Lees ’n uittreksel uit Omdat jy jy is deur Elsa Winckler

Omdat jy jy is deur Elsa Winckler is ons September boek van die maand:

Kathleen en haar susters erf elk vyf miljoen rand van hul tante Peet, mits hulle elkeen ’n maand in haar huis op Greyton bly. Kathleen is eerste aan die beurt, maar sy het nie kon raai dat ’n mooi man met viooltjieblou oë die kothuis agter die huis sou huur nie. Gou broei meer as goeie buurmanskap tussen haar en Steyn Erasmus . . .

Lees ‘n uittreksel:


Sy doen haar bes om nie na sy bykans ontblote bolyf te kyk nie, maar die prentjie van ’n baie sexy six-pack gaan sy nog lank onthou.

“Steyn?” vra sy en raak versigtig aan sy arm. Hy voel warm. “Steyn!” roep sy en dié keer skud sy sy arm.

“Wat de hel?” kreun hy en laat sak sy arm. Sy oë is bloedbelope en die donker kringe onder sy oë meer prominent as gisteraand.

Sy druk ’n hand teen sy voorkop. Hy is vuurwarm. Leen is nie ’n dokter nie, maar sy het nie ’n mediese graad nodig om te weet die man het koors nie.

“Het jy pyn?” vra sy. “Het jy iets in jou sak wat jy kan drink?”

Hy staar verdwaas na haar.

“Ek is Kathleen. Jy is in die kothuis van my . . . agter die huis waar ek bly. Op Greyton?”

“Die mooi girl,” prewel hy, steek sy hand uit en vat aan haar poniestert wat oor haar skouer hang. Hy glimlag skeef. “Gedink dis sag.” Sy hand val terug en sy oë gaan weer toe.

Sy trek haar asem vinnig in en staan regop. Lawwe skoenlappers fladder op haar maag. Die man yl, hy dink seker sy is iemand anders. Die mooi girl? Sy is nie onaardig nie, maar beslis nie die tipe oor wie digters odes sal skryf nie. Ja-nee, hy verwar haar beslis met iemand anders.

“Steyn, het jy pille in jou sak?” vra sy weer, maar sy arm het weer oor sy oë geval.

Sy draai weg en gaan haal die sak op die stoep. Terug langs hom, rits sy die sak oop.

“Steyn, ek gaan in jou sak krap, oukei?” gesels sy terwyl sy soek na pille of iets wat soos medikasie lyk.

’n Selfoon lui. Dis nie hare nie. Kathleen staak haar soekery na die pille en kyk rond waar die foon is wat lui. Onder die bank waarop Steyn lê, kry sy die selfoon. Dit moes uit sy sak geval het toe hy op die bank gaan lê het.

Dis “Ma” wat bel. Sy huiwer net ’n oomblik voordat sy antwoord. Sy ma sal hopelik weet of hy pille het wat hy kan drink.

“Hallo,” groet sy.

Dis stil aan die ander kant van die foon.

“My naam is Kathleen Mulder. Is u mevrou Erasmus?”

“Ja,” sê ’n vrouestem onseker. “Ek het my seun probeer bel? Is hy oukei? Het iets met hom gebeur? Waar is hy?” Die stem klink al meer bekommerd met elke vraag.

“Hy huur die kothuis agter my tante . . . agter die huis waarin ek bly. Op Greyton?”

“Greyton? Hoekom sou hy soontoe gaan? Waar lê Greyton nou weer? Is hy oukei?”

Kathleen kyk af na waar Steyn nog doodstil lê.

“Greyton is in die Overberg, so ’n uur of wat uit Kaapstad. Ek . . . dink u seun is oukei, maar hy het dalk koors . . .”

“As ek my sonde nie ontsien nie!” roep die vrouestem aan die ander kant gefrustreer uit. “Tipies! Hy is deur twee operasies. Daai ellendige fiets van hom! Ek het voorgestel hy kom bly by my totdat hy weer op die been is, maar nee. Hy is so hardekwas. Gerard, sy goeie vriend en huisdokter, het gesê hy is ook heeltemal oorwerk en moet homself ’n maand kans gee om heeltemal te herstel. Maar wat doen hy? Klim met sy seer arm in ’n motor en ry na Timboektoe. Hy het nou wel ’n outomatiese motor, maar hoe stom-onnoselik kan ’n mens wees? Oe, mansmense maak my so kwaad, hulle . . .”

En die stem klim weer ’n paar oktawe terwyl sy mans se baie tekortkominge lys. Kathleen is nie heeltemal seker hoe om die situasie te hanteer nie. Wat sy wel weet, is dat die man voor haar so gou moontlik iets moet inkry vir sy koors.

“Mevrou Erasmus,” onderbreek sy die tirade. “Uhm, dis Greyton, nie Timboektoe nie. Ek wil in sy sak kyk of hy iets het vir koors. Ek . . . ek sal hom sê u het gebel.”

“Jy kan ook vir hom sê ek en die meisiekinders kom so gou moontlik. Ons ry van die Kaap af en ek is nie presies seker hoe lank dit gaan neem nie. Sal jy asseblief intussen kan kyk dat hy vloeistof inkry? Hy het so ’n stokou blou badkamersak van sy pa waaraan hy steeds vasklou, kyk of jy dit kry. Hy het baie swaar gekry ná my man se dood en . . . Ek dwaal al weer af. As hy enige medikasie by hom het, behoort dit daarin te wees. Ek sal in elk geval weer ’n voorskrif by die dokter kry. Ek moes geweet het daar is moeilikheid toe hy nie gister my oproep beantwoord nie. Hy stuur toe net ’n boodskap vir sy ma, bid jou aan.”

Kathleen kan nie help om te glimlag vir die vrou nie. Sy is baie verontwaardig en dis duidelik sy is baie betrokke by haar seun. Wie die “meisiekinders” is wat gaan saamkom, sal sy moet wag om te sien.


Omdat jy jy is deur Elsa Winckler is ons September boek van die maand.

Koop dit nou! MySubs | Takealot | Loot | Raru | Amazon (Kindle)

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s