Elza Rademeyer gesels oor Tweede kans op liefde

Elza Rademeyer is die skrywer van ons Maart boek van die maand. Ons het met haar gesels oor Tweede kans op liefde:

1. Mynhard en Tessa is gewone mense. Nie een van die twee is te ryk of te mooi nie. Het jy uit die staanspoor besluit dat jou held en heldin meer “normaal” moet wees?

“Die eerste vraag is maklik om te beantwoord. Ek is ʼn gewone mens, so dis maar hoekom my karakters gewone mense is. Ek moet my met hulle kan vereenselwig. Wat die ‘looks’ betref: Is dit nie maar jou karakter wat van jou ʼn mooi of lelike mens maak nie? Die uiterlike is vir my van minder belang, maar die leser wil darem ook nie hê jou hoofkarakters moet onaansienlik wees nie! So ek tooi hulle maar so ʼn bietjie op. Eintlik kry my karakters maar so na gelang van die storie se verloop eers gestalte. Ek het self nie ʼn idee hoe hulle gaan lyk wanneer ek begin skryf nie. (Seker oor ek nooit vooraf ʼn opsomming maak nie. Ook nie vooraf weet hoe my storie gaan ontplooi om ʼn gelukkige einde te hê nie. Al wat ek weet, is dat daar ʼn man en meisie moet wees wat mekaar na vele wedervaringe vind.)”

2. Die plaas Koppie-alleen bestaan nie werklik nie, of hoe? Is dit vir jou makliker of is dit ’n groter uitdaging om oor ’n plek soos dit te skryf?

“Ek weet van ʼn plaas met die naam Koppie-alleen, maar die enigste ooreenkoms tussen hom en die plaas van my boek, is die naam. Die plaas in my boek, is meer geskoei op die plaas waarop ek grootgeword het. Dit is ook wat dit vir my makliker maak, as om bv. oor ʼn dorp of stad te skryf wat ek nie ken nie.”

3. Magriet Nel, een van die karakters, is ’n mislike mens. Minette is ’n baie aangename mens. Hoe besluit jy watter tipe karakters by jou storie betrek gaan word?

“Al die karakters in ʼn storie kan nie net aangenaam of net mislik wees nie. Dit sal te eentonig wees. Ek besluit ook nie vooraf oor hulle nie, ek tel hulle maar op wanneer hulle op my storie-pad verskyn, en besluit dan watter rol hulle gaan speel. Meesal om humor in te bring. ʼn Storie sonder humor is vir my soos koek sonder ‘icing’.”

4. Dink jy ’n mens kan vinnig weet of iemand ’n goeie lewensmaat sal wees? Of moet jy juis so lank as moontlik die kat uit die boom kyk?

“Ek het eerstehandse kennis van liefde met die eerste oogopslag. Ek en my man het mekaar 3 maande geken, toe raak ons verloof, en 3 maande later is ons getroud. Mekaar ook nie eens elke dag gesien nie, net naweke. Dis nou 53 jaar later en ons is steeds gelukkig getroud. Maar nou weet ek ook enigeen kan ʼn oordeelsfout begaan, soos Tessa. So ek dink dis belangrik dat verliefdes mekaar se ouers en vriende ontmoet. Dit, meer as enigiets anders gaan jou vertel met wie jy te doen het.”

Koop die boek nou by jou naaste Bargain Books of aanlyn by:
Takealot
Raru
Loot
MySubs (digitaal)
Amazon Kindle (digitaal)

Januarie boek van die maand: Waar liefde begin deur Schalkie van Wyk

Waar liefde begin deur Schalkie van Wyk is ons Januarie boek van die maand:

Lani Taljaard en haar beste vriendin besluit dis tyd om op hul eie voete te staan. Hulle is jong, gekwalifiseerde joernaliste en benodig lewenservaring en genoeg geld om die pot aan die kook te hou. Die skilderagtige kusdorpie Silwersee is net die regte plek om dit te doen.

Lani wens haarself nou al jare lank geluk omdat geen man nog daarin kon slag om haar gedissiplineerde emosies te versteur nie. Dokter Jan-Erik van Eeden met sy onbetwisbare selfversekerdheid is egter die oorsaak van onbekende sensasies. Dié donkerkopman met die silwergrys oë laat haar siel nie met rus nie en Lani hou nie daarvan om nie in beheer te voel nie.

