Een van ons gewilde liefdesverhaalskrywers, Amelia Strydom, het ’n paar van ons vrae beantwoord:

amelia_atkv
Amelia Strydom
  1. Het jy enige skryfrituele? Iets wat jy moet doen om lekker aan die skryf te raak?

Ja, ek skryf altyd eers minstens drie bladsye met die hand voor ek my rekenaar aanskakel. Ek dink nie oor wat ek skryf nie – ek laat die woorde eenvoudig vanuit my gedagtes tot op die bladsy vloei. Gewoonlik lees ek nie weer hierdie “freewriting” nie – baie daarvan is ’n gekla oor hoe min tyd ek het om te skryf of oor hoe ek sukkel met die storie. Dikwels kry ek egter my beste idees vir stories tydens hierdie proses. Dis ook waar ek probleme met die storie oplos. Ek dink beter op papier. Koffie is ook ’n onontbeerlike deel van my proses!

  1. Wat maak ‘n liefdesverhaal suksesvol?

As ’n liefdesverhaalleser dink ek ’n verhaal is suksesvol wanneer die skrywer my laat wonder oor die einde. Ek weet die held en heldin gaan by mekaar uitkom – ek weet hulle gaan hul struikelblokke oorbrug om hul happily-ever-after te realiseer – maar die konflik tussen hulle is so groot dat ek nietemin naels kou. Sê nou dit gebeur hierdie keer nie? Nog ’n belangrike faktor vir my is die held: raak ek saam met die heldin op hom verlief? Word hy vir my ’n vlees-en-bloed man – iemand met foute maar veral met integriteit en karakter? ’n Skrywer het eenmaal op ’n Romance Writers of America praatjie gesê: “It’s all about the boy”. Ware woorde, dink ek. Die heldin is natuurlik ook belangrik, ek wil met haar identifiseer en deur haar die opwinding van nuwe liefde beleef.

  1. Waarom skryf jy liefdesverhale?

Eerstens omdat ek graag liefdesverhale lees. Tweedens omdat dit lekker is: ek as skrywer raak (net soos die leser), verlief op die held. Hy laat my hart vinniger klop en skoenlappers in my maag rondfladder. Om oor die liefde te skryf, maak my gelukkig. Dis ook bevredigend om te voel my stories maak ander gelukkig: ek wil graag vreugde en stresverligting tussen die bladsye van my boek vasvang. Ek het onlangs ’n Afrikaanse sanger gesien met die woorde “Happiness Dealer” op sy T-hemp. Dis ’n raak opsomming van wat liefdesverhaalskrywers doen! Derdens is liefdesverhale ’n uitdagende genre om oortuigend te skryf. Die liefdesverhaalleser is ontsettend belese: hoe gaan ek vir haar iets nuuts gee binne die perke van ’n vaste woordtelling en ’n voorafbepaalde gelukkige einde? Maklik is dit nie en ek het nog altyd van uitdagings gehou.

Middernagmusiek

Lees ’n lekker uittreksel uit My redder, my beminde deur Malene Breytenbach

“Jy het ’n besoeker, juffrou Morgan. Hy kan glo nie ’n ander tyd kom kuier nie.”
“Wie is dit?”
“Dit is dokter Beresford.”
“Ek lyk seker ellendig.” Sy vat aan haar hare en vee slaap uit haar oë.

9780624074618---My-redder-my-beminde-cov

’n Besonder lang man kom by die deur in. Hy kan maklik ’n kop langer as sy wees, skat sy, met breë, hoekige skouers en ’n lenige lyf in ’n netjiese blou baadjie en grys broek. ’n Spierwit hemp steek teen sy soel vel af.
“Good morning, Miss Morgan,” groet hy. Diep, strelende stem.
“Good morning . . . Doctor Beresford.” Sy staar in verwondering na hom. Die man is oorweldigend. Hemel, sy is mos gewoond aan baie mooi mans. Vir wat boul hy haar so uit? Ruk jou reg, Adela, betig sy haarself. Hy kom staan langs die bed en kyk af na haar, donker oë ondersoekend. Intelligente oë, omraam deur swart wimpers, onder pikswart wenkbroue. Sy baard veroorsaak ’n ligte skadu onder sy vel.
“Ek is die man wat op die perd was wat julle amper omgery het. Ek moet darem byvoeg: Ek gaan ry gereeld perd op daardie pad en dit is die eerste keer dat ’n motor teen so ’n hoë spoed daar aangejaag gekom het.”
Dan is dit hý? Sy kyk skuldig na hom: “Gary hét te vining gery . . .”
“Die beroemde Gary Manning. Ja, hy het gans te vining gejaag. Op daardie pad in ’n landelike gebied is die spoedgrens hoogstens veertig kilometer per uur. Daar is dikwels skape, ruiters of plaasvoertuie in die omtrek.”
“Ek is jammer oor alles.”
“Jammer? Die ongeluk was mos nie jou skuld nie. Ek het niks ernstigs oorgehou nie en my perd het nie seergekry nie. Ek is jammer vir jou, want jy is sleg beseer.”
“Die verpleegster het gesê jy is ’n dokter . . .” Sy frons.
“Ek is die eienaar van Rigby Clinic,” sê hy. “My vennoot is Peter Baird. Ons is albei immigrante van Suid-Afrika, nes jy.”

James kyk na die vrou wat klein en verwese voor hom in die bed sit, met haar beseerde enkel en pols en veral die wonddekking wat die sny toemaak wat haar wang oopgekloof het. Groot, troebel grys oë met lang wimpers kyk op na hom. Sy laat hom aan ’n gekweste diertjie dink, soos die katjie wat met ’n seer poot by sy huis aangekom het en wat hy reggedokter het.
Wat hom ook tref, is dat sy werklik ’n natuurlike skoonheid is. Hy weet maar te goed watter hulpmiddels vroue alles gebruik om mooi te vertoon. Hier sit sy gewond, sonder enige mooimaakgoed, en haar vel is steeds vlekloos, en wat van haar gesig uitsteek, wys ongetwyfeld waarom sy ’n gesogte aktrise is.
Hy volg haar loopbaan al ’n geruime tyd vandat hy haar in Suid-Afrika gesien optree het. Talentvol en pragtig. Dis geen wonder sy het so vinnig opgang – eers in Suid-Afrika en later in Engeland – gemaak nie. Hy het haar in die rol van Juliet in Romeo and Juliet, as Ygraine in Pendragon en as Ariel in The Tempest gesien.
Maar kyk hoe lyk sy nou. Getraumatiseer en in haar vaart gestuit. En dit is deels sy skuld.
Sy maak ’n vreemde gevoel in hom wakker. Teerheid, jammerte . . . maar ook iets anders.
Soveel beroemde, mooi en ydel mense het al onder sy hande deurgeloop. Van sommige het hy gehou, ander het hy verduur, en nog ander het hom genoop om net met inspanning vriendelik te wees. Van filmsterre en hul grille kan hy jou heelwat vertel, en daarom is hy versigtig om nooit by enigeen betrokke te raak nie.
Hierdie gekweste katjie is ’n aktrise van formaat, ’n glanspersoonlikheid. Een wat te veel aandag trek en publisiteit kry. Wat gedurig deur fotograwe gepla word. Oor wie daar geskinder word. ’n Bron van nuus.
Dit is die héél laaste soort vrou by wie hy romanties betrokke wil raak. Tog, as hy na haar kyk, vermurwe sy hart. Gebeur iets in sy lyf wat hy laas by Susannah ervaar het.
Hy kug. “Ek en Peter het eers ’n kliniek op Somerset-Wes gehad, maar is nou hier in Oxfordshire. Ons het albei aan Stellenbosch gestudeer. Peter het ’n ruk lank in Engeland gewerk, maar toe gaan hy terug na Stellenbosch en swot anestesiologie. Nou is hy die narkotiseur by Rigby Clinic. Verskeie Suid-Afrikaners werk vir ons.”
Adela kyk verstom na hom. “Regtig? My broer, Vernon Morgan, het ook geneeskunde aan Stellenbosch gestudeer. Ken jy hom dalk?”
“Ja, ek onthou vir Vernon Morgan.” Hy haal ’n pamflet uit sy sak en gee dit vir haar. “Kyk hierna.”
Adela kyk na die foto waarop ’n herehuis van grys klip met talryke vensters en skoorstene soos Lynley Hall pryk. Daar is ’n bord wat Rigby Clinic aandui.
“Dit lyk baie mooi.”
“Ek is nie bloot hier om jou te kom ontmoet nie,” sê hy. “Ek is ’n plastiese chirurg. As jy na my kliniek kom, sal ek my bes doen om jou te laat lyk soos voorheen. Ek sal dit gratis doen omdat ek deels die ongeluk veroorsaak het.”

Adela kan haar ore nie glo nie.

Koop die boek:
Takealot
Exclusive Books
Graffiti Boeke
Raru