Lees ’n uittreksel uit Boeie van goud deur Ena Murray

Drie van Ena Murray se heel beste liefdesverhale verskyn vandeesmaand in een omnibus, Ena Murray Keur 12.

In Boeie van goud, een van die verhale, vra Charmain haar af: Hoekom het Quintus de la Harpe met haar getrou as hy haar nooit werklik sy vrou wou maak nie? Sy het hom lief, maar moet toekyk hoe sy skoonsuster en niggie wedywer om sy aandag. Wanneer Marius de la Harpe en Jacques Taute haar pad kruis, raak die situasie nog meer onverstaanbaar …

Lees ‘n uittreksel uit hierdie verhaal:


em-keur-12-cov

Charmain kyk verbaas op toe die eienares van die losieshuis haar kom roep vir ’n besoeker. Sy is nie gewoond daaraan dat sy besoek kry nie. Dan frons sy. Miskien is dit daardie lastige klerk wat sy in haar nuwe werk leer ken het. Eers wil sy die hospita vra om namens haar verskoning te maak. Dan stap sy maar tog voordeur toe.

Haar hart spring in haar keel toe sy die imponerende gestalte in die voorportaal sien staan en sy steek viervoet vas; dis hý wat nader stap.

“Ek is jammer ek kom sommer so sonder afspraak hier aan, maar ek is toevallig in die stad en het toe gedink om net te kom hoor hoe dit gaan,” sê hy nadat hulle gegroet het. “Hoe gaan dit?”

Sy kyk met blink oë na hom op. Dis die oë van ’n kind, vol onverbloemde, opregte vreugde. Charmain is nog te jonk en onervare om nou al die kuns aan te geleer het om nie haar hart so te ontbloot nie.

“Dit gaan goed, dankie, meneer De la Harpe. O, dis wonderlik om u weer te sien!”

Hy knik, sy oë ernstig, bestuderend. “Ek is bly om dit te hoor.” Hy kyk vlugtig om hom heen in die portaaltjie, wat duidelik verraai dat dit nie een van die beste losieshuise in die stad is nie. “Sal ons ’n entjie gaan ry?”

Weer blink en skitter die oë onbeskaamd, en hy hoef nie op ’n antwoord te wag nie. Vir die tweede keer in haar kort, saai lewetjie voel sy hoe sy in die luukse motor wat voor die deur staan, ingehelp word, en dit voel vir haar asof sy sweef. Hy het weer gekom! Hy het haar onthou! So dink sy deurentyd.

“Waar is jou kwaai vriendin?” vra hy glimlaggend toe hy langs haar inskuiwe en die masjien aanskakel.

Charmain lag. “Sy is weg op ’n toneeltoer. Sy is nie regtig so kwaai nie. Klara is ’n dierbare mens, en vir my soos ’n suster. Van die eerste oomblik af het sy my onder haar vlerk geneem en beskerm. Dit was maar deur haar dat ek die twee klein rolletjies gekry het. Ek is nie ’n goeie toneelspeelster nie,” erken sy met kinderlike eerlikheid, en die man glimlag weer.

“Vertel my meer van jouself. Jou vriendin het daardie aand, toe ek julle uitgeneem het vir ete, gesê jy is ’n weeskind. Is jy werklik heeltemal alleen op die aarde?”

“Ja. En as ek verlangse familie het, het hulle in elk geval jare gelede al van my vergeet.” Sy sê dit sonder enige verbittering en op ’n manier wat die gehardste hart sal aangryp, en die man frons diep. Hy bring die motor tot stilstand by een van die mooi uitkykpunte oor die stad en draai skuins na haar. Sy gesig is net ’n vae, donker vlek. Subtiel word haar powere lewensverhaaltjie uit haar getrek.

“Ek wil nog dankie sê vir die geld wat u vir my by Klara gelaat het. Ek het ’n briefie geskryf om dankie te sê . . .” sluit sy af.

“Ek het dit gekry, dankie.”

“Ek sal, sodra ek kan, dit aan u terugstuur. Ek het werk gekry in ’n boekwinkel.”