Hoekom beveel tant Marcia boonop vir Lani om nie vir haar ma van Jan-Erik se teenwoordigheid te vertel nie? Wat het jare gelede tussen die Van Eedens en die Taljaards skeefgeloop?

Koop dit nou! Takealot (digitaal) | Raru | Loot | MySubs (digitaal) | Amazon Kindle (digitaal)

Oor die skrywer:

Schalkie van Wyk woon in Johannesburg. Toe sy laas getel het, het daar reeds oor die honderd liefdesverhale uit haar pen verskyn.

Februarie boek van die maand: Vlug na Santorini deur Malene Breytenbach

Vlug na Santorini deur Malene Breytenbach is ons Februarie boek van die maand. Lees hier meer oor dié boek:

Na ’n traumatiese voorval met haar eks, verlang Erika na ’n ver plek waar mense haar veilig sal laat voel. Sy besluit om rus vir haar siel te gaan soek by haar familie op Santorini.
Sy’t skaars haar voete op die eiland gesit toe sy hom sien: ’n Griekse god met ’n lenige lyf, breë skouers en donker oë. Hy is die mooiste man wat sy nog in lewende lywe gesien het, en hy straal manlikheid uit.
Paul Michelakis is die kroonprins van die Atlantis-fortuin. Dit gaan egter meer as geld en die vooruitsig op ’n volmaakte toekoms verg om Erika se liefde en vertroue te wen, want sy is nou half bang vir mans. Boonop gaan Cristina Vassiliou en dié se ryk familie ook nie sommer terugstaan vir ’n onbekende blondine nie.

Koop dit nou! Takealot (digitaal) | Raru | Loot | MySubs (digitaal) | Amazon Kindle

Oor die skrywer:

Dr Malene Breytenbach het drie meestersgrade asook ’n doktorsgraad in joernalistiek. Sy en haar man woon op Stellenbosch. Malene het verskeie liefdesverhale op haar kerfstok, sowel as die gewilde romans Gister is ’n ver landPluimprinse en Bloedgrond.

‘n Uittreksel van Waar liefde begin deur Schalkie van Wyk

Lees hierdie eksklusiewe uittreksel van Waar liefde begin deur Schalkie van Wyk ─ Januarie se boek van die maand:

“Voert-voertsek, duif!” skel sy uitasem. “Ek wed die simpel duif se naam is Ursula, en jou alsiende ma het die ding gestuur om my skyfies te probeer vertrap omdat sy weet lekker slap skyfies maak vet.”
Die voorbarige duif op haar kop ignoreer haar swaaiende hande. “Vervlaks, Lani, doen iets! Die duiwe omsingel my. Hoekom het jy nie vir ons ’n tafeltjie binne-in die restaurant gekry nie? Gee jy nie om dat die duiwe in jou duur bord kos wei nie?”
“Wei duiwe dan soos koeie, of . . .?”
Lani sien hom anderkant die tafeltjies staan, lank en lenig, breed geskouer met smal heupe, die spiere sigbaar op songebruinde arms. Vlinders fladder in haar maag. Haar hart ruk in haar bors. Haar asem stol op haar lippe. Wat ’n man! Onopsigtelik probeer sy om haar asemhaling te reguleer.
Hy is definitief nie net ’n mooi man nie; hy is waarskynlik die aantreklikste man wat sy al ooit gesien het. Onweerstaanbaar aantreklik, besluit sy. Sy digte, swart hare is effens te lank en windverwaaid, en vee oor die kraag van sy ligblou gholfhemp; sy sonbrons gesig vorm ’n skerp kontras met die silwergrys oë, omraam deur lang, swart wimpers. Sy neus is smal en reguit en sy hoë wangbene en sterk kakebeen skep die indruk van innerlike krag.
Sy lippe het die gebeitelde lyne van ’n kunswerk, dink sy, lus om hom liggies op die mond te soen.
So oorweldig is sy deur sy manlike voorkoms en die onbetwisbare selfversekerheid wat hy uitstraal dat dit enkele sekondes duur voordat sy besef hy hou haar dop.
“Lani . . .! Verdeksels, help my! Kan jy nie sien die duiwe vergryp hulle hier aan my kos nie?”
Lani kyk na die ontstoke Danika sonder om haar raak te sien en sê werktuiglik: “Oom Awie kon ons nie ontmoet nie, maar hy het die man gestuur wat nou tussen die tafeltjies deur na ons toe aangestap kom. Ek dink dit is hy dié, die regte man.”
Die donker man bly vlak langs Lani staan, steek sy hand uit en stel homself voor: “Ek is Jan-Erik van Eeden. Oom Awie Badenhorst het my gevra om die mooiste meisie in die stad saam met my huis toe te bring. Hallo, Lani Taljaard. Ek wonder net: Hoe kon jy so gou al besluit het ek is die regte man vir jou?”

