Luister na Malene Breytenbach se onderhoud op RSG Skrywers en Boeke

Malene Breytenbach is een van Afrikaans se mees bedrewe skrywers met meer as 30 liefdesverhale en 6 romans op haar kerfstok. Sy het onlangs op RSG se Skrywers en Boeke-program met Suzette Kotzé-Myburgh gesels oor haar skryfwerk.

Sy beantwoord onder meer die volgende vrae:

  • Wat is die verskil tussen ’n romanse en ’n roman?
  • Waar kom haar skryflus vandaan?
  • Hoe lyk haar skryf-werkswyse?
  • Waar kom haar storietemas vandaan?
  • Hoe vind haar studies neeslag in haar werk?
  • Wat is die moeilikste van skryf?
  • Hoe doen sy haar navorsing?

Die onderhoud begin by 5:40. Luister na die potgooi:

 

(Of luister op RSG )


Van sorg na liefde deur Malene Breytenbach was NB-Liefdesverhale se Mei boek van die maand. 

Koop dit nou!  Raru | Graffiti Takealot (eboek) | Amazon (eboek) |

 

 

Lees ’n uittreksel uit Van sorg na liefde deur Malene Breytenbach

Van sorg na liefde deur Malene Breytenbach is NB-Liefdesverhale se Mei boek van die maand:

Ná ’n liefdesteleurstelling gaan werk Mia de Villiers as ’n versorger op die eiland van Jersey. Sy kom goed met haar werkgewer, die weduwee Sarah de Lisle, oor die weg, maar met dié se seun, Jean, sit sy vas. Jean insinueer dat sy gekom het om ’n ryk man te vang en Mia vererg haar. Dink hy sy is ’n trofeemeisie wat deur rykdom beïndruk word? Hy is uiters aantreklik, maar sy swig nie voor ’n rokjagter nie. Al wys hy gaandeweg sy sagter kant ….

Lees ‘n uittreksel uit hierdie lekkerlees-liefdesverhaal:


Die Bentley hou voor die huis se deur stil. Mia is verlig dat John nou die rolstoel uit die kattebak kan haal en Sarah help om daarin te klim. Sy wou dit nooit laat blyk nie, maar dit was altyd besonder swaar om op te tel. Die werksmense wat die voorbereiding vir die fees moes doen, is reeds weg. Mia wonder of Jean al gekom het. Teen dié tyd behoort hy darem hier te wees.

Toe hulle by die huis ingaan, kyk sy verwonderd rond. Oral is vase met blomme en die meubels is geskuif. Daar is versierings en dit lyk feestelik. Hulle gaan kyk na die groot eetkamer en sien dat dit reggemaak is vir baie mense. Op die tafels is eetgerei en servette uitgepak. Net die kos moet nog kom. Skitterblink glase is al uitgepak, maar die drank is nog nie daar nie. Assistente en kelners wat Etienne gehuur het, loop heen en weer van die kombuis na die eetkamer. Oral is stoele in groepe uitgesit.

Die groot salon lyk asof dit reggemaak is vir mense om te dans. Die orkeslede is reeds daar op ’n verhogie. Almal dra swart pakke met wit strikdasse. Twee is besig om viole in te stem, een toets die klavier en ’n ander een sit by die tromme. Hier word nie sommer opnames of ’n deejay gebruik nie, dink Mia. Nee, die orkeslede kom in lewende lywe, met instrumente en bladmusiek. Dit is ouwêrelds elegant.

Barnes loop daar rond met ’n kritiese gesig asof hy alles moet goedkeur. Hy kom nader gehaas. “Lyk dit goed, mevrou?”

“Absoluut,” sê Sarah. “Dit lyk asof alles onder beheer is. Kom ons gaan boontoe, Mia. Ek moet eers ’n rukkie rus voordat die partytjie begin.”

Sy ry met die hyser op en Mia volg. Eers help sy Sarah om gemaklik met ’n nekkussing op haar bed te gaan lê, sodat sy nie haar hare druk nie, toe gaan sy na haar kamer. Sy is net binne, toe steek sy vas. Nie oor Sylvester lekker uitgestrek op haar bed lê nie, maar oor die langwerpige boks met ’n silwer lint en strik om, wat langs hom lê.

