaal wat hopelik volgende jaar deur NB-Uitgewers op die rake sal verskyn.

  1. Laastens, watter boeke het jy onlangs gelees wat jy vir lesers kan aanbeveel?

Ek is ’n groot aanhanger van Elsa Winckler se liefdesverhale. Dit was ’n groot voorreg om as opvolger na haar te wees as NB-Uitgewers se skrywer van die maand. Ek kan regtig Omdat jy jy is aanbeveel.


Koop Liefde onbeperk nou! Takealot Loot 
Raru | Amazon (kindle) | MySubs (digitaal)

Lees ’n uittreksel uit Liefde onbeperk deur Luné Olivier

Liefde onbeperk deur Luné Olivier is ons Oktober boek van die maand:

Lelanie Ferris wil nie ’n romanse aanknoop tydens haar vakansie in die Kaap nie. Maar Dian Bergh toor behoorlik met haar sintuie. Is sy reg om aan te beweeg ná ’n groot ontnugtering? Wie is die blondine wat om elke hoek en draai Dian se aandag probeer trek? En watter rol speel hy in ’n saak van korrupsie wat haar firma moet ondersoek?

Hier is ‘n uittreksel as proestukkie uit hierdie heerlike liefdesroman:


Lelanie stap seelangs met ’n groot sonhoed op haar kop, haar kamera in sy slingertas oor haar skouer. Die son streel warm oor haar vel. Clifton het darem die mooiste strande.

Haar susters dink sy is simpel om alleen te kom vakansie hou, maar sy geniet dit. Afgesien van Rozanne, ken sy niemand in die Kaap nie. En sy het nou die aand net saam met haar universiteitsvriendin gaan kuier omdat dit ongeskik sou wees om nie by haar ’n draai te gemaak het nie. Eintlik wil sy alleen wees.

Sy glimlag. Hulle drie sussies is baie verskillend, maar sy is baie lief vir hulle. As sy klaar vakansie gehou het, moet sy weer by hulle elkeen ’n draai gaan maak: By haar ousus Landie op Potch, by kleinsus Leonie in Johannesburg en by haar ouers in Pietermaritzburg. Maar eers het sy dié wegbreek alleen bitter nodig gehad. Haar hond Raffie se dood het ou wonde weer oopgekrap. Sy het nie net ’n wonderlike maat verloor nie, maar dit was ook die laaste band wat sy met Geoffrey gehad het. Hulle het Raffie nog saam gekoop terwyl hulle verloof was.

Hartseer wil-wil haar oorval, maar ’n hond se geblaf ruk haar terug na die werklikheid. Sy kyk hoe ’n bejaarde egpaar met hul hond verbystap. Sy neem ’n paar foto’s van die strand totdat sy tevrede is dat sy die skoonheid daarvan vasgevang het.

Toe sy weer naby die gastehuis kom, hoor sy die gedreun van stemme soos die mense in die vol restaurant gesels. Die glasdeure staan oop en sy kan binnetoe kyk.

Daar is hy . . . Dian! Die fris geboude man wat haar vanoggend in sy sterk arms vasgehou het.

Hy is diep in gesprek met ’n mooi vrou in ’n snyerspakkie, met ’n moderne, vierkantige bril en kort blonde hare, netjies gestileer. Haar klokhelder lag klink op saam met sy lae, diep ene.

Sy weet nie hoe lank sy na hulle gestaan en staar het nie, maar die volgende oomblik kyk hy reguit in haar rigting. Sy glimlag verleë, maar kan haarself nog nie sover kry om weg te kyk nie.

Die blondine raak aan sy arm om sy aandag weer te kry.

Met brandende wange begin Lelanie vinnig aanstap. Nes sy gedink het. Die vent het ’n meisie en hy nooi haar sowaar uit om saam met hom lepel te lê!

Hoekom sou sy hoegenaamd omgee? Tannie Rosa het gesê hy vertrek vanoggend. Sy moet van hom vergeet en haar welverdiende vakansie geniet. Sy gaan net gou terug kamer toe, dan wil sy bo-op Tafelberg ’n glasie eg Kaapse wyn gaan drink.

Die berg bied ’n asemrowende uitsig oor stad en see. Lelanie probeer haar bes om dit met haar kamera vas te vang, maar niks kan reg aan die oorweldigende atmosfeer laat geskied nie. Die wêreld aan jou voete. Rus vir ’n mens se siel sodat jy weer vir alles kans sien. Eers na ’n pitabroodjie en ’n glasie koel witwyn stap Lelanie tydsaam terug na die stasie van die kabelkarretjie. Nou kan sy ook sê sy was bo-op Tafelberg. Terug op die grond, klim sy in die gehuurde motor en vleg dan deur die middagverkeer na Charla’s toe.