Dank die hemel sy het tydens haar studentejare oorgenoeg selfversekerde mans ontmoet wat haar met vleitaal en slimpraatjies probeer oorrompel het. Lani betrag Jan-Erik en vra koel: “Skort iets met jou gehoor, Jan-Erik? Ek het gesê jy is die regte man – jy is die man wat deur oom Awie gestuur is, want jy lyk soos ’n gebore dorpenaar.”
“As ek soos ’n plaasjapie lyk . . .” Jan-Erik stoot sy vingers deur sy windverwaaide kuif en voel-voel aan die donker baardstoppels aan sy kake en ken. “Ek vra om verskoning, maar oom Awie se versoek was so onverwags dat daar nie tyd was om te skeer of ’n snyerspak aan te trek nie. En die suidooster was natuurlik in my hare.” ’n Glimlag plooi om sy lippe en versprei na sy staalgrys oë. “Gaan jy my nou met die hand groet of is dit iets wat net ons plaasjapies doen?”
“Ag, jammer, Jan-Erik. Ek dag jy hou jou hand uit met die hoop Danika deel haar skyfies met jou.” Sy steek haar hand uit en snak amper hardop na haar asem. Die aanraking stuur stuwende opwinding deur haar, warm en aangenaam en terselfdertyd verwarrend. Iets vreemds gebeur, besef sy, bewus van haar versnelde hartklop, die onbekende flikkering in haar maag, die wyse waarop haar hand tintel toe sy groot hand om hare sluit.
Sy, Lani Taljaard, wens haarself jare lank al geluk omdat geen man nog daarin kon slaag om haar gedissiplineerde emosies te versteur nie, maar Jan-Erik van Eeden is die bron van onbekend erotiese sensasies in haar, erken sy onthuts aan haarself.
Daar moet ’n wet wees teen mans wat so onweerstaanbaar sexy lyk.
Sy kyk op en verdrink dadelik in sy oë. ’n Sweem van ’n glimlag pluk aan sy mondhoeke. Wat ’n pragtige mond! Sy het nooit besef mans kan ook mooi lippe hê nie. Om net na hom te kyk, is pure sensuele genot, soos om ’n sappige, soet vrug te eet.
Die begeerte oorweldig haar byna om met haar vingers oor sy onderlip te streel en die tekstuur van sy vel te ontdek. Sy wil sy speelse glimlag deel maak van haar. Terselfdertyd vou ongelooflike warmte haar soos ’n kombers toe.

Om meer te lees … Kry jou kopie by Bargain Books SA of koop dit aanlyn:
Takealot (digitaal): http://bit.ly/2DqaapC
Raru: http://bit.ly/2mLWxaC
Loot: http://bit.ly/2mEvMEh
MySubs (digitaal): http://bit.ly/2DhQvsn
Amazon Kindle (digitaal): http://amzn.to/2reTrk3

Nuut: Helene de Kock Keur 2

“Strome water kan die liefde nie blus nie, riviere kan dit nie afkoel nie.”

Hierdie drie liefdesverhale sluit by mekaar aan, en bevestig opnuut Helene de Kock se fyn vermoë om ingewikkelde persoonlike verhoudings oop te skryf.

Man van kaliber is die verhaal van Jessica en haar uiteindelike ontdekking dat ’n mens se onvolmaaktheid juis sy menslikheid openbaar. Sy ontmoet vir Karel en Kiewiet, sien weer haar ou liefde, Daniël. Maar watter een het werklik “kaliber”?

In Vrou van formaat is Danika vies vir mans: ’n vrou moet modelmooi wees of sy is niks in hul oë nie. Van kleins af stry sy teen dié onregverdigheid. En sedert daardie traumatiese aand in Frankryk, het “mooi” vir haar finaal ’n vloekwoord geword!