“Hallo, weet jy wie het dit gebring?” vra sy vir die kat, wat met lui skrefiesoë na haar kyk. “Ek wens jy kon praat.”

Daar is ’n kaartjie met die woorde: Vir vanaand. Met geen naam by nie.

Hierdie geskenk kom sekerlik van Sarah af. Wat kan dit wees? Sy maak die silwer strik los, verwyder die lint en maak die boks oop. Mia snak na asem. In sneespapier is iets opgevou. Dit is smaraggroen en lyk asof dit van sy gemaak is. Met bewende hande tel sy dit uit. Dit is ’n rok in haar grootte met ’n eenvoudige, dog uiters elegante snit.

Sy hou dit voor haar en kyk in die spieël. Dit is so mooi dat sy lank daarna staar. Watter goeie smaak het Sarah tog! Sy het ook die grootte reg geraai. Fairy godmother, dink sy, en glimlag. Hoe dierbaar van haar werkgewer om aan so iets te dink. Sy het juis gewonder of sy enigsins na die partytjie gaan.

Nou weet sy, sy is tog genooi. Normaalweg sou sy nie sommer so ’n geskenk kon aanvaar nie, maar sy het reeds agtergekom dat dit vir Sarah lekker is om vir haar goed te gee.

Die mense word vanaf sewe-uur verwag. Sarah het ’n uur lank gaan rus, maar daarna moet Mia haar help aantrek en voorberei. Sy gaan bad eers, versigtig om nie haar hare nat te maak nie. Daarna grimeer sy liggies, kam deur haar hare en trek die rok aan. Sy staan voor die spieël en staar na haar beeld. Die rok pas haar soos die spreekwoordelike handskoen. Vlei eintlik haar figuur. Dit is ongetwyfeld ’n baie duur boetiek- rok en die etiket is Frans. Dit laat haar oë groen skitter en steek treffend af teen haar hare. Sy het nie gedink sy kan ooit so mooi lyk nie.

“Hallo, wie is jy?” lag sy. “Aspoestertjie in haar balrok wat die goeie fee vir haar getoor het?”

Gelukkig het sy ’n paar swart hoëpolvy-blink- leersandale saamgebring vir die wis en onwis. Dit pas by haar een swart aandrok wat sy ingepak het. Nou pas dit darem by dié rok wat net bokant haar knieë eindig. Haar kuite vertoon mooi as sy sulke stiletto’s dra.

Sy gaan na Sarah se suite. Toe sy inloop, klap Sarah haar hande. “Jy lyk beeldskoon, Mia.”

Mia bloos, maar sy voel gevlei. “Baie dankie, mevrou. Ek waardeer dit regtig.”

Sy help Sarah om ’n splinternuwe silwergrys rok en silwer skoene aan te trek. Sarah grimeer haar eie gesig. Daarna spuit sy parfuum aan haar self.

“Kom hier,” sê sy, en spuit van die parfuum aan Mia ook.

Sy maak haar laai oop en haal ’n juweelkissie uit. Mia moet haar help om diamante aan haar ore vas te maak, ’n eenvoudige diamanthalssnoer om haar nek vas te maak en ringe en ’n diamantarmband aan te sit.

“My man het vir my al dié juwele gegee,” sê sy. “Jean het dit uit die kluis gaan haal. Daar is iets wat ek wil hê jy moet dra. Jy kan dit vanaand leen om by jou mooi rok te pas. Dit het aan Bienne behoort.”

Sy haal ’n paar fyn diamantoorkrabbers uit en ’n goue kettinkie waaraan een diamant vas is.

“Toe, sit dit aan. Ek wil sien hoe dit lyk.”

Mia is skoon oorstelp. Wat ’n pragtige gebaar om haar lieflingdogter se juwele vir haar te gee om te dra. Sy kry eintlik trane in haar oë wat sy vinnig moet wegknipper. Sy maak die diamante aan haar ore vas en die hanger om haar nek.

“Nou lyk dit perfek afgerond,” glimlag Sarah. Mia sien dat sy ook trane in haar oë het. Sy druk haar skouer en sê hees: “Dankie dat mevrou so goed is vir my.”