Op pad na haar kamer bewonder sy eers weer die uitsig. Sy sal sowaar aan hierdie plek verslaaf kan raak. Toe sy by kamer 106 verbyloop, sien sy dat die ses reggemaak is.

Wat sy nou nodig het, is ietsie koels vir die keel en lyf. Vandag is die dag dat sy die gastehuis se privaat swembad op die proef gaan stel om haar in die warm Februarie-son af te koel. Skaars minute later is sy gereed met ’n handdoek in die hand en haar strandsak, met sonroom, haar sonbril en ’n boek, oor haar skouer.

Sy bestel ’n cocktail vanaf die restaurant. Hoekom nie?

Drankie omhoog in haar een hand, klim sy in die swembad.

Sjoe, die weerkaatsing van die son op die water is byna verblindend. Sy moet regtig maar haar sonbril opsit. Sy klim weer uit om dit in haar strandsak op die lêstoel te gaan haal, maar toe sy opkyk, staan hy voor haar: die man met wie sy per ongeluk ’n bed gedeel het.

Wat maak hy nog hier?

Hy kom nader. “Dit is nou ’n verrassing. Ek het gewonder waarmee jy jou die hele dag besig gehou het.”

Aarde sluk my in! Sy het nie gedink sy sal hom weer sien nie.

“Ek, uhm, ek was op Tafelberg. Ek dog jy teken vandag uit?” Lelanie klink meer kortaf as wat sy bedoel het, want sy kan die man nie in die oë kyk nie.

“Omstandighede buite my beheer,” antwoord hy in daardie diep, lui stem.

Sy ruk haar reg en kyk hom vierkantig in die oë. In die daglig lyk hy selfs aantrekliker en sy oë groener as vroeër vanoggend. Dit ontsenu haar van voor af.

Hy kyk haar goedkeurend op en af.


Koop dit nou! Takealot Loot Raru Amazon (kindle) | MySubs (digitaal)

Nuut: Melodie Omnibus 2

Drie uitsonderlike liefdesverhale word in Melodie Omnibus 2 saamgevat:

Volbloedvrou vir ’n vaalseun deur Babsie Jacobs: Fransien de Swardt woon haar skoolreünie om slegs twee redes by: ná tien jaar wil sy die spoke van die verlede besweer en haar metamorfose van armlastige spoorwegkind na suksesvolle sakevrou onder ’n paar mense se neus vryf. Spesifiek mense soos Tessa de Villiers en Chris de Wet. Maar as Fransien vooraf geweet het sy gaan betrek word by ’n intrige van moord en ou geheime, sou sy twee maal gedink het voor sy die pad na haar tuisdorp aangepak het. Om alles te kroon moet sy ook nog rekening hou met kaptein Jans Jansen, die hoofondersoekbeampte in die moordsaak. Want onverwags en onverklaarbaar bevind Fransien haar in die posisie van hoofverdagte . . .

Dis mooiweer en liefde deur Wilmarí Jooste: Nadat Menantheau le Clerque se verhouding met dokter Kobus Kruger op die rotse geloop het, bepaal sy haar net by haar werk as bibliotekaresse. Haar lewe word egter onverwags in ’n heel nuwe rigting gestuur die aand toe sy Nick Bender ontmoet. Dié groot man met sy onwrikbare trots oorrompel haar totaal, en dit wil voorkom asof hulle verhouding blom. Maar toe Nick in ’n ernstige motorongeluk betrokke is, vind Menantheau tot haar skok dat Kobus sy dokter is – en dis duidelik dat hy haar nog glad nie vergeet het nie. By hom ervaar sy die rustigheid wat Nick haar nooit kon gee nie. Maar Kobus is nie bereid om altyd in Nick se skaduwee te staan nie . . .

My liefling is ’n wolkeman  deur Maretha Maartens: Kwaai Sias de Wet van Petrusburg in die Vrystaat het ses dogters, maar die een wat hom die grootste kopsere gee, is die pragtige blonde Anke. Sy is net sewentien en diep gekys met Braam Venter, nege jaar ouer as sy en ’n lugvaarttegnikus in Dublin, Ierland. Toe Braam ’n vliegtuigkaartjie stuur sodat Anke kan kom kuier, moet Isabella, die verantwoordelike oudste suster, saamgaan as chaperone. Isabella, so reken Sias, stel tog net belang in haar musiekstudie. Maar toe Isabella die Ier Adrian Mimnagh ontmoet, is haar voete heel onder haar uit. Hulle naweekkuier by Adrian se gesin in Omagh lewer ’n hele paar verrassings op – soos sy gewese meisie, Aibhilin. En dié, kom Isabella agter, wil Adrian tot elke prys terughê.