“Dit was ’n geskenk, nie bedoel om terugbetaal te word nie.” Hy kan haar ongemak aanvoel en vervolg: “Dis ’n groter kuns om te ontvang as om te gee, Charmain.” Sy is stil, en ’n rukkie lank is net hul asemhalings hoorbaar. Dan, skielik, lê sy vingers onder haar ken, word haar gesiggie na hom opgelig. “Jy is ’n pragtige ou meisietjie. Jy verdien . . .”

Hy bly skielik stil en sy kyk met groot oë na die gesig so naby hare. Toe sy lippe meteens saggies op hare druk, roer sy nie, sit net bewegingloos onder sy aanraking, en in die lig van ’n flou maan kan hy die wit boog van haar nek duidelik sien – sien hoe die kuiltjie in haar nek onreëlmatig klop . . . nes ’n wilde voëltjie wat hom skielik in ’n koutjie bevind . . .


Koop dit nou! Graffiti | Amazon Kindle | Loot

 

Trish Goosen beantwoord ’n paar vrae

Trish Goosen, ons eerste skrywer van die maand vir 2017, het ‘n paar vrae oor Vurig op Flaminkevlei beantwoord:

trish-goosen

  1.  Liefde op Langebaan, Hartstog op Hartenbos, Vurig op Flaminkevlei … Wat kom eerste, die wonderlike titel of die storie?

Ek dink gewoonlik eers aan die plek waar ek my verhaal wil laat afspeel. Dit moet natuurlik ‘n plek wees wat ek goed ken, anders sal my uitbeelding daarvan nie geloofwaardig wees nie. As ‘n besige werkende mamma van twee jong seuntjies, het ek nie tyd om veel navorsing te doen nie. Tweede kom die titel en derde die storie. Nadat Liefde op Langebaan die lig gesien het, het my vorige liefdesverhaalredakteur, Hester, genoem sy hou van die feit dat die romantiese verhaal op ‘n vakansiedorp afspeel. En nét daar is die idee gebore om my daaropvolgende verhale ook op vakansiedorpe te laat plaasvind.

  1. Waar kom die inspirasie vir Vurig op Flaminkevlei vandaan?

Ek was verlede somer op ‘n plesierboot op die Bergrivier in Velddrif. Wow! Need I say more?

  1. Is Liam en Belinda op werklike mense geskoei?

Mense vra my nogal gereeld of die karakters in my verhale op regte mense geskoei is. Die antwoord is nee én ja. Sommige van my vriendinne sê hulle het al hulself in my verhale raakgelees. Hulle is nie heeltemal verkeerd nie. Ek voeg stukkies van die mense om my se persoonlikhede bymekaar om my karakters te skep. En een ding wat vir my baie belangrik is, is om ‘n heldin te skep wat glad nie soos ek is nie.

  1. Vertel ons van jou skryfproses – waar, wanneer, vir hoe lank?

Ek het nooit tyd om te skryf nie. My dae is baie vol. Wanneer ek skryf, moet ek my slaap opgee. Maar op ‘n manier maak ek tyd. Dit is ‘n gebedsaak. Ek skryf omdat ek graag wil en dit een van die min dinge is wat ek vir myself doen. Daarom is daar nooit ‘n patroon aan wanneer en hoe lank ek skryf nie. Ongelukkig kan ek nie sê ek gaan sit met my skootrekenaar by die see of in ‘n koffiewinkel om te skryf nie. Dit sou seker baie meer interessant gewees het om dit te sê, maar ek vind ek skryf maar die beste by my huis wanneer almal slaap en daar uiteindelik stilte is.

  1. As inspirasie laag daal, waar gaan soek jy die muse? Of is die muse ’n mite?

Inspirasie daal gewoonlik laag wanneer my lewe baie besig raak. As ek dag vir dag teen die spoed van wit lig op die hamsterwieletjie hardloop, word my kreatiwiteit onderdruk. Dis gewoonlik op my afdae en naweke wanneer die idees weer begin vloei. ‘n Lekker lang bad help ook daarvoor.

6.  Het jy enige raad vir voornemende liefdesverhaalskrywers?

Probeer sensories dink. Wanneer dit by liefde en passie kom, wil mense hulself in ‘n verhaal inleef.

7. Wat lees jy op die oomblik?

Velddrif se Stories deur Lokkie van Zyl en I, Saul deur Jerry B. Jenkins.


vurig-op-flaminkevlei-covVurig op Flaminkevlei deur Trish Goosen is NB-Liefdesverhale se Januarie boek van die maand, die eerste vir 2017!

Koop dit nou! Loot | Raru | Van Schaick | Amazon Kindle

Nuut: Ena Murray Keur 12

Drie van Ena Murray se heel beste liefdesverhale verskyn vandeesmaand in een omnibus, Ena Murray Keur 12:

em-keur-12-covIn Diena van Die Eike bedryf Diena die losieshuis op Burgershoek – buite bereik van die skaduwee wat oor haar verlede hang. Tot die dag dat Melt Fouché op haar drumpel staan. Toe wéét sy: die verlede, in die persoon van dié briljante geneesheer, het haar ingehaal.

In Boeie van goud vra Charmain haar af: Hoekom het Quintus de la Harpe met haar getrou as hy haar nooit werklik sy vrou wou maak nie? Sy het hom lief, maar moet toekyk hoe sy skoonsuster en niggie wedywer om sy aandag. Wanneer Marius de la Harpe en Jacques Taute haar pad kruis, raak die situasie nog meer onverstaanbaar …

En in Kaalvoet Katryntjie dring Katryn Klem se hovaardige voog, Festus Dumas, daarop aan dat sy ná haar pa se dood by hom moet kom bly. Sommer vir die grap gee Katryn voor sy is ’n giggelende tiener, nie ’n verpleegster van twintig nie. Maar dié grap boemerang toe sy, met ’n hart wat pyn van haar onverklaarbare liefde, moet toekyk hoe die listige Shirley Rossouw haar voog probeer verlei …

Oor die skrywer:

Ena Murray is op die klein Karoodorpie Loxton gebore, die middelste van drie dogters. Haar pa was die plaaslike geneesheer, en dis hier waar haar groot belangstelling in die geneeskunde ontstaan het. Verskeie van haar verhale het dan ook ’n hospitaal as milieu. Sy het op Mosselbaai afgetree en is in Junie 2015 oorlede.

Koop dit nou! Graffiti | Amazon Kindle | Loot

Boek van die maand in Januarie: Vurig op Flaminkevlei deur Trish Goosen

vurig-op-flaminkevlei-covVurig op Flaminkevlei deur Trish Goosen is NB-Liefdesverhale se Januarie boek van die maand, die eerste vir 2017!

Vir die eerste keer ná haar man se dood neem Belinda haar vierjarige dogtertjie met vakansie na Velddrif om in tannie Wollie se “chalet op Flaminkevlei” te gaan bly. Belinda wou juis op dié rustige Weskusdorpie kom uitspan, want hier sal sy sekerlik nie ongewenste aandag kry nie. Sy sal tevrede wees as daar nooit weer ’n man in haar rigting kyk nie. Om een geliefde te verloor was pynlik genoeg. Nee wat, sy het besluit om haar lewe aan haar kind te wy en mans af te sweer.

Maar toe Belinda se Great Dane op Velddrif loskom en die rivier in foeter agter voëls aan, kry sy sowaar met ’n blerrie aantreklike mansmens te doen toe ene Liam Naudé tot die hond se redding kom. Die arrogante man weet egter te vertel dat hy dit nie vir háár onthalwe gedoen het nie, maar vir die arme voëls s’n! Boonop kuier Liam met die onthutsende groen oë gereeld by tannie Wollie om navorsing vir die een of ander boek te doen. En nou kan Belinda hom nie meer ontduik nie …

Oor die skrywer:

Etresia (Trish) Goosen is in 1982 in Kaapstad gebore. Sy het grootgeword en skoolgegaan in Florida aan die Wesrand en matrikuleer aan die Hoërskool Vredenburg op die Weskus. Na vele omswerwinge en verkeerde loopbaankeuses, het sy na die Weskus teruggekeer en haar nis in letterkunde en die joernalistiek gevind. Trish woon saam met haar man op Vredenburg en is sedert 2011 ’n verslaggewer by die Weslander, Media24 se gemeenskapskoerant aan die Weskus.

Koop dit nou! Loot | Raru | Van Schaick | Amazon Kindle