“My liewe kind, jy is goed vir my. Nou toe, ons mag nie ons grimering afhuil nie. Neem my af, sodat ek kan help om die mense te ontvang.”

Jean verjaar en sy sal hom moet gelukwens, dink Mia. As sy aan hom dink, raak haar arme hart en lyf skoon oorstuur. Sy mag nie een oomblik vergeet dat hy ’n arrogante ryk man is nie, met ’n beeldskone trofeemeisie aan wie hy waarskynlik binnekort verloof sal raak.


Koop dit nou!  Raru | Graffiti Takealot (eboek) | Amazon (eboek) | MySubs

Nuut: Helene de Kock Keur 1

Helene de Kock Keur 1 bevat vier verruklike liefdesverhale met drama, intrige en ontstuimige onderstrome.

Die soete dwaling: Dr. Daïrus Deetlefs se ma probeer om sy lewe te regeer en om ʼn troue tussen hom en Martine te reël. Daïrus vlug na Londen en ontmoet daar iemand uit sy verlede, die misterieuse Sylvia Saunders.

Seisoen van die skimmelson: Madel studeer sang in Beiere en moet haar jeugliefde agterlaat. Net tydelik, so glo sy. Sy besef egter mettertyd dat sommige keuses moeiliker is as ander.

Anderkant die vloedwaters: Dr. Bernard Linde voel sy lewe benodig standvastigheid: die tyd het aangebreek om ʼn vrou te vind. Een stormnag laai hy ʼn vreemde vrou op – en net so skielik verdwyn sy.

ʼn Vrou vir Ver-en-Naby:​ Laura Krause wonder hoe ver ʼn mens moet ry om uit ʼn huwelik te kom. Sy het nie die antwoorde wat Simon soek nie, maar miskien lê die antwoord in ʼn onverwagse afdraai en ʼn koppie tee op Clarens.

Oor die skrywer:

Helene de Kock het aan die Rand grootgeword, aan die Universiteite van Pretoria en Noordwes gestudeer, en aan verskeie konservatoria onderrig in sang ontvang. Helene het ’n PhD in skryfkuns. Sy skryf voltyds en woon in Pretoria. Daar het reeds talle romans uit haar pen verskyn.

Mei boek van die maand: Van sorg na liefde deur Malene Breytenbach

Van sorg na liefde deur Malene Breytenbachis NB-Liefdesverhale se Mei boek van die maand:

Ná ’n liefdesteleurstelling wil Mia de Villiers vir ’n ruk uit Suid-Afrika wegkom en sy gaan werk as ’n versorger op die eiland van Jersey. Sy kom dadelik met haar werkgewer, die weduwee Sarah de Lisle, oor die weg, maar met haar seun, Jean de Lisle, sit sy vas.

Uit die staanspoor is Jean laat om haar by die lughawe op te laai en hy gee te kenne dat Mia sy kosbare tyd as eienaar van ’n makelaarsmaatskappy mors. Boonop insinueer hy dat sy na die belastingparadys Jersey gekom het om vir haar ’n ryk man te vang.

Mia vererg haar vir die arrogante vent met sy spoggerige Ferrari – hy moenie dink sy is soos sy trofeemeisies wat deur sy rykdom beïndruk word nie. Hy is nou wel die aantreklikste man wat sy al ooit teëgekom het, maar ná sy deur haar eks-verloofde verkul is, gaan sy beslis nie voor ’n rokjagter soos Jean swig nie. Al blyk dit ook gaandeweg dat dié alfaman ’n sorgsame, sagter kant het wat hy nie sommer vir enigeen wys nie …

Oor die skrywer: 

Dr. Malene Breytenbach het drie meestersgrade, asook ’n doktorsgraad in joernalistiek. Sy en haar man woon op Stellenbosch. Malene skryf sedert 2009 heeltyds en het verskeie liefdesverhale op haar kerfstok, sowel as die gewilde romans Gister is ’n ver landPluimprinse en Bloedgrond.

Koop dit nou!  Raru | Graffiti Takealot (eboek) | Amazon (eboek) | MySubs