Koop dit nou! Takealot | Graffiti | Raru | Loot | MySubs (digitaal) | Amazon Kindle

Nuut: Ena Murray Keur 15

Drie van Ena Murray se heel beste liefdesverhale word in Ena Murray Keur 15 saamgebind:

​Die pad terug huis toe​: ’n Grusame motorbotsing laat Karina Oosthuizen, gesogte en pragtige topmodel, blind en verlam agter, en skielik is sy weer totaal afhanklik van haar weduwee-moeder wat sy al byna afgesterf het. Sy, wat daarna gestrewe het om heel bo uit te kom, moet aanvaar dat sy net een heenkome het – die pad terug na die armsalige skakelhuisie waarop sy so neergesien het. Dan, onverwags, is daar iemand wat haar en haar moeder ’n toevlug bied na ’n pragtige wit huis by die see – perfek ingerig vir ’n persoon in ’n rolstoel. Maar sal Karina hierdie aanbod aanvaar as sy moet weet wie dié weldoener is?

​’n Vrou soos Salome​: Salome Truter, sanger van formaat, verleen glans aan elke geleentheid waar sy optree, hetsy op die verhoog of by ’n rykmansparty. Toe die joernalis Jaco Retief tydens so ’n partytjie verveeld tussen die kunstenaars en snobistiese ondersteuners van die kunste ronddwaal, sien hy haar eenkant sit. ’n Vreemde weerloosheid in haar andersins gesofistikeerde houding val hom op. Impulsief nooi hy haar vir ete, en dis teenoor hóm dat Salome vir die eerste keer openhartig oor haar persoonlike lewe praat, en laat blyk dat dit nie altyd so glansryk was nie. Hy besef sy eerste indruk was reg: onder die betowering van haar openbare beeld skuil daar oneindige
hartseer . . .

Die vrou in die spieël​​: Sy word wakker uit ’n oneindige diep slaap en voel totaal gedisoriënteer; herken nie eens die kamer waarin sy haar bevind nie. Niks, selfs nie die hande waarop sy afkyk, is háre nie, en  die vrou wat uit die spieël na haar terugkyk, is nie sy nie. Maar hoe sy behoort te lyk, kan sy ook nie sê nie, want skielik ontdek sy sy kan niks, absoluut niks onthou nie. En toe ’n lang, aantreklike man skielik die kamer binnestap, haar opraap en weer op die bed gaan neerlê met die streng vermaning dat sy moet rus, vou iets soos angs om haar toe, want hy noem haar Ansie, ’n naam wat sy in haar diepste wese wéét nie hare is nie . . .

Koop dit nou! MySubs Raru Loot Graffiti Amazon (Kindle)

Oor die skrywer:

Ena Murray is op die klein Karoodorpie Loxton gebore, die middelste van drie dogters. Haar pa was die plaaslike geneesheer, en dis hier waar haar groot belangstelling in die geneeskunde ontstaan het. Verskeie van haar verhale het dan ook ’n hospitaal as milieu. Sy het op Mosselbaai afgetree en is in Junie 2015 oorlede.

 

Oktober boek van die maand: Liefde onbeperk deur Luné Olivier

Liefde onbeperk deur Luné Olivier is ons Oktober boek van die maand:

Lelanie Ferris wil nie ’n romanse aanknoop tydens haar vakansie in die Kaap nie. Maar Dian Bergh met sy groen oë en sterk gestalte toor behoorlik met haar sintuie. Nou worstel Lelanie voortdurend met die vraag: Hoe op dees aarde gaan hulle nét vriende wees wanneer hulle voortdurend moet keer om hul lippe en hande van mekaar af te hou?

Maar wie is die blondine wat om elke hoek en draai Dian se aandag probeer trek? En is Lelanie werklik reg om aan te beweeg ná die groot ontnugtering wat sy moes oorleef? Sy het boonop onlangs ’n groot verlies gely en sien werklik nie kans om nóg pyn te ervaar nie.

Dit blyk dalk nie eens nodig te wees om al hierdie vrae te beantwoord nie, want haar firma ondersoek ’n saak van korrupsie en sy ken een van die beskuldigdes. Wat is Dian se betrokkenheid en het hy haar net heeltyd om die bos gelei?

Koop dit nou! Takealot | Loot | Raru | Amazon (kindle)MySubs (digitaal)

Oor die skrywer:

Luné Olivier (skuilnaam) het op ’n vroeë ouderdom die droomwêreld van lees ontdek en was op skool en universiteit die redaktrise van hierdie instansies se koerante. Sy en haar gesin woon in Gauteng. Luné hou van kuns, en wanneer sy met vakansie gaan, is dit met ’n paar liefdesverhale heelbo in die tas gepak! Liefde onbeperk is haar eerste boek.