Nuut hierdie maand: Louisa du Toit Omnibus 10

Drie heerlike liefdesverhale deur die gewilde Louisa du Toit verskyn vandeesmaand in ‘n splinternuwe omnibus: Louisa du Toit Omnibus 10

Louisa du Toit Omnibus 10

In Mense van die môre herleef Bina O’Connell se liefde vir Dawid, die seun van oom Kola wat haar grootgemaak het, toe Dawid met sy vrou en kind uit die Kaap terugkeer. ’n Jong predikant word Bina se vertroueling. Dan daag iemand uit die verlede op . . . In haar wildste drome kon Bina nie voorsien hoe ingrypend haar bestaan sou verander nie.
In Maak brand die lampe het Ester Hartman se nuwe baas, Denis Dalton, se meisie hom verlaat en hy bied vir Ester sy woonstel aan.
En in Een lang winter treur Elise Tredoux oor Flip Kammerer en wonder of hy haar versorging van die bejaarde Ophelia net as verskoning gebruik het om uit die verhouding te kom. Intussen hou sy tuis met musieklesse die pot aan die kook. Sy worstel met soms onwillige leerlinge en alle soorte ouers en voogde, onder wie die moeilike Robin Stokes …

Oor die skrywer:

“Louisa du Toit” is die skuilnaam van ’n baie bekende, uiters gewilde skrywer, en sy het ook met dié skrywersnaam groot sukses behaal toe hierdie verhale oorspronklik verskyn het. Die skrywer woon in Pretoria.

Koop dit nou! TakealotGraffiti | Raru| Amazon Kindle

 

Anita du Preez beantwoord ’n paar vrae

Ons hartsvriendin het vir Anita du Preez, skrywer van Letitia en die lektor, so ‘n paar vrae gevra om die persoon ágter Augustus se ‘Boek van die maand’ beter te leer ken:

Anita du Preez

  1. Wat het die sappige storielyn van Letitia die lektor geïnspireer?

ʼn Insident op die kampus waar ek klasgee.  Toe ruk dit heeltemal handuit in die storie en soos karakters maar dikwels doen, besluit die vark in die verhaal toe hy wil liewer die sexy held in die verhaal wees. Toe is hy.

  1. Margot en die meerman, Die wet van liefde, Bambi en die boef, Hermien en die hartedief … Waar kom hierdie lekker titels vandaan?

Sommer uit my kop. Ek hou van rymelary en alliterasie en so het dit so half my “thing” geword om die heldin se naam met dieselfde letter te laat begin as die bynaam van die held. Ek hou van my taal en dis lekker om daarin te mag speel.

  1. Vertel ons van jou skryfproses – waar, wanneer, vir hoe lank?

Sedert 2007/8. Eers in Port Elizabeth, toe in die Kaap en altyd voor my kamervenster. Ek begin met die  eerste sin en daar gaat ek. Lees alles honderd keer oor en oor en is nie sommer tevrede nie. Vol fiemies. Maar dis lekker!

  1. As inspirasie laag daal, waar gaan soek jy die muse? Of is die muse ’n mite?

Ja! Sy bestaan wel, maar sy besoek jou net as jy werk. Sy val nie uit die lug nie. Sy woon in jou sleutelbord, daar waar jou karakters ook sommer so onder jou vingerpunte uitspring en sê “hei! Skryf my!”

  1. Wat kan jou aanhangers volgende verwag?

Aanhangers? Het ek aanhangers? Sjoe dankie julle! Hang net nog ʼn bietjie aan daar gebeur dalk nog ʼn liefdesverhaal teen Desember.

  1. Enige raad vir die wat ook graag liefdesverhale wil skryf?

Skryf hom. As hy in jou kop woon sal hy nooit weggaan en jou uitlos voor jy hom skryf nie, dus het jy nie juis ʼn keuse nie. So skryf hom dat die sop spat! En moet hom nie in ʼn file wegsteek nie. Wys dit vir iemand. Jy weet nooit!

  1. Wat lees jy op die oomblik?

Pamela Jooste People Like Ourselves (weer nou net klaar), Tyne O’ Conell Sex< Lies and Litigation (besig mee), Praba Moodley The Ties That Bind, Henning Mankell se Kennedy’s Brain (wag altwee op die bedkassie) en ʼn hoofstuk uit my Holy Bible New International Version, saans voor ek slaap. Ek het ook so pas my oë toegeknyp en my beursie oopgemaak en Deon Meyer se KOORS gekoop. Dus lê dit nou bo op al die ander boeke op my bedkas!

DSC_0203

 

Letitia en die lektor

Letitia en die lektor deur Anita du Preez is NB-Liefdesverhale se boek van die maand in Augustus!

Koop dit nou: TakealotVan Schaik | Raru | Amazon Kindle | Graffiti

Lees ’n uittreksel uit Letitia en die lektor deur Anita du Preez

Letitia, die hoofkarakter in Anita du Preez se nuwe liefdesverhaal, het ’n lysie dinge wat sy wil doen om haar lewe reg te ruk ná haar egskeiding; ‘n lysie wat dien as katalisator vir opwindende nuwe dinge.

Lees ‘n kort uittreksel uit Letitia en die lektor om te sien wat staan op dié lysie:

list1


Dalk is Roelof reg. Dalk moet sy ’n lys maak. Ja. Sy moet haar lewe orden en ’n mens kan dit net doen as jy alles neerskryf en die kwessies konfronteer. Die blote gedagte laat haar kop ongenadig klop. Gelukkig lê die pakkie Panado’s nog net waar sy laas daarvan gedrink het en vieserig sluk sy twee saam met die laaste van haar koffie af. Toe plak sy die beker op die toonbank neer en trek die stapeltjie vasgekramde papiertjies wat as haar notaboekie dien nader. Sy vat die stomp potloodjie vas wat met ’n toutjie daaraan geheg is en skryf:

My lys:

1) Word fiks? Nee. Sy oefen genoeg. Sy krap dit dood.

1) Verloor gewig? Nee. Diëte maak haar net honger. Sy krap dit ook dood. Nou wat dan? Sy frons diep, knaag aan die potloodjie.

Begin weer teken. Ja. Ja. Ja. As almal net wil ophou karring, sal sy dit dalk regkry. Jeesh! Inspirasie laat haar nie opkommandeer soos mens ’n lig aanskakel nie. Skielik sien sy haar beeld glurend en fronsend in die sykant van die broodrooster weerkaats.

2) Make-over (self) skryf sy vinnig. Ja, oukei. Sy kyk om haar rond vir nog inspirasie.

3) Make-over (huis).

En net daar droog haar gedagtes op. Alles wat sy gelys het, klink onmiddellik so … wel, eintlik so beuselagtig. Verspot. Kleinighede. Sy kan om die dood nie dink aan een enkele ander aktiwiteit wat op so ’n lewensveranderende lys pas nie.

Wag, dink Letitia, sy het tog immers al dikwels na uitsendings gekyk waar skoonheidskoninginne en politici sê wat hulle sal doen indien hulle wen? Goed wat saak maak. Soos … red die aarde? Sy kou weer aan die punt van die potloodjie.

4) Herwinning. Hmmmm. Ja. Die groen ding.

Bewaar die aarde, skryf sy. Sy kan dit doen. Sy gebruik immers reeds die agterkante van ou vraestelle vir hierdie notaboekie. En sy gebruik haar tablet om met haar studente te kommunikeer. Goed. Sy vorder. Hierdie lysieding kan dalk net werk. Sy tel spoed op. Dalk iets omtrent haar lewensuitkyk?

5) Wees vriendelik en verdraagsaam. Sy sug. Dit gaan nie maklik wees nie, veral nie nou nie . . . maar nou ja, ’n lys is ’n lys is ’n lys. En sy is nou eenmaal aan die gang, is sy nie? En dis nie asof mense toustaan om met haar maatjies te wees nie. In elk geval nie dié wat met haar en Gunther vriende was nie. Nee, skielik is sy ’n sosiale melaatse. Vyfde wiel aan elke wa. Maar dit kan seker nie skade doen om net effens meer genaakbaar voor te kom nie?

6) Reik uit na ander mense, skryf sy volgende. Soort van dieselfde ding as nommer 5, maar nou ja. Die lys moet vol kom.

7) Gaan kuier meer vir Ma. Definitief. Sy kou weer aan die potlood.

8) Kry nuwe man in my lewe? Nee. O, nee. Sy krap dit so heftig dood dat die potloodjie se punt tot op die hout afbreek en die papiertjie skeur.

Genoeg vir eers. Sy gaan staan weer voor haar hangkas. Nou toe, nommer twee op die lys is mos make-over. So, staal jouself, daar sal dan seker maar gemake-over moet word?

Die een aaklige, lang romp met bruinerige Persiese patrone na die ander word van die hangers afgeruk, summier verwerp en op die bed neergesmyt. “Weg met julle!” raas sy binnemonds. As ’n mens soos ’n mat lyk, moet jy nie kla as daar oor jou geloop word nie. Die leersandale met die verweerde kurksole beland volgende op ’n hopie op die vloer. Die gier dat ’n kunstenaar soos ’n frieken bag-lady moet lyk, is lankal verby.

Letitia draai ergerlik om. Skielik is dit asof sy iets vir die eerste maal in maande geniet. Sy moes lankal beheer geneem het. Roelof was reg. Hierdie lysieding werk.


Letitia en die lektorLetitia en die lektor deur Anita du Preez is NB-Liefdesverhale se boek van die maand in Augustus!

 

Koop dit nou! TakealotVan Schaik | Raru | Amazon Kindle | Graffiti

Boek van die maand in Augustus: Letitia en die lektor

Letitia en die lektorLetitia en die lektor deur Anita du Preez is NB-Liefdesverhale se boek van die maand in Augustus!

Letitia le Roux vererg haar bloedig toe sy sien hoe Chris Swart, die nuwe lektor by die kollege waar sy werk, een van haar studente se pogings as ’n voorbeeld van swak ontwerp aan sy klas voorhou. Die arrogante vent moet hom by sy digitale vakke bepaal en die tradisionele dissiplines soos skilder en teken vir háár los!

Laatnag begin Chris vir haar boodskappe stuur en Letitia besef meneer Spiertier is alleen en slapeloos, nes sy . . . Sy wonder oor die verlede wat by hom spook. Wie is Mariah, die naam wat op sy arm getatoeëer is?

Letitia het haar eie lysie van dinge wat sy wil doen om haar lewe weer op koers te kry ná haar egskeiding; sy het nie tyd om te probeer uitwerk wat in Chris se kop aangaan nie. Maar ná hy haar asem in die kollege se hysbak wegsoen, kan sy nie sy gesig, met die sexy litteken op sy bolip, uit haar gedagtes kry nie.

Koop dit nou! TakealotVan Schaik | Raru | Amazon Kindle | Graffiti