Lees ’n uittreksel uit Elsa Winckler se verhaal Ridderspoor en rose

ultra-satyn-2-covIn Elsa Winckler se verhaal Ridderspoor en rose soen sakeman Alan Sutherland vir Corinne Hansen skaars ’n uur ná hy by haar blommewinkel instap. Tog beweer hy Corinne is nie sy tipe nie; dat hy ’n stemmige vrou soek wat kliënte sal beïndruk. Corinne besluit om hom te wys presies hoe ónstemmig sy kan wees, sodat hy nooit weer met ’n ander vrou tevrede sal wees nie. Maar waarom maak sy ingedagte ruikers met ridderspoor en rose, wat op verbintenis en liefde dui? Gaan haar plan boemerang en háár hart in die slag laat bly?

Lees ‘n kort uittreksel uit hierdie stomende verhaal:


“Sjoe,” giggel Ella en gryp die naaste vel papier om haar koel te waai. “Ek het lanklaas soveel manlike manne bymekaar gesien. Dis die ene . . .”

“Testosteroon?” skerts Corinne half uitasem, lig haar hare op met haar een hand en trek haar notaboek nader met die ander. Ook sy is die ene gloede. “Dié dat ek hulle uitgestuur het,” lag sy en begin kyk deur die telefoonnommers van haar verskaffers op haar foon. “Dis onmoontlik om te werk met daardie spul in die omtrek.”

“Die een wat agter jou aan in die gang af is . . .”

“Alan,” prewel Corinne, terwyl haar wysvinger oor die name op die lysie gly.

“So, jy het darem sy naam gehoor,” sê Ella. “Wat het in die kombuis gebeur? Jou wange was rooi en jy het ’n trui aangehad toe jy terugkom.” Haar oë rek. “Hy’t jou gesoen!” roep sy opgewonde uit.

“Ella!” raas Corinne ontsteld. Doug se piksoen was soos dié van ’n broer, maar net die gedagte aan Alan se lippe op hare, laat haar die trui weer styf om haar lyf draai. Goeiste aarde tog. Hulle was sentimeters van mekaar af, dit sou so maklik gewees het om op haar tone te staan en met haar lippe aan syne te raak.

Help! Ontsteld soek sy rond op die toonbank. “Niemand het niemand gesoen nie. Hierso,” sê sy en gee ’n boek met telefoonnommers van nog verskaffers aan Ella.

“Begin bel jy hierdie name, ek bel dié op my selfoon. Ons het ’n bestelling om aan te werk. Daar is g’n tyd om oor ’n soenery te staan en praat nie.”

Ella trek die boek nader. “Jou wange gloei al weer,” terg sy voordat sy aan die werk spring.

Corinne druk ’n hand teen haar warm gesig. Sy het dalk iets onder lede. Seker ’n vreemde virus. Hierdie waansinnige geklop van haar hart is ’n heel ongewone ervaring. Sy moet iets makeer, haar hele lyf kan tog nie so vreemd koorsig reageer en dit net omdat sy naby ’n aantreklike man gestaan het nie.

Sy gryp ’n stuk papier en begin haar ook koel waai. Net die gedagte aan die man se geur, sy nabyheid, maak haar van voor af warm. Hy het die mooiste blou oë en ag aarde, daai kuiltjie in sy wang is genoeg om elke vrou se bene lam te maak.

“Wel, as ek so na jou kyk, is daar net een afleiding. Jy het ten einde laaste ’n man raakgeloop wat jou liggies aanskakel!” giggel Ella.

Corinne laat val haar papierwaaier en kyk verdwaas na Ella. “Waarvan praat jy tog?”

“Kyk na jou, jou oë blink, jy kan nie op jou werk fokus nie – en dit het alles begin vandat die Sutherland-broers in die winkel was.”

Corinne waai Ella se aanmerking weg. “Ek weet nie van watter liggies jy praat nie. Ek was nogal uit die veld geslaan oor die vyf mans in die winkel, maar selfs jy was ’n paar minute sprakeloos. Hulle is . . . ’n fees vir die oog, maar ek dink ek het iets onder lede.”

Ella stik in ’n giggel.

“Ek voel effens koorsig, maar dit het niks met die mans te doen nie,” kap Corinne vieserig terug.

Nou lag Ella kliphard. “Niemand het van mans in die meervoud gepraat nie, my liewe Corinne. Uhm . . . ek dink die koorsigheid is te wyte aan een baie spesifieke man. Die een wat netnou agter jou aangeloop het kombuis toe.”

Corinne trek haar asem verstom in. “Maar dis tog nie moontlik nie, is dit? Hy is ’n beeld van ’n man, ja, hulle almal is – en dis nie asof ek nog nooit mooi mans gesien het nie! ’n Mens kan nie so vinnig . . . kan ’n mens? Dis seker net . . .”

“. . . omdat hy jou liggies aanskakel. Is dit nie wonderlik nie? Net vanoggend het jy nie gedink daar is ’n man wat dit sal regkry nie, en kyk nou vir jou!”

Corinne druk haar hand teen haar hart. Sy het nog altyd geglo in haar instink, in haar eerste reaksies op situasies en op mense. Maar hierdie keer is sy onwillig . . . nee, bang is die woord as sy nou baie eerlik is, om na instink te luister. Want wat daardie stemmetjie vir haar sê, doen geen ordentlike vrou vroeg in die oggend nie! Die gevoelens wat deur haar bruis, is oorweldigend, intens, allesoorheersend en . . . en sjoe, stomend.


Ridderspoor en rose deur Elsa Winckler is een van twee verhale in die nuwe omnibus, Ultrasatyn 2Koop dit nou! Loot | Takealot | Raru | Graffiti | Amazon Kindle

 

Nuut: Ultrasatyn 2, met verhale deur Elsa Winckler en Amelia Strydom

Twee baie sexy verhale, selfs meer stomend as ons Satyn-reeks, verskyn hierdie maand in Ultrasatyn 2. Elsa Winckler en Amelia Strydom is twee uiters gewilde skrywers wat elkeen al die ATKV-Woordveertjie vir romanses gewen het.

ultra-satyn-2-covIn Elsa Winckler se verhaal Ridderspoor en rose soen sakeman Alan Sutherland vir Corinne Hansen skaars ’n uur ná hy by haar blommewinkel instap. Tog beweer hy Corinne is nie sy tipe nie; dat hy ’n stemmige vrou soek wat kliënte sal beïndruk. Corinne besluit om hom te wys presies hoe ónstemmig sy kan wees, sodat hy nooit weer met ’n ander vrou tevrede sal wees nie. Maar waarom maak sy ingedagte ruikers met ridderspoor en rose, wat op verbintenis en liefde dui? Gaan haar plan boemerang en háár hart in die slag laat bly?

In Amelia Strydom se Alfaman in Armani slaan erotikaskrywer Lenka du Plessis ’n internasionale kontrak los, maar sedert Die Voorval voel sy nie sexy nie en kan sy nie sexy skryf nie. Totdat sy vir spanningsverhaalskrywer Adam Ludick ontmoet, want skielik sit haar libido regop. Adam vra haar vir hulp met vrytonele, want dis al kritiek wat sy jongste boek ontvang het. Maar Lenka weet sy moet versigtig wees en haar hart beskerm. Sy kan mos sien Adam is ’n alfaman wat nie in gelukkige eindes glo nie …

Koop dit nou! Loot | Takealot | Raru | Graffiti | Amazon Kindle

Boek van die maand in Desember: Suster Leanie se groot hart deur Naretha Franken

suster-leanie-covSuster Leanie se groot hart deur Naretha Franken is NB-Liefdesverhale se boek van die maand in Desember!

Suster Leanie ontferm haar oor die haweloses in die parkie oorkant Worcester Med, ongeag van haar kollegas en haar verloofde, wynboer Henk, se vermanings. Dis háár tyd en geld en as sy iemand daarmee kan help, gaan sy dit doen. Dora en Isak is tog so bly as sy vir hulle kos bring of sommer net gesels.

En dan is daar Lu, die lang, maer man met die blou oë en die woeste baard. Hy hou hom eenkant, maar Leanie kan nie anders as om oor hom te wonder nie: Waar sou sy familie wees? Waarom leef hy op straat? Wanneer Lu met bloedvergiftiging en harsingskudding in die hospitaal beland, verdiep Leanie se betrokkenheid by dié man se wel en wee.

Terwyl Leanie ’n skokonthulling oor Henk se verlede moet verwerk en matrone Elizna Truter se venynigheid moet verduur, leer sy Lu – nou skoongeskeer en gesond – se hartseer verhaal ken. Sal hy, en Leanie, weer geluk kan vind?

Oor die skrywer:

Naretha Franken is in die Caledon-distrik gebore. Sy voltooi matriek in 1979 aan Namakwaland Hoërskool op Springbok, waarna sy na Worcester trek en vier jaar later met MC Franken trou. Drie kinders word uit die huwelik gebore, en die gesin woon die afgelope 7 jaar in Brackenfell.

Hoewel sy van jongs af skryf, waag sy dit eers op die ouderdom van 50 om haar manuskrip aan ’n uitgewer te stuur. Engel in die teater is haar debuutwerk.

Koop dit nou! Takealot Loot | Raru | Graffiti Amazon Kindle