Malene Breytenbach beantwoord ’n paar vrae

Malene Breytenbach, skrywer van Oktober se boek van die maand Grenslose liefde, het so ‘n paar vrae oor hierdie Hartklop-verhaal beantwoord:

malene3-kleur

  1. Grenslose liefde neem lesers na die beeldskone Skotse Hooglande. Hoe het jy jou navorsing gedoen om dié omgewing, veral Strahan Castle, so suksesvol op papier oor te dra?

Ek is nog altyd gefassineer deur die Skotte met hulle drag, hulle doedelsakke, hulle Hoogland-klans en oorloë en kastele en hulle romantiese geskiedenis soos dié van Bonnie Prince Charlie wat teruggekeer het Skotland toe en weer die troon vir die Stuarts wou wen. Die landskap is pragtig. Die kasteel van Eilean Donin word byvoorbeeld die mees fotogeniese kasteel  ter wêreld genoem.  Ek het die geskiedenis en werklike kastele nagevors en my plekke daarop gabaseer. Ek lees graag geskiedenis.

 

  1. Colin Mackenzie is ’n behoorlike Hartklop-held. Is hy op iemand gegrond of het jy hom uit jou verbeelding opgediep? Hoe gaan jy te werk om ’n outentieke held te skep?

Colin is nie op enigiemand spesifiek gebaseer nie, hoewel die held van Outlander dalk ’n slag deur my kop gehardloop het.  En Liam Neeson soos hy in Rob Roy was. En Mel Gibson in Braveheart. En gen Andy Wauchope van die Black Watch. My held is net skoner (!!) en hy moet natuurlik intelligent en adellik wees. Ek verbeel my ’n man, dink aan sy voorkoms en persoonlikheid. Onthou Skotte wat ek in Zimbabwe geken het. Die man het sulke onmoontlike blou oë gehad. Ek raak self so ’n bietjie verlief op dié ideaal, en siedaar! Colin is gebore.

  1. Die hospitaalpasiënte is tog vreeslik interessant! Van die aktrise wat haar verbeel sy is Mary Queen of Scots tot die politikus – vanwaar die inspirasie vir hulle?

Mense soos akteurs en rocksterre, uitgewaste politici en getraumatiseerde dog heroïese soldate is lekker uiteenlopend.  Die skone Mary Queen of Scots se verhaal  is ook fassinerend. In een fliek is die kasteel Eilean Donin werklik gebruik as Fotheringhay-kasteel waar sy tereggestel is.  Die mense het hulle aan my kom voorstel en gevra om in die boek te wees.

  1. Wat lok jou aan na die Hartklop-reeks?

Die lekkerste omtrent die Hartklop-reeks is dat ek dinge kan navors waaroor ek nie voorheen gedink het nie. Ek leer oor mediese dinge. Nuwe wêrelde gaan vir my oop. Karakters kry lewe. Ek skep ’n nuwe wêreld.

  1. Het jy enige skryfrituele? Hoe werk jou skryfproses?

Ek het geen rituele nie. Ek begin in die oggend werk en nie altyd dieselfde tyd nie. Skryf totdat ek voel ek moet nou eers afskakel. Gaan rekenaar toe as ek skielik aan iets dink. Kry idees in die nag en vroeë oggend as ek in die bed lê en dink. Ek dink dis verkeerd om te karring. Ek skryf as ek min of meer vars is.

  1. Jy is een van die mees bedrewe liefdesverhaalskrywers in die land. Waar vind jy inspirasie vir al jou stories?

Ek weet nie regtig waar ek inspirasie vind nie. Soms sien ek ’n fliek, of lees iets, of iemand gee my ’n wenk. Dan broei ek gaandeweg die eier uit. Dink eers aan ’n agtergrond wat my fassineer en skep dan die karakters. Gaan op verbeeldingsvlugte en sien plekke en mense wat vir my so werklik raak soos werklike mense en plekke. Dan skryf ek daaroor.

  1. Laastens, watter boeke het jy onlangs gelees wat jy vir lesers kan aanbeveel?

Ek lees sonder ophou. Ek het Michael Ondaatje se The Cat’s Table onlangs gelees en toe lees ek weer sy manjifieke The English Patiënt. Verder lees ek nog Elsabé Brits se boek oor Emily Hobhouse, Geliefde Verraaier. Ek het Chanette Paul se Offerlam onlangs baie geniet. Ek lees ook Li Cunxin se Mao’s Last Dancer en Marianne Thamm se Hitler, Mandela and Me. Ek lees meer as een boek op ’n slag. Lees waarvoor ek in die stemming is. Ek kan natuurlik alles aanbeveel.


 

grenslose-liefde-covGrenslose liefde deur Malene Breytenbach is NB-Liefdesverhale se boek van die maand in Oktober!

Koop dit nou: Loot | Raru | Reader’s Warehouse | Graffiti

 

Lees ’n uittreksel uit Grenslose liefde deur Malene Breytenbach

Vyf jaar ná Carly O’Neill in diens van Dokters Sonder Grense vir Colin Mackenzie met sy betowerende Skotse aksent ontmoet het, kruis hul paaie weer. Colin het die titel van Hertog van Seaforth geërf, asook die Strahan-kasteel, wat hy in ’n psigiatriese kliniek omskep. Toe Carly as verpleegster daar kom werk, rumoer haar hart van voor af. Maar met sy nuwe titel is Colin verhewe bo ’n gewone vrou soos sy. Boonop blyk dit dat hy op trou staan …

Lees ‘n uittreksel uit ons Oktober boek van die maand, Grenslose liefde deur Malene Breytenbach:


Carly volg Duncan Urqhart by die gebou in. Hulle loop deur ’n reuseportaal. Sy kyk verstom om haar rond toe sy binnekom. Dié plek lyk nie na ’n kliniek nie, eerder na die Middeleeuse kastele wat sy op foto’s en in films gesien het. Die meubels is van donker hout, en ’n paar groot tapisserieë hang teen die mure. Oral pryk die heraldiese wapen van die Mackenzies en daar is selfs ’n wapenrusting in die portaal. Teen die mure is spiese en claymores, die slagswaarde wat die Skotte gebruik het om teen mekaar te veg.

Die vloer is yskoud.

Daar is verskeie skilderye van Skotse here wat in volledige Skotse drag met kilt en sporran pryk. Die een naaste aan haar is van Colin Mackenzie. Dit lyk soos die foto wat sy op die internet gesien het. Sy blou oë kyk haar direk aan en dit voel asof hy in haar hart en siel kan inkyk. Binnekort sien sy hom weer in lewende lywe.

Hulle loop deur die portaal en groot saal, dan deur ’n deur in ’n heel ander opset in. Hier is ’n ontvangstoonbank waar daar ’n jongerige vrou met donker hare by ’n rekenaar sit. Op die vloere is liggroen matte en skilderye van landskappe hang teen die muur. Agter teen die muur staan ’n ry staalkabinette.

“Jessie, ek het ons nuwe verpleegster, Carly O’Neill, gebring,” sê Duncan.

Hy stel hulle voor. “Jessie Hart is die ontvangsdame en algemene sekretaresse.”

Die vrou kyk met vriendelike grys oë na Carly. “Welcome. I hope you will be happy here with us.”

Carly hou sommer dadelik van haar. “Dankie, dit is vir my baie opwindend om hier te wees,” antwoord sy in Engels.

Jessie Hart staan op en loop om die toonbank. “Dis ook ’n hele gesukkel vir ’n buitelander om by ons te kom werk, nè? Soveel reëlings en rompslomp. Maar ons is bly jy is hier. Ons ander Suid-Afrikaanse verpleegster is Dudu Khumalo. Sy kom van Durban af en dit was net so ’n gedoente vir haar om hier te kan kom werk. Maar dokter Mackenzie sê die verpleegsters met wie hy in Suid-Afrika saamgewerk het, is die beste en hardwerkendste wat hy ken.”

Sy draai na Duncan. “Dankie, meneer Urqhart, ek sal vir verpleegster O’Neill na dokter Mackenzie neem.”

Hy lig sy hand na sy voorkop in ’n groet. “Goed. Ek sien jou seker die een of ander tyd weer, juffrou O’Neill? Lekker werk.”

“Dankie, meneer Urqhart.”

Sy en Jessie Hart loop in ’n gang af.

“Ons spreekkamers is hier,” sê Jessie. “Julle drie verpleegsters deel een groot kantoor en dokters Fraser en Mackenzie het natuurlik elkeen ’n kantoor. Ander personeellede is elders.”

Hulle kom by ’n bruin houtdeur waarop die naam Dr Colin Mackenzie in geelkoperletters aangebring is.

Carly se hart rumoer in haar keel.

Jessie klop, ’n stem antwoord, en hulle gaan binne.

Colin Mackenzie sit in sy wit jas agter ’n lesse naar met ’n skootrekenaar oop voor hom. Hy kyk op toe hulle inkom, staan op en glimlag.

Carly se hart tol behoorlik. Sy kon daardie tanzanietoë in al die jare nadat sy hom ontmoet het, nie vergeet nie. Hier kyk hulle weer oor ’n kort afstand na haar. Hy kom agter die lessenaar uit en steek sy hand uit. Dit omvou hare warm en stuur skokke deur haar arm en lyf. Sy kyk op na hom. Die mooi mond met wit, reëlmatige tande glimlag vir haar. Hy lyk nie so bruingebrand soos toe sy hom laas in Afrika gesien het nie, maar sy skouers is steeds ongelooflik breed en sy rooibruin hare, soos die pels van ’n vos, blink.

Sy probeer wegsteek dat hy haar van voor af oorweldig.

“Welkom,” sê hy. “Uiteindelik is jy hier.”

Sy glimlag. “Ja, uiteindelik, en baie bly om hier te wees.”

Hy beduie dat hulle op twee gestoffeerde donkergroen gemakstoele by ’n lae houttafel moet gaan sit, en hy gaan sit oorkant hulle. Die vertrek is in rustige lig- en donkergroen en wit gemeubileer. ’n Groot skildery van ’n Hooglandse toneel met langhaarbeeste oorheers een muur. Daar is ook kaste teen die mure.

“Jy moet jou tuismaak,” sê hy. “Jessie sal jou gaan wys waar jy bly en jou aan die ander personeellede voorstel. Jy kan jou eers vandag orienteer en die plek leer ken, en dan kan jy môre inval. As jy enigiets nodig het, sal Jessie jou help. Kom môreoggend agtuur eerste na my toe. Ek sal jou voorstel aan die pasiënte met wie jy ons gaan help. Jy sal sien ons doen dinge ontspanne en informeel hier. Ons pasiënte moenie voel dat hulle in ’n gestig is nie. Hulle mag in die tuine rondloop en ons verblyf is meer soos in ’n hotel. Ons neem ook nie baie mense in nie. Tans sal jy hoofsaaklik met vier pasiënte werk.”

Carly luister met haar hande in haar skoot saamgevou. Dwing haarself om hom direk in die oë te kyk al voel sy ongemaklik. Geen man buiten dié een het haar nog ooit laat voel asof sy op dun ys loop wat onder haar kan padgee nie. Sy het verwag om weer uitgeboul te word, maar die effek wat hy op haar het, is selfs erger as wat sy voorsien het.

“Dit klink goed.” Sy hoop sy kom bedaard voor.

“Die feit dat jy sielkunde gestudeer het, is natuurlik ’n aanwins,” sê hy. “Ons ander aansoekers het nie dié ekstra kwalifikasie gehad nie. Daarom het ons dit reggekry om vir jou die pos aan te bied.”

Hy vra uit oor haar reis en persoonlike omstandighede. “Dit lyk nie asof daar iets of iemand is wat jou sommer na Suid-Afrika sal terugroep nie. Jy beplan nie om skielik te trou of so iets nie, nè?” Sy oë terg haar.

“Nee, niks van die aard nie. Ek sal hier werk so lank soos ek kan.”


grenslose-liefde-covGrenslose liefde deur Malene Breytenbach is NB-Liefdesverhale se boek van die maand in Oktober!

Koop dit nou! Loot | Raru | Reader’s Warehouse | Graffiti

Boek van die maand in Oktober: Grenslose liefde deur Malene Breytenbach

grenslose-liefde-covGrenslose liefde deur Malene Breytenbach is NB-Liefdesverhale se boek van die maand in Oktober!

Vyf jaar nadat Carly O’Neill in diens van Dokters Sonder Grense vir dokter Colin Mackenzie met sy priemende blou oë, breë skouers en Skotse aksent ontmoet het, kruis hulle paaie weer.

Colin het intussen die titel van Hertog van Seaforth geërf en daarmee saam die Strahan-kasteel in Ross-shire, Skotland. Maar hy het nie sy roeping laat vaar nie en het die kasteel in ’n psigiatriese kliniek omskep.

Al is sy ’n Suid-Afrikaner, kry Carly die werk as verpleegster by dié eksklusiewe kliniek, aangesien sy ook kliniese sielkunde studeer het. Of is dit dalk omdat Colin haar graag weer wil sien?

Ná al die jare rumoer Carly se hart nog net so hewig wanneer sy naby die aantreklike dokter is. Maar met sy nuwe titel is hy tog nou ver verhewe bo ’n gewone vrou soos sy. En boonop blyk dit dat hy en sy vennoot, Margaret Fraser, op trou staan.

Carly en Colin mag niks meer as werknemer en werkgewer wees nie, maar haar hart weier om na haar verstand te luister …

Oor die skrywer:

Dr. Malene Breytenbach het drie meestersgrade, asook ’n doktorsgraad in joernalistiek. Sy en haar man woon op Stellenbosch. Malene skryf sedert 2009 heeltyds en het verskeie liefdesverhale op haar kerfstok, sowel as die gewilde romans Gister is ’n ver landPluimprinse en Bloedgrond.

Koop dit nou! Loot | Raru | Reader’s Warehouse | Graffiti

Nuut: Ena Murray Keur 11

Drie gunstelingverhale deur Ena Murray verskyn hierdie maand in Ena Murray Keur 11 :

ena-murray-keur-11In Vreemdeling in Eden moet Karlien Steenkamp binne ’n week ’n man kry en trou as sy haar susterskind, klein Essie, wil behou nadat sy wees gelaat is. Julius Schreider, skatryk Seychellese sakeman, soek ook dringend ’n vrou – vir net ses maande. En Karlien gryp na hierdie strooihalm.

In Waar die wilde besembos bloei het Melinda se ma, Ursula, haar op agtjarige ouderdom verlaat om ’n glanslewe as rolprentster na te jaag. Dertien jaar later lê Melinda se pa op sterwe en sy gaan soek haar ma op die Kanariese Eilande. Ursula is verloof aan die Spaanse markies Lorenzo la Blanca en wil van Jim skei. Maar die markies weet watter vrou hy na Villa del Rosa wil neem …

In Altaarvure op Kandavu moet Marika Lubbe vir dr. De Wet Zandberg na die Fidji-eilande vergesel om sy dogtertjie te versorg. Daar kruis hul paaie met Irene, De Wet se vervreemde vrou, wat saam met dr. Graciël Engelhardt ’n hospitaal bestuur. Nie De Wet óf Graciël kan hul aangetrokkenheid tot Marika wegsteek nie …

Oor die skrywer:

Ena Murray is op die klein Karoodorpie Loxton gebore, die middelste van drie dogters. Haar pa was die plaaslike geneesheer, en dis hier waar haar groot belangstelling in die geneeskunde ontstaan het. Verskeie van haar verhale het dan ook ’n hospitaal as milieu. Sy het op Mosselbaai afgetree en is in Junie 2015 oorlede.

Koop dit nou! Graffiti | Raru | Amazon Kindle

Susan Pienaar beantwoord ‘n paar vrae

Susan Pienaar, skrywer van September se boek van die maand Onbeteuelde liefde, het so ‘n paar vrae oor haar liefdesverhaal beantwoord:

susan-pienaar

  1. Waarom het jy besluit om jou heldin in Onbeteuelde liefde, Isabella Santarelli, half-Italiaans te maak? Is daar iets van die Italiaanse kultuur wat jou aantrek?

Die raamwerk en karakters en my plot was uitgewerk voor ek met navorsing kon begin het. Isabella is ’n beroemde model en vir die verhaal om te kon werk, moes sy vir ’n paar jaar lank nie in Suid-Afrika kom kuier het nie.

In my navorsing oor die modewêreld in die buiteland het ek ontdek dat Italiaanse modelle van die gewildste ter wêreld is.

Hul kultuur: Italianers is meestal vurig en passievol, net soos Isabella.

  1. Die grootste gedeelte van jou verhaal speel egter in die Vrystaat af. Jy het self lank in Bethlehem gebly. Vind jy die omgewing bekoorlik?

Die Vrystaat se oop ruimtes en stilte lê my na aan die hart. En die kosmos! Bethlehem is eintlik deesdae ’n moderne stad.

  1. Vertel ons ’n bietjie van die navorsing wat jy moes doen oor opleidingskampe vir perderuiters en oor die teel van renperde, die agtergrond waarteen hierdie liefdesverhaal afspeel.

Navorsing is vir my die heel belangrikste element en word eerste gedoen voor ek daadwerklik kan begin skryf. In Suid-Afrika en Namibië is daar heelwat boere wat met Arabier en ander volbloedperde teel, dus moet my feite 100% korrek wees. Wat sou ons sonder Google gedoen het? En die Landbou-weekblad! Ek het darem ook met mense gesels wat met boerperde teël en daelange langafstand-uithouritte  in groepe aflê.

  1. Het jy self so ’n bietjie op jou held, Nicholas Burger, die renperdteler, verlief geraak? Hoekom?

O, beslis!  Nicholas is ’n perdeteler, veearts en suksesvolle sakeman met deursettingsvermoë – als dinge wat ek hoog op prys stel – en daarby is hy ook hartbrekend aantreklik. Sy behulpsaamheid en geduld en respek waarmee hy Isabella se  ietwat langdradige pa behandel, is een van die baie redes hoekom ek saam met Isabella op Nicholas verlief geraak het.

  1. Jy skryf vir die Satyn- sowel as die Hartklop-druknaam. Verskil jou benadering wanneer jy vir die verskillende drukname skryf? Hoe verskil dit?

My benadering verskil nie radikaal nie . . .  Satyn- sowel as Hartklop se verskillende beroepe word gebruik om spanning tussen die held en heldin se fisiese aantrekking, verskillende opinies en argumente deur te vervleg. Dokters en veral chirurge het soms tot 13 jaar of langer studeer, met min slaap klaargekom en sit met duisende rande studieskuld wat afbetaal moet word, dus het hulle oor die algemeen ’n chip op die skouers. Hulle verdien hul outoriteit en geld en status.

  1. Laastens, maar nie die minste nie: Watter boeke lê op die oomblik op jou boekrak?

O jitte, ek het drie yslike volgepakte boekrakke. Ek lees wyd. Op my spieëlkas lê Afrikaanse en Engelse boeke wat ek onlangs aangeskaf het en nog sal lees. Op die kassie langs my bed is daar: LEEF uit die KRAG van GOD deur Solly Ozrovech. My Bybel. Gone Girl deur Gillian Flynn. The Fountainhead deur Ayn Rand.


Onbeteuelde liefde deur Susan Pienaar was NB-Liefdesverhale se boek van die maand in September!

Lees meer oor hierdie boek

Koop dit nou! Takealot | Loot | Reader’s Warehouse | Leserskring | Amazon Kindle