Nuut: Hartklop Omnibus 3

Drie romantiese liefdesverhale wat teen ’n mediese agtergrond afspeel verskyn in Hartklop Omnibus 3. 

Heler van skade​ deur Malene Breytenbach: Lucinda O’Neill word ’n pos as pediater by die Wynland-kliniek vir Aansteeklike Siektes aangebied en dit bring ’n algehele ommekeer in haar lewe mee – en nie slegs op professionele gebied nie. Want hier ontmoet sy vir Werner Huber, ’n siviele ingenieur, wie se seun tydens ’n werkskontrak in Afrika ’n tropiese siekte opgedoen het. Wanneer hy die seuntjie na die kliniek bring, maak dit ’n groter impak op Lucinda se lewe as wat sy ooit kon voorsien het. En intussen maak die resiesjaer Edwin van Reenen, wat haar ken sedert hulle kinderdae in die weeshuis, aanspraak op haar vriendskap en liefde. Lucinda het haar nog altyd van liefdesverbintenisse weerhou; haar werk was haar erns. Maar in die Wynland-kliniek word sy verplig om keuses te maak – en meteens lyk haar pad vorentoe baie gekompliseerd.

Die dokter se geheime passie​ deur Rykie Roux: Janli Filmalter, ’n toegewyde mediese student in haar vyfde jaar, en dokter Christiaan Lombard ken mekaar al vandat sy ses en hy nege jaar oud was. Hulle ken ook mekaar se families goed – dalk té goed. Waarom haat Christiaan haar skatryk pa so? Sal hy Gé, haar losbol-broer, kan vergewe vir wat hy aan sy onskuldige kleinsus gedoen het? Maar die belangrikste: probeer Christiaan op die Filmaters wraak neem deur Janli te verlei?

Ontmoet my in Patong​ deur Madeleine Malherbe: Laura Els is glad nie baie gelukkig in die hospitaal waar sy verpleeg nie. Miskien is dit omdat haar kêrel, Braam, weg is Engeland toe. Of dalk is dit nog die nadraai van die tsoenami- gebeure. Wat ook al, Laura besluit om Engeland toe te gaan, na Braam toe. Maar voor dit wil sy eers terug Thailand toe vir ’n kort vakansie om deur die herinneringe van die tsoenami en haar tyd daar te werk. In Thailand ontmoet sy toevallig weer die Engelse sakeman, Francis, wie se lewe sy destyds gered het. Die aantrekkingskrag tussen hulle skryf Laura toe aan die feit dat sy hom destyds gered het. Natuurlik sal so iets mens nader aan mekaar bring! En sy is immers nog verlief op Braam. In Patong het die lewe egter sy eie loop . . .

Koop dit nou! CNA | Loot | Van Schaik |  Graffiti | Amazon (Kindle) | MySubs

Nuut: Ena Murray Keur 14

Drie van Ena Murray se heel beste liefdesverhale is in Ena Murray Keur 14 saamgebind: Weerklank van ons liefde’n Tyd om te ween en Die oujongnooi van Polkadraai.

Wanneer ’n wildvreemde meisie in Weerklank van ons liefde per ongeluk in dr. Rudolf van der Merwe se lewe – én sy woonstel, sy bed en sy slaapklere – beland, raak hy onherroeplik betrek by ’n tergende raaisel. Want dié naamlose meisie ly aan geheueverlies, en al leidraad is ’n koerantberig oor ’n onopgeloste moord waarvan die sleutelverdagte spoorloos verdwyn het . . .

Madie, noem Rudolf sy “nuwe vrou” (hy moet die skyn ter wille van sy reputasie bewaar) en hy weier om te glo sy kon haar stiefpa vermoor het. Maar waarom het sy gevlug? En vanwaar die duidelike tekens van aanranding aan haar liggaam? En die trouring aan haar vinger?

Net ’n groot skok sal haar verlede weer kan oopruk. En dis presies wat die verleidelike joernalis met die rooi kop, Catherine, besluit om te doen. Want sy wil Rudolf inpalm, al kos dit wat.

In ’n Tyd om te ween moet Paul Henning se hartaanval moet Rietspruit ‘n ander dokter kry. Maar Hybre, dokter Paul se dogter, vertrou nie die briljante dokter Ewald Waltmann nie. Wat kom soek so ‘n suksesvolle geneesheer op so ‘n klein plekkie? Die atmosfeer is van die begin af gelaai; reeds by hul eerste ontmoeting spat die vonke. En dit te midde van werklike hartseer en pyn in die dorp. ‘n Tyd om te ween is ‘n diep roerende verhaal waarin mense mekaar leer om te gee en waarin hulle besef: die lewe verloop selde soos ‘n mens dit beplan.

En in Die oujongnooi van Polkadraai gebruik Silpa haar besonderse grimeertalent om haarself ’n volle twintig jaar ouer te laat voorkom – sy beeld ’n middeljarige oujongnooi uit wat aansoek doen om die pos van huishoudster vir twee jong kinders. Maar sy het nie rekening gehou met die streng dog aantreklike pa van die kinders nie.

Oor die skrywer:

Ena Murray is op die klein Karoodorpie Loxton gebore, die middelste van drie dogters. Haar pa was die plaaslike geneesheer, en dis hier waar haar groot belangstelling in die geneeskunde ontstaan het. Verskeie van haar verhale het dan ook ’n hospitaal as milieu. Sy het op Mosselbaai afgetree en is in Junie 2015 oorlede.

Koop dit nou! MySubs CNA Raru Loot Graffiti Amazon (Kindle)

Julie boek van die maand: Marlene en die macho man deur Anita du Preez

Marlene en die macho man deur Anita du Preez is NB-Uitgewers se Julie boek van die maand:

Van hul skooldae af het almal gedink dat Marlene Burger en Tom Lourens vir mekaar bestem is. Maar Marlene, met haar voorliefde vir avontuur en adrenalien, wou haar nie vroeg reeds aan ’n rustige huislike bestaan bind nie. Nee, sy het luitenant-kolonel Marlene Burger van die SAPD geword, haar plek in ’n manswêreld oopbaklei en kriminele laat les opsê.

Maar nou is daar ’n kans vir Marlene en Tom om weer te probeer om ’n verhouding te hê – ná hulle elk ’n mislukte huwelik agter die rug het.

Gaan dit dié keer werk? Want vlootoffisier Lourens blyk onnodig versigtig te wees wanneer dit by hul verhouding kom; sý weer oorhaastig.

Die geheimsinnige Ziegfried van Leeuwen, wat dalk die ontwykende straatkunstenaar De Leeuw kan wees, verskyn boonop op die toneel en is met luitenant-kolonel Burger gefassineer. En skielik moet Marlene besluit wat sy werklik wil hê . . .

Oor die skrywer:

Anita is gebore in Port Elizabeth. Sy het in die visuele kunste studeer en aan UNISA haar BA-honneurs en Magistergraad verwerf, albei cum laude. Sy is ’n ma van drie, woon in Kaapstad en is ’n beeldhouer en lektrise in die visuele kunste (CTI, Durbanville- en Claremont-kampusse).

Koop dit nou!  MySubs | Raru Loot Graffiti Amazon (Kindle)