Mense van faam gaan oor tweelingsusters. Debora, die koel advokaat, reken die Mynhards is net ’n klomp snobs. Die sprankelende Diana wil egter graag deel word van dié wynboer-clan, en Debora word teen haar wil ook ingetrek. Maar sy besef vinnig dat daar meer agter dié familie skuil as slegs ’n naam.

Koop dit nou! Raru | Takealot | MySubs (digitaal) | CNA | Amazon Kindle | Van Schaik | Graffiti 

Oor die skrywer:

Helene de Kock het aan die Rand grootgeword, aan die Universiteite van Pretoria en Noordwes gestudeer, en aan verskeie konservatoria onderrig in sang ontvang. Helene het ’n PhD in skryfkuns. Sy skryf voltyds en woon in Pretoria. Daar het reeds talle romans uit haar pen verskyn.

Nuut: Schalkie van Wyk Keur 14

Schalkie van Wyk Keur 14 bevat twee lieflike romantiese verhale deur een van ons land se mees bedrewe skrywers:

Beminde vreemdeling: Wiandri Rosseau is pas gekwalifiseer as hospitaalsuster. Sy keer terug na haar geliefde plattelandse Huis Groeneweide, waar haar bejaarde tant Lerina en dié se geliefde huishoudster, tant Grietjie, haar gretig inwag. Die stroewe nutsman Floors bly ook nou op Groeneweide. Wiandri se peetma staan egter uiters wantrouig teenoor Floors. Waarom dink Christelle Floors is so gevaarlik? Wie ís hy nou eintlik?

Ruiter van my drome: Zandri was sewe jaar lank weg van Wyedraai. Die dorpie gons nou behoorlik: Hier kom sy aangery in ’n gekrokte viertrekvoertuig, en ’n gesiene familie van die dorp het haar in Londen aangetref met ’n kind . . . háár kind buite die eg, het sy kwansuis vir hulle gesê. Ou vriende kyk Zandri nou met afkeer aan en Ferdinand, haar tienerliefde, het baie verander. Kan sy hoop om mee te ding met die vrou uit sy verlede, die een wat volgens sy tant Ragie Ferdinand se hart gebreek het en hom vir ander vroue ruïneer het? En wat tog van die kind?

Koop dit nou! Takealot | CNA | Raru | Van Schaik | Graffiti | MySubs (digitaal)

Oor die skrywer:

Schalkie van Wyk woon in Johannesburg. Toe sy laas getel het, het daar reeds oor die honderd liefdesverhale uit haar pen verskyn.

November boek van die maand: Geliefde heler deur Malene Breytenbach

Geliefde heler deur Malene Breytenbach is on November boek van die maand:

Die briljante chirurg Geert Bouwman kom vir ’n paar maande op Stellenbosch locum. Maar die Nederlander is nie ’n maklike mens nie en teatersuster Naomi Roux is nie op haar mond geval wanneer sy dink dat iemand onredelik optree nie.

Dis ook nie haar verantwoordelikheid om na hom om te sien terwyl hy in sy tante se huis woon nie. Sy huur tog net die woonstel en ateljee by tant Merel. Hy’t tog gekies om sy ouers en moeilike verloofde saam te bring. Boonop het ondervinding haar allergies gemaak vir sulke gevaarlik aantreklike mans soos Geert Bouwman.

Naomi is uiters versigtig ná die seer wat sy moes oorkom toe haar verhouding met Charl op die rotse beland het. Maar Geert en Naomi is gedurig in mekaar se geselskap en hulle werk goed saam. Hoe kan sy onbetrokke staan teenoor ’n man soos dokter Geert Bouwman? Boonop gooi die charismatiese kunstenaar David Schonfeld behoorlik sy flikkers vir Naomi en Geert se verloofde, Daphne, is gevaarlik jaloers en besitlik.

Koop dit nou! Takealot | Raru | Loot | MySubs (digitaal) | Amazon Kindle

Oor die skrywer:

Dr. Malene Breytenbach het drie meestersgrade, asook ’n doktorsgraad in joernalistiek. Sy en haar man woon op Stellenbosch. Malene skryf sedert 2009 heeltyds en het verskeie liefdesverhale op haar kerfstok, sowel as die gewilde romans Gister is ’n ver land, Pluimprinse en Bloedgrond.