Nuut: Annelize Morgan Omnibus 8

Drie van Annelize Morgan se beste verhale word in Annelize Morgan Omnibus 8 versamel:

​Wit roos van geluk

Geluk kom partykeer langs vreemde weë. Toe Rosalie se moeder haar lank gelede op oom Markus se stoep kom neerlê het, was daar ’n kort briefie en ’n wit roos by die baba.

Dit was ’n wit roos van geluk en haar moeder, wat nie meer lank sou lewe nie, soos Rosalie later ontdek het, het haar baba op die drumpel van haar toekomsgeluk kom neerlê, maar dit het Rosalie eers jare later besef – toe iemand anders ’n bos spierwit rose vir haar gebring het . . .

Maar voordat dít gebeur het, het Rosalie deur diep water gegaan, want oom Markus se suster Hanna en tant Hanna se kinders wou haar nie op die plaas hê nie, en die man wat sy liefgekry het en wat háár ook liefgehad het, sou nie met haar kon trou nie – sy skatryk pa sou nie toelaat dat sy enigste seun met ’n aangenome kind trou nie . . .

​Huis sonder liefde

Toe Nora Fouché in Pretoria aankom om ’n rukkie by haar vriendin, Isolde Keppler, te gaan kuier, het sy gedink sy gaan ’n welverdiende ruskansie geniet. Die oomblik dat sy egter oor die drumpel van die Kepplers se luukse huis stap, besef sy daar is iets verkeerd. Iets verskriklik verkeerd. Alles, vanaf die skildery waaruit Isolde se oorlede stiefmoeder die hele huishouding met beskuldigende oë dophou, tot die afsydige tuinier, Anton Vermeulen, is in ’n wolk van geheimsinnigheid gehul. En wanneer Isolde dan nog, gedurende ’n wilde jaagtog ná ’n bakleiery met haar verloofde, Stephen Wright, van haar perd afval en verlam uit die ongeluk kom, verdiep die geheim van die Keppler-huishouding nog erger.

Die naam Paul van der Hoff duik soos klokslag in elke fluistergesprek op. Paul van der Hoff, die enigste seun van Clara Keppler uit haar vorige huwelik. Paul van der Hoff wat meer as ’n dekade gelede diep in Afrika verdwyn het en nou, na al die jare, op pad terug is om sy regmatige deel van dit wat hom toekom te kom eis. Watter onverklaarbare houvas het Van der Hoff op Hans Keppler, Isolde se pa, dat hy selfs bereid is om sy verlamde dogter op te offer nét om die gehiemsinnige man te vermy. En watter houvas het die oënskynlik dierbare dokter Jameson, wat Isolde behandel, en sy handlanger verpleegster, Agnes Bennet, op Hans Keppler dat hy soos klei in hulle hande is? En bo alles, watter verskriklike geheim lê opgesluit in die verlore dagboek van Clara Keppler, die dagboek waarna almal sónaarstiglik soek.

Silwer drome

Oswald van Noordwyk, die tiran van Overkruin-landgoed, sterf voodat hy vir Verona alles omtrent haar verlede vertel. Onopgeloste kwessies spook nou by Verona: Hoe is haar ouers dood? Is hulle grafte werklik iewers in die Amasone? Wat is die oorsprong en betekenis van die hangertjie wat haar ouers aan haar nagelaat het?

Oswald van Noordwyk laat aan Verona ’n opdrag na: Vind Konrad. Hy het jare gelede in die woude van die Amasone verdwyn, maar moet nou oor Overkruin kom heers.

Verona besluit om Amasone toe te gaan op ’n tweeledige ekspedisie: Sy wil haar ouers se grafte gaan soek én sy wil haar jeugliefde, Konrad, opspoor. Sal hy haar nog onthou? Sal hy antwoorde op haar vrae hê?
Maar belangriker: Lewe hy nog?

Die geheimsinnige Vasques verskyn uit die niet om talle kere Verona se lewe te red. Sal die spanning van ’n emosionele tweestryd en talle ontberings egter sy tol eis?

Koop dit nou! Loot | Raru | Takealot | MySubs | Van Schaik 

Oor die skrywer:

Annelize Morgan is ’n ou hand wat liefdesverhale betref. Sy het meer as 40 titels agter haar naam en is bekend vir haar verhale vol spanning en intrige, asook verhale wat in die woestyn afspeel. Sy en haar man woon op Ladismith.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s