Uittreksel: Wat die hart begeer deur Amelia Strydom

Wat die hart begeer, Amelia Strydom se jongste Satyn-liefdesverhaal, speel af in die skilderagtige ruimte van Noetzie naby Knysna. Lees ’n lekker uittreksel waar Mienke Langeveldt die kastele in Noetzie vir die eerste keer sien . . . terwyl sy in Franco Greeff se arms is:  

Wat-die-hart-begeer-cov_finalHulle stap in stilte see toe. ’n Houtbruggie lei oor ’n strook rotse tot op die privaat strand. Toe haar voetsole in die sand wegsak, vloei die spanning uit Mienke. Vitamien See. Beter as enige chill-pil, selfs op ’n grou en mistige oggend.

“Ons haal jou band af,” sê Franco vir Kaptein, “ma’ jy gaan nie huis toe nie, verstaan?”

Sy rol haar broekspype op en drentel vooruit. Miskien kry hy die boodskap dat sy eerder alleen wil wees met haar chaotiese gedagtes. Net duskant die soom van die water val hy egter weer langs haar in. Hulle stap tot waar skuimborrels in die blink sand oopbars.

Toe die eerste golfie oor haar tone kabbel, moet sy haar verrassing deel: “Haai, dis warm.”

“Sal dit nou nie warm noem nie, maar dit ís darem die Indiese Oseaan. Moenie skrik vir die weer nie, ons swem somer en winter in die riviermond.”

“Gaan jy my wys waar?”

“Sure. Mens kan daarso oor die rotse klim, maar die paadjie is makliker vir Kaptein.”

Hulle stap terug oor die bruggie. Af met die voetpad wat sy vanuit haar kamer gesien het, tussen boomvarings en oorhangende takke deur. Die lug ruik na klam grond en verrottende plantmateriaal.

Die hoofstrand is groter as wat sy verwag het, hoewel die grense in die mis vervaag.

“Gety is ver terug.” Franco buk om ’n stok op te tel, en slinger dit water se kant toe. “Hei, Kaptein, gaan haal!” Die brak kyk anderpad. “Pft, patetiese verskoning vir ’n hond.”

“Lekker jok jy nou, jy sal hom nie verruil nie. Wanneer ek teruggaan Pretoria toe, gaan ek vir my ook ’n boelhond kry.” As voorsorgmaatreël teen allenigheid, net ingeval sy ’n raps té geheg aan Bellavista se inwoners raak.

“Huistoegaan-praatjies? Ek moes laas nag luister na Audrey se planne met jou en jou silwer nail polish.”

“Ek dink maar net vooruit.”

“’n Girl vir reëls én langtermynbeplanning.”

Presies hoekom verstaan sy nie, maar sy aanmerking het die effek van ’n vuurhoutjie by ’n gasvlam.

“En dis ’n helse karakterfout?” ontplof sy voor sy haar kan bedink.

“Whoa.” Hy lig sy palms verskonend, maar sy kan die stortvloed woorde nie stuit nie.

“Mense verskil, oukei? Omstandighede verskil. Wie’s jy om my te kritiseer, net omdat ek nie drink of . . . op motorfietse rondjaag nie? Beteken nie ek het nie ’n lewe nie.”

“Sorry, man, het dit geklink of ek judge?”

Sy druk haar skouers agtertoe en loop weg. Kaptein probeer hygend bybly. “Voertsek,” brom sy. “Gaan na jou baas toe.”

“Sy baas is ’n idioot,” sê Franco ’n kortkop agter haar. “Met verroeste social skills.”

“Eerste helfte klink reg, die tweede veronderstel dat jy in ’n stadium skills gehad het.”

Sy gee ’n ekstra lang tree en haar voet tref ’n halfversteekte klip. Vir ’n millisekonde voel sy niks nie, dan skiet die pyn deur haar groottoon.

“Eina, bliksem,” kners sy.

“Ag, Mienke.” Hy klink selfs jammerder vir haar as wat sy vir haarself is. “Staan stil dat ek sien.”

“Ek’s fine.” Vernedering brand agter haar ooglede.

“Kom sit jou voet in die water.” Sy palm rus tussen haar skouerblaaie. “Kan jy loop?”

“Ek het my toon gestamp, nie my been gebreek nie.” Sy hobbel skaars twee meter voor hy haar van haar voete af swaai.

Bliksem kwadraat.

“Sit. My. Neer.” Dit verg elke greintjie selfbeheersing om haar woorde eerder as haar tande te gebruik. “Ek’s nie ’n kind nie.”

“Hm, so’t ek agtergekom.”

“Hou dan op om my soos een te behandel. Dit irriteer die –”

“Wit waks uit jou uit? Jy’s hard op die ego, wee’ jy? It sucks wanneer ’n ou ’n mooi meisie wil impress en sy sien dit nie eens raak nie.”

Dink hy die heuningkwas gaan haar sag maak?

“Jammer, hoe onoplettend van my.” Sy knipper haar wimpers en knyp sy boarm geniepsig. “Wow, Franco, jy’s so sterk. Jy speel seker rugby, al die posisies.”

Hy lag en hou haar stywer vas. “Sê dit weer, hierdie keer met gevoel.”

Wat krul haar lippe so? Is dit tog nie ’n glimlag nie? Waar’s haar wilskrag? Hy is Verbode Terrein.

“Woorde vergeet?” treiter hy. “Happens to the best of us. Herhaal agter my aan: Wow, Franco, jy’s –”

“In jou drome.”

“Issit?”

Hy vang haar met ’n slappe: Struikel kastig, maak of hy haar gaan laat val. En sy, mamparra wat sy is, doen presies wat hy gehoop het. Sy gryp hom om die nek en klou om lewe en dood.

“Dis meer oortuigend.”

“Nee, refleks.” Sy verslap haar wurggreep, maar hou haar arms om sy nek. Oorlewingsinstink, maak sy haar wys. “Watse ompaaie loop jy? Ons kon al tot by die see en terug gewees het.”

“Riviermond is kouer. Ma’ kyk gou eers.” Die gesig van die twee kastele teen die bult steel haar asem. Mis versag die klipgeboue se strak lyne; dis asof hulle in ’n waterverfskildery ingeloop het.

“O, ek wens ek het my kamera gebring. Die wasigheid is . . . magic.”

Wil jy verder lees? Koop die boek nou deur op een van die skakels hier onder te kliek: 

Koop dit nou! Takealot | Kobo e-boekLoot | Bargain Books | Graffiti | Exclusive BooksRaru | Amazon Kindle

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s