Lees uittreksels uit die eerste twee boeke in Elsa Winckler se Satyn-trilogie

Liefde deur ‘n lens is die derde liefdesverhaal in Elsa Winckler se Satyn-trilogie.  Die eerste verhaal, Om Amelie se tafel, het in 2014 verskyn en die tweede een, Liefde in laslap, in 2015.

Hier is ‘n kort uittreksel uit die twee laasgenoemde liefdesverhale om jou geheue bietjie te verfris, of om jou nuuskierigheid te prikkel mits jy hul nooit gelees het nie:

Om Amelie se tafel cov

 

Uit: Om Amelie se tafel

Toe Amelie buite in die portaal voor die hysers kom, doen sy wat sy wou doen vandat sy die e-pos oor die simpel spanbou-ding gekry het. Sy lig haar voet en stamp dit op die grond. Hard.

“Aargh!” protesteer sy gevoelvol. Die portaal is leeg en vir ’n oomblik gee sy haar oor aan die frustrasie wat in haar opborrel.

Vies gooi sy haar poniestert oor haar skouer en draai vinnig om in die rigting van haar kantoor, wat ’n entjie laer af in die gang is. Maar haar pad word versper deur ’n baie breë, manlike borskas. Haar momentum laat haar nie

betyds toe om te stop nie, maar twee sterk hande vou om haar arms en keer dat sy teen die man vasloop.

Verbouereerd kyk sy op. ’n Paar bruin oë glimlag af na haar. Sy raak stil. Elektrisiteit kraak in die lug. Hy los haar arms. Haar asem raak weg, die lug om hulle is roerloos.

Voor haar staan die aantreklikste man wat sy nog ooit gesien het. Die hysbak gaan geruisloos agter hom toe. Hy moes uitgestap het terwyl sy haar frustrasie op die vloer uitgehaal het. Hy is ’n mengsel van Brad Pitt, die Camel Man en . . .

Sy sug amper. Nee, niemand anders lyk regtig soos hy nie.

Haar oë gly oor hom. Sy bruin hare is lank, agteroor gekam en krul laag af in sy nek. Sy stoppelbaard is ’n dag oud, as sy moet raai. Maar dis sy gespierde boarms en bolyf waarnatoe haar oë bly dwaal. Onder die spierwit hemp wat hy aanhet, beweeg sy boarmspiere. Gefassineerd hou sy hulle dop.

“Dink jy jy is nou ontslae van al jou frustrasie?” vra die man geamuseerd en Amelie voel hoe ’n gloed oor haar gesig versprei.

“Dit lyk asof jy baie ingehoue aggressie in jou het,” sê hy kamma ernstig, maar die duiweltjies dans in sy oë.

Amelie vervies haar vir die groot vent. Geïrriteerd tree sy terug en lig haar ken. “Jy is in my pad,” grom sy en stap verby hom, haar kop in die lug.

Agter haar lag hy. “Wil jy nie jou voet net weer so stamp soos netnou nie? Ek het nog net my suster se tweejarige dit sien doen. Dit lyk heeltemal anders wanneer ’n sexy vrou dit doen.”

Amelie steek in haar spore vas. Sonder om om te draai, tel sy tot by tien soos haar jare in die weeshuis haar geleer het wanneer sy kwaad wil raak. Eers toe sy by tien kom, draai sy om en glimlag. Wel, oukei, sy probeer glimlag.

“Tot siens, meneer . . .”

Hy glimlag en steek sy hand uit. “Chris. Chris Meyer.”

Liefde in laslap_voorblad

Uit: Liefde in laslap

 

’n Motor hou voor haar huis stil, en sy gryp haar sak en voordeursleutels. Sy storm voordeur toe, maak die deur oop en onthou van die poeding wat sy gemaak het. Sy draf

weer terug kombuis toe. Amelie wil nooit hê sy moet iets saambring nie, maar sy moes iets doen om haar nag om te kry. Teen drie-uur vanoggend het poeding maak na ’n goeie

idee geklink.

“Ek kom, ek kom,” roep sy vir Amelie toe sy voetstappe in die gang hoor. “Ek kry net gou die poeding.”

Sy sit die bak in ’n mandjie en draai deur toe. “Jy sal nooit raai wie gister by my opgedaag . . .”

Haar woorde droog op. Dis nie Amelie nie, maar Neethling wat nadergestap kom. En sjoe. Haar hart gaan vrolik aan die huppel. Hy het jeans aan met ’n ligte wit langmoutrui

en lyk ongelooflik, onbehoorlik, onregverdig sexy.

“Waar is Amelie?” vra sy, sommer ergerlik. Sy is nie voorbereid om die vent nou al te sien nie. Sy sou nog die hele ent na Amelie en Chris se huis tyd hê om haar in te stel om hom weer te sien. En nou is hy hier!

“Goeiemôre, Natalie. Chris het gevra of ek jou sal oplaai, hy het Amelie laat laat slaap vanoggend, en nou is sy in ’n flat spin,” sê hy ewe rustig.

Natalie voel dadelik sleg. Sy weet Amelie word tydens haar swangerskap maar gou moeg en gister se rondlopery het sekerlik sy tol geëis. Sy moes seker gemaak het hulle kom vroeër terug.

“Dit was nie nodig om my te kom oplaai nie, ek het vir haar gesê dis julle familiedag, ek hoef nie ook daar te wees nie. Chris kon maar net laat weet het.”

“En sy vrou ongelukkig maak? Dan ken jy nog nie my broer nie. Jy is Amelie se familie, daarom is jy ons almal se . . . wel, Chris se familie ook,” sê hy en vat die mandjie by haar.

Natalie trek aan haar hare wat oor haar skouer hang. Sy sien nie kans om saam met die man in ’n motor te klim nie. Regtig nie.

“Kom,” sê hy en begin voordeur toe stap. “Hulle wag vir ons.”

Neethling stap vinnig by die voordeur uit. Familie, hel. Wat met hom gebeur naby dié vroumens het niks met familie te doen nie. Allesbehalwe.

Vandag het sy ’n gestreepte, lang romp aan. Hoewel dit haar lang bene wegsteek, weet hy presies hoe elke sentimeter van hulle lyk. Die groen toppie wat sy daarby aanhet, vou sag om haar bolyf en laat haar oë soos smaragde blink. Anders as gewoonlik, is haar hare vandag los, en sy vingers jeuk om daaraan te raak. Bliksem. Dit gaan ’n baie lang dag wees.

Hy maak vir haar die motordeur oop, wag dat sy inklim en dis eers toe hy omstap na die bestuurderskant dat hy onthou hoe klein die ruimte in die sportmotor van hom is.

Teen die tyd dat hy in die hoofpad glip, is hy deurtrek met haar geur. Hy draai sy venster halfpad oop, maar dit help nie. Hy trap die petrolpedaal in. Sy gryp die sitplek vas, en met ’n onderlangse swets lig hy weer sy voet.

Dis doodstil die hele ent pad tot voor Chris en Amelie se huis, maar dis asof hulle op ’n ander vlak kommunikeer. Hy weet sy is net so ongemaklik soos hy; hy weet sy is onrustig oor wat sy voel; hy is bewus van elke asemteug dat sy neem, elke beweging wat sy maak.

Teen die tyd dat hulle stilhou, is sy enigste drang om haar nader te trek, sy vingers deur haar hare te trek en te proe of sy so soet proe soos wat hy dink, of haar lippe so sag is soos wat hulle lyk . . .

Natalie spring vinnig uit en stap aan voordeur toe nog voordat hy sy hande van die stuurwiel afhaal. Hy staar haar agterna en skud sy kop terwyl hy uitklim.

Een ding is in elk geval nou kristalhelder – ’n jaar in ’n ander land het nie gehelp om hom van Natalie te laat vergeet nie. Dis tyd om ’n ander alternatief te oorweeg om haar uit sy gestel te kry.

Vind meer uit oor Liefde deur ‘n lens 

9780624076018---Liefde-deur-`n-lens-covElsa Winckler

Koop dit nou! TakealotBargain Books | CNA | Graffiti | Raru| Amazon Kindle